proagri

Mediavrystelling: TLU SA nie beïndruk met President Ramaphosa se pleidooi aan wit jongmense nie

TLU SA is glad nie beïndruk met President Cyril Ramaphosa se pleidooi aan wit jongmense om in die land te bly nie. Tot dusver lewer hy net verkiesingspraatjies wat telkens aangepas word afhangende van die gehoor met wie hy praat.

TLU SA se Jongboere doen ‘n beroep op die President om gehoor te gee aan die kommer en vrese wat wit jongmense oor Suid-Afrika het.  

 

Pres Ramaphosa het - as deel van sy stemwerwing voor die verkiesing - ‘n versoek gerig aan jong, wit Suid-Afrikaners om nie die land te verlaat nie. Hy het gesê hy wil die groep, met hulle vaardighede in die land hê.

“Ons hoop dat hierdie woorde nie net leë verkiesingsbelofte is nie,” sê Mnr Ferdie Landman, die voorsitter van TLU SA Jongboere. “Ons wil dit ook duidelik maak dat ons, as wit jongmense, wél onwelkom en onveilig voel in die land.

“Daar is verskeie dinge wat ons bekommerd maak en groener weivelde buite die land laat oorweeg,” verduidelik hy.

TLU SA het ‘n petisie saamgestel wat bekommerde jongmense kan onderteken en wat dan aan Pres Ramaphosa gestuur sal word.

Hierin word die kommerpunte genoem waaroor die groep, en veral wit jongboere bekommerd is:

  1. Partye soos die BLF en EFF (insluitend hulle leiers) mag nie meer toegelaat word om te sê dat hulle witmense gaan vermoor of skade aandoen nie;
  2. Daar moet saamgewerk word om ‘n veilige omgewing te skep en daar moet teen plaasmoorde opgetree word;
  3. SEB-, kwotas- en transformasiebeleide moet geskrap word;
  4. Privaat besitreg en die vryemarkstelsel moet gerespekteer word en onteiening sonder vergoeding moet afgekeur word;
  5. Daar moet teen alle korrupte politici en staatsamptenare opgetree word;
  6. Droogtehulp moet aan alle boere – ondanks velkleur – beskikbaar gestel word;
  7. Die gehalte van ons water moet beskerm word;
  8. Ons elektrisiteitsvoorsiening moet stabiel wees sonder dat ons buitensporige tariewe daarvoor betaal; en
  9. Boere moet op meriete kan boer sonder vrees of veroordeling.

“Ons is hier gebore en ons is lief vir Suid-Afrika,” sê Mnr Landman. “Ons wil graag bly Mnr Ramaphosa, maar gee gehoor aan ons vrese, kommer en insette.”

Teken ons petisie (http://onswilbly.co.za/) en laat weet President Ramaphosa wat jou bekommernisse is.

Taal/Language