pitkos header
Plaas press@tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
Mei 2019
WAT GEBEUR BY TLU SA

Belangrik om te weet

Ons begronding
Ons ervaar deesdae al hoe meer dat persone en instansies in hierdie dae ‘n neutrale geloofsbegronding aanhang omdat ‘n openlike verbinding aan die Christelike geloof moontlik aanstoot kan gee. TLU SA wil dit onomwonde stel dat ons, soos dit ook in ons Grondwet en Manifes uiteengesit is, openlik erken waar ons krag en wysheid vandaan kom en derhalwe bely ons ons diepe afhanklikheid van God-Drie-enig soos geopenbaar in Sy Woord, die Bybel.

Nuwe lede en vriende
Graag wil ons 'n woord van groot dank rig teenoor die bemarkingspan en die belsentrum wat sedert die begin van die jaar reeds 1 300 nuwe lede en vriende van TLU SA vir ons gewerf het. Daar is groot waardering vir elke lid se bydrae en betrokkenheid. TLU SA sal alles binne ons vermoë doen om die beginsels wat nodig is om landbou te laat leef, te beskerm en uit te bou. Dit beteken dat ons verbind is tot ekonomiese korrektheid en nie politieke korrektheid nie.

Komitees rondom knelpunte
Dit is verblydend dat afgesien van die realistiese kommer wat boere oor hulle daaglikse aktiwiteite en toekomsverwagtinge het, ons meestal ‘n positiewe invalshoek bespeur wanneer informele gesprekke hieroor gevoer word. Veiligheid, ‘n onsekere beleidsomgewing wat veral vergestalt in uitsprake oor besitreg en ekonomiese volhoubaarheid is egter die belangrikste aspekte wat boere onrustig stem. Uiteraard is daar ook verskeie bydraende faktore wat inspeel op die genoemde knelpunte soos probleme rondom water en arbeidswetgewing. TLU SA het opnuut die komitees geaktiveer wat op daardie drie terreine handel. Enige lid wat reken dat hulle 'n konstruktiewe bydrae in 'n komitee kan maak, word versoek om na vore te tree om die bestaande komitees te verryk.

Werksverdeling van amptenary
In die afwesigheid van formele komitees vir die tradisionele dienste van TLU SA, is die beskikbare amptenare tydelik versoek om na hierdie funksies om te sien:

  • Arbeid – Mev Lynette du Plessis
  • Eiendomsreg – Mnr Danie du Plessis
  • Water – Mnr Drickus Botha
  • Plaaslike regering – Mnr Gert Cruywagen

Dit word in die onmiddellike vooruitsig gestel dat ampsdraers binnekort tot die ampte benoem en verkies sal word.

Droogtehulp
Droogtetoestande is steeds kritiek in dele van die land. Die moontlikheid om voer na droogtegeteisterde omgewings te vervoer, het onder ons aandag gekom. Indien daar van ons lede is wat voer beskikbaar het wat hulle graag wil skenk om mede-boere te help, sal ons dit baie waardeer. Kontak vir vir Runel by sekretaresse@tlu.co.za met die besonderhede van enige aanbod van voer.

Graanlewering
Daar is weereens versoeke gewees van lede wat graag wanneer hulle graan gaan lewer ook vir TLU SA graan wil lewer. Ons het groot dankbaarheid vir die projekte wat by verskeie affiliasies van stapel gestuur is ten einde op verskeie wyses finansiële ondersteuning aan TLU SA te verskaf. Ons wil graag weer die volgende plekke se leweringsnommers onder ons lede se aandag bring vir diegene wat, wanneer graan gelewer word, moontlik ook op TLU SA se nommer ook ‘n bydrae kan maak.

NWK   :        X170613TLU – dit geld by alle NWK leweringspunte
Afgri   :        152622 TLU SA by enige Afgri silo

By voorbaat dankie aan elkeen wat sy weg oopsien om ook op hierdie wyse TLU SA te ondersteun.

Veiligheid

Veiligheidskomitee vergadering
Etlike belangrike kwessies is op 24 April 2019 deur die Veiligheidskomitee bespreek. Die Bevestigende Notas is na afloop van die vergadering tot die beskikking van streke gestel.

  • Gesprek met die SAPD Nasionale Kommissaris op 2 Mei 2019;
  • Geskeduleerde gesprek op 22 Mei met die Dagbestuur van AgriSA se Veiligheidskomitee;
  • Veiligheidsvoorbereiding vir die verkiesing;
  • Hantering van TLU SA se misdaadstatistiek;
  • Moontlikheid van ‘n jaarlikse veiligheidskompetisie; en
  • Ondersteuning van en bydraes vir die Pitkos, Veiligheidsbulletins en TLU SA Riglyne.

SAPD Nasionale Kommissaris
Tydens ‘n gesprek met die nasionale Kommissaris van die SAPD, Genl. Sitole en drie van sy adjunkte op 2 Mei 2019 het ‘n TLU SA-afvaardiging die rol wat binne veiligheidsverband deur affiliasies en lede gespeel word, verduidelik. Dit was duidelik dat hy aangenaam verras was met wat vir hom aangebied is. Die sukses van die gesprek word bevestig deur sy versoek dat daar oor drie maande weer vergader moet word om vordering op bepaalde terreine te evalueer. Bevestigende notas in hierdie verband sal binnekort aan die UK beskikbaar gestel word.

Veiligheidsdienste en -produkte
Mev Alta Povey hou ‘n opgawe van alle aanbiedinge van veiligheidsverwante produkte en dienste, by. Hierdie opsomming sal periodiek aan streke versprei word, maar is ook op aanvraag by haar beskikbaar. Kontak haar by 012 804 8031 of asseien@tlu.co.za.

Finansies & Tegnologie

Gesprekke met kredietverskaffers
Daar is, gegewe die omstandighede waaronder ons boere gebuk gaan, begin om met finansiële instellings waar ons lede krediet verkry, in gesprek te tree. Gesprekke is in goeie gees gevoer en die aspekte waaroor daar kommer is, is uitgewys. Elke kliënt by 'n bank word as ‘n individu gereken en hanteer. Dit is vir enige finansiële instelling meer belangrik om sy kliënte te behou as wat dit is om hulle uit te win. Daar is moontlike oplossings wanneer 'n persoon wat onder druk kom, betyds met die banke in gesprek gaan tree.

Die vierde industriële rewolusie
Tegnologie en data is die goud van die toekoms. Dit is belangrik dat elke boer ontledend moet gaan kyk hoe tegnologie 'n positiewe verskil in hulle boerderye kan maak.   Dit is baie maklik om vervalle te raak in die "lekker" van tegnologie, maar ook net so maklik om ‘n kostebydraende faktor te raak indien dit nie korrek toegepas word nie. Maak dus van die beste kundigheid beskikbaar gebruik om te bepaal wat werklik 'n positiewe verskil op die onderste lyn van die balansstaat veroorsaak. TLU SA het oor tyd heen met Israel se Handelslessenaar geskakel waar firmas van daar af, die nuutste tegnologie beskikbaar stel.   Israel word veral op waterbesparende praktyke as wêreldleiers beskou. Ons Hoofbestuurder is genooi om gedurende Junie 'n tegnologie konferensie in Israel by te woon. Ons vertrou dat daar heelwat verwysings en kundigheid teruggebring sal word. Intussen sal daar by Nampo gewis ook by verskeie instansies van die beste kundigheid verkry word.

NUUS UIT DIE STREKE

SENTRAAL
Die Gauteng Diere Gesondheid Forum vergadering het op 2 Mei plaasgevind. Die Sentraalstreek het die vergadering bygewoon en noodsaaklike inligting is uitgestuur.

 

VRYSTAAT
TLU SA se Vrystaatstreek het op 11 April hul streekkonferensie gehou. Tydens die geleentheid het dr Jaco de Villiers 'n oorsig aangebied oor verskillende vlakke van koöperasies wat, indien geïmplementeer, vir die boer in 'n sterker posisie vir hul eie posisionering kan plaas. TLU SA se Hoofbestuurder, Bennie van Zyl het gesels oor TLU SA se visie vir 'n stabiele en suksesvolle landbousektor in 'n uitdagende politieke en ekonomiese omgewing. Bertus van der Westhuizen is verkies as die Streekvoorsitter.

 

OOS
TLU SA Oosstreek het in April ‘n gesprek met Afasa en Mpumalanga Landbou gehad oor die daarstel van ‘n Landbouforum vir Mpumalanga. Tydens die vergadering is besluit dat ʼn Landbouforum tussen die drie landbou-organisasies ‘n funksionele doel sal hê om landbouers se stem as eenheid by die Provinsiale regering in Nelspruit in te dra. Daar is besluit dat ‘n Memorandum van Verstandhouding teen einde Mei die lig moet sien. Elke organisasie sal vyf lede hê en die voorsitter sal roteer. ‘n Kworum sal uit twee lede van elke organisasie bestaan en ses lede moet teenwoordig wees om ‘n vergadering te hou. Na verwagting sal die Forum teen einde Mei in Nelspruit bekendgestel word. Beide organisasies was entoesiasties oor die vooruitsig.

Lees meer hier  

SAMEWERKING & GELEENTHEDE

Nampo 2019 – 14 tot 17 Mei

TLU SA het weer sy gebruiklike stalletjie in die Namposaal waar daar uitgereik word na mede-landbouers ten einde TLU SA se standpunte van volhoubaarheid vir landbou uit te dra. ‘n Woord van groot dank word gerig aan TLU SA se Jongboerkomitee wat die inisiatief geneem het om ‘n groot TV te skenk aan TLU SA wat in die stalletjie gebruik gaan word om ‘n boodskap van ons verset teen onteiening sonder vergoeding uit te dra. Dit is natuurlik ‘n saak wat elke persoon wat eiendom besit raak en nie net vir boere nie. ‘n Petisie sal ook ter ondersteuning by die stalletjie geteken kan word. Kom maak gerus ‘n draai.

Finansiële Welstand Lessenaar

Stel jou voor dat jy gisteraand gesterf het! Waar sal JOU familie gaan soek om jou finansiële- en lewensrekords te kry, jou bates vinnig te beveilig en die gladde oordrag van elke aspek van jou lewenslange werk te verseker? Om jou gesin 'n Lewenslêer te gee, is nie net een van die slimste maniere om 'n maklike oorgang tydens 'n emosionele tyd te skep nie, maar kan ook letterlik honderde duisende Rande in regskoste en baie tyd spaar.

Lees meer hier

Jongboer Kompetisie

TLU SA se Jongboere word hartlik uitgenooi om in te skryf vir TLU SA se Jongboer kompetisie. Inskrywingsvorms sal eersdaags persoonlik aan alle Jongboere gestuur word.  Kontak gerus vir Lynette by 012 804 8031 as daar enige navrae is.

Kragdag - 8 tot 10 Augustus 2019

kragdag

TLU SA is hierdie jaar deel van die Landbou Ekspo by Kragdag 2019 wat by Diamantvallei langs Kleinfontein oos van Pretoria aangebied word. Lesings, uitstallings en stalletjies by die dosyne! Daar sal iets vir elkeen in die gesin wees om te doen. Meer besonderhede sal in Mei versend word. As jy graag ‘n spesifieke landbou uitstaller daar wil besoek, stuur gerus vir Lynette by 012 804 8031 die besonderhede sodat ek hulle span kan nooi om te kom uitstal. Uitstallers kan registreer by kragdag.co.za.

Besoekers kan ook vanaf Mei aanlyn registreer om die dag gratis by te woon.

Forceti Eiendomsverskansing

Groot maatskappye gebruik bilaterale beleggingsverdrae om hulle teen aksies soos grondonteiening sonder vergoeding te beskerm. Wanneer ’n maatskappy se regte so bedreig word, is daar beskerming deur die Washington-gebaseerde Tribunaal wat die maatskappy dan vergoed.
Hierdie is ook ’n metode wat deur grondeienaars gebruik kan word om hulle bates teen ‘n koste te beskerm. Dit kan gedoen word deur EU-gebaseerde regsfirmas te gebruik.

Die firma Forseti Consult het TLU SA gekontak met die voorstel. TLU SA is van mening dat hierdie opsie met sukses gebruik kan word maar elke grondeienaar moet egter self die besluit neem.

Hulle verskaf gratis konsultasie. Eileen Nash kan gekontak word by  021 987 1580, en meer inligting is beskikbaar op hulle webblad.

Landbou Werkgewersorganisasie

Daar is ‘n werklike behoefte onder boere as werkgewers om deurlopend aan arbeidswetgewing te voldoen. TLU SA het ‘n samewerkingsooreenkoms met die LWO gesluit ten einde ‘n praktiese en koste-effektiewe oplossing vir lede te bied. Om aan wetgewing te voldoen is nie onderhandelbaar nie en dit kan ernstige gevolge inhou vir jou boerdery. Die LWO is in die posisie om hierdie besigheidsrisiko koste-effektief en op ‘n professionele wyse namens lede aan te pak.
Die samewerkingsooreenkoms behels dat TLU SA ‘n R500-verwysingskommissie verdien wanneer TLU SA-lede by die LWO aansluit. Die voordeel is tweeledig deurdat dit die boer se besigheid beskerm, maar ook bydra om TLU SA as organisasie te versterk.
Kostes van LWO lidmaatskap is soos volg:

  • Eenmalige aansluitingsfooi van R2 536 (BTW ingesluit). Indien die lid deur TLU SA se belsentrum aansluit, geld ‘n 12,5% korting en die bedrag betaalbaar beloop dan R2 219.
  • Jaarlikse lidmaatskapfooi wat ook maandeliks betaalbaar is (kostes afhangende van keuse van lidmaatskap pakket)

WETGEWING, ARBEID & EIENDOM

Wysiging op veevoere

TLU SA het kommentaar ingedien oor die voorgestelde wysiging op veevoere wat behels dat die informele sektor wat voer vir eie gebruik meng, voortaan ook gaan moet registreer as 'n voermenger. Dit gaan bepaalde administratiewe en koste-implikasies vir die boer inhou. Daar is namens die boere wat vir eie gebruik voer meng, aansoek gedoen dat hulle nie behoort te registreer nie.

Waardasies

Maak op jou plaaslike munisipaliteit se webwerf of by die munisipale kantore seker of ‘n nuwe waardasierol op 1 Julie 2019 ingestel gaan word. Indien wel, is dit noodsaaklik om jou waardasie na te gaan en betyds beswaar aan te teken.

Opgawe van verdienste

Uitstel is tot 31 Mei 2019 verleng vir die indiening van alle opgawes van verdienstes. Indiening moet aanlyn geskied. Volg hierdie skakel vir meer inligting.

VELDTOGTE
ONS WIL BLY

TLU SA is glad nie beïndruk met President Cyril Ramaphosa se pleidooi aan wit jongmense om in die land te bly nie. TLU SA se Jongboere doen ‘n beroep op die President om gehoor te gee aan die kommer en vrese wat wit jongmense oor Suid-Afrika het.

TLU SA het ‘n petisie saamgestel wat bekommerde jongmense kan onderteken en wat dan aan Pres Ramaphosa gestuur sal word.

#SOS

Die Suid-Afrikaanse regering beur voort met hulle pogings om die land se grondwet te verander sodat grondonteiening sonder vergoeding kan plaasvind. Die bedreiging tot privaat besitreg sal ‘n noodlottige effek op die Suid-Afrikaanse regering hê.

Jy kan help! Deur jou kontakbesonderhede op ons webwerf in te vul, stuur jy ‘n SOS aan verskeie buitelandse leiers, ambassadeurs en invloedryke rolspelers.

ADVERTENSIE

HUURGROND GESOEK
Jaap Botha is op soek na ongeveer 500 ha grond om te huur. Kontak hom by 082 388 1237