|
Grondbesit, eiendomsreg en onteiening |
|
|
|
|
Geskryf deur Administrator
|
|
Maandag, 01 September 2008 23:25 |
|
TLU SA onderskryf die uitgangspunt dat die mens beleef voorspoed in skeppende, produktiewe arbeid en privaat eiendomsbesit. Dié beginsel bevestig dat op die lange duur produktiewe werk volgens ons Christelike roeping as kommersiële landbouers, kennis, wysheid, verantwoordelike bestuur en privaatbesit van produksiemiddele, die basis is van die reg op eiendom. Eiendomsreg is die grondslag van ’n ekonomiese stelsel van ’n vrye ekonomie met beperkte staatsinmenging en wat groeiende ekonomiese omstandighede verseker. In die lig van hierdie beginsels staan TLU SA by die kommersiële boer vir die behoud van sy grond (plaas) en vir die bedryf van volhoubare landbouproduksie in ’n vrye ekonomie.
GRONDBESIT EN GRONDEISE.
TLU SA bevestig die beginsel dat almal die reg het om grond te mag besit. Die verkryging van grond is ’n ekonomiese proses van vrywillige verkoper en vrywillig koper en word deur bestaande markkragte gedryf. Die besit van grond vir landbou doeleindes is ’n gegewe en erkende reg en word so gehandhaaf. Enige wederregtelike eise of dwang om grond te bekom is volgens die beginsel van die vrye ekonomie onverantwoordelik en destabiliserend vir ’n groeiende kommersiële landbou sektor. TLU SA bly daarop ingestel om vanuit die beginsel van privaat eiendomsbesit die regte en belange van die kommersiële landbouer met beskikbare middele te bevorder en te beskerm. Waar grondeise die reg van privaat eiendomsbesit in die gedrang bring, onderneem TLU SA om met die nodige verantwoordelikheid wyses te vind om reg en billikheid te laat geld. Wederregtelike aansprake op kommersiële landbougronde word bekamp en word gesorg dat die proses van grondeise, AgriSEB en besit van landbougrond nie tot die nadeel van die kommersiële landbouer en volhoubare landbouproduksie sal wees nie.
GESKIEDENIS VAN EIENDOMSBESIT / GROND
TLU SA onderskryf die uitgangspunt dat die geskiedenis nie na willekeur gebeur of net oorsaak en gevolg is nie, maar dat dit deel is van ’n Goddelike voorsienigheid wat alles laat meewerk ten goede. Dié beginsel bevestig dat die historiese verloop van gebeure in die lewe van ’n kultuurvolk, wat vanuit sy verlede sekere gebeure ervaar het, die reg het om die geskiedenis vanuit ’n kultuurgebonde vertrekpunt te beskryf, opsoek na die waarheid en die bewese feitlikheid daarvan. In die lig hiervan bevestig TLU SA die standpunt dat die historiese bewyse op grondbesit, erfgoedere en volkereverhoudinge die grondslag lê vir die handhawing van ’n kultuurgemeenskap van vrye assosiasie, en die reg tot selfbestuur. TLU SA sal op grond van bewese bewyse die regte en eiendom van die kommersiële landbouer om veilig te kan boer, bevestig en beskerm.
Die geskiedenis vorm ’n verwysingsraamwerk wat nie net van historiese belang is nie, maar ook vir toekomsgerigtheid sorg. TLU SA aanvaar dat die geskiedenis tydig en akkuraat opgeteken is totdat die teendeel wetenskaplik bewys is. Daarom word hedendaagse subjektiewe vertolkings, wat bestaande raamwerke ter syde stel, verwerp as kwaadwillig.
|
|
LAST_UPDATED2 |