|
TLU SA is verheug oor die feit dat die boer van Petrusburg, mnr. Gerhard Venter, feitlik ongedeerd is na die daglange gyselaarsdrama naby Bloemfontein.
Mnr. Chris van Zyl, TLU SA se Adjunk-Hoofbestuurder: Dienste, het sy waardering uitgespreek oor die optrede van die polisie, wat die twee vermeende plaasaanvallers wat mnr. Venter in sy bakkie gevange gehou het, doodgeskiet het.
"Dit is nooit aangenaam om te verneem dat iemand dood is nie. Die reg op lewe word uiteraard erken. Maar met die geweldige koers van moorde onder die boeregemeenskap van die land, het dit tyd geword dat 'n duidelike boodskap aan plaasmoordenaars uitgestuur word, dat hulle terreurveldtog nie langer geduld sal word nie," sê mnr. Van Zyl.
Mnr. Van Zyl wys daarop dat die betrokke persone reeds kwaad gedoen het op 'n ander plaas, deur 'n weerlose bejaarde boer daar aan te rand, sy arm te breek en ander verwondings toe te dien, en toe sy wapen geroof het. "Niemand steel 'n vuurwapen as hy daar geen kwade bedoelings mee het nie, en hierdie booswigte het hierdie pas gesteelde wapen juis gebruik om mnr. Venter mee aan te hou en mee te dreig," sê mnr. Van Zyl.
"Ons hoop ander voornemende plaasaanvallers het kennis hiervan geneem, en dat hulle twee keer sal dink voordat hulle weer 'n boer sal wil aanval.
"Hierdie episode het ook gewys hoe belangrik gemeenskapsbetrokkenheid is, en wat kan gebeur as polisie en gemeenskap saamwerk."
Mnr. Van Zyl het weer eens 'n beroep op boere gedoen om gedurende die feestyd ekstra oplettend te wees, hulle waaksaamheid te verskerp, en dadelik aandag te gee as onbekende en vreemde elemente in die omgewing gewaar word.
|