Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier
Kolonialisme Maandag | 22 Junie | 2020

President Cyril Ramaphosa se blaamverskuiwing en beskuldigings oor ‘n kolonialistiese en rassistiese ekonomie, is petrol op die vuur van onsekerheid rondom die land se ekonomie.

 

TLU SA bied jare lank al oplossings aan die regering oor hoe om ‘n omgewing te skep wat gunstig is vir die ekonomie om te groei. In 2005 het TLU SA konstruktiewe voorstelle gemaak oor hoe nuwe landbou-toetreders binne die normale verloop van besigheid tot die bedryf ingeskakel kon word. Die teikens vir grondoordrag kon sodoende binne agt jaar behaal word en geen bestaande boer sou onder dié voorstel bedreig word nie. Die voorstelle sou elke aspek wat vir nuwe boere van belang is, soos identifisering, keuring, opleiding, mentorskappe, finansiering en bemarking insluit. Boere sou ook leer hoe om verantwoordelikheid vir hulle eie toekoms te aanvaar. Dié voorstelle is telkens van die tafel gevee.

 

“Hoeveel keer gaan ons nog vir President Ramaphosa en sy kaders moet uitwys dat die ekonomie ‘n persoon, instansie en selfs ‘n land oordeel volgens uitkomste?” vra mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA. “Ekonomiese kragte stel nie belang in jou geskiedenis, politiek of aantygings van rassisme nie. Dit word koud en klinies op grond van meriete beoordeel. Daardie reëls kan nie verander word nie.”

 

Suid-Afrika se sosio-maatskaplike probleme neem jaarliks onder die ANC se beleidsomgewing toe. Werkloosheid en armoede hou aan om te styg. Die regering se hantering van COVID-19 het die situasie vererger. Die ANC se beleid is een van die grootste oorsake vir die toenemende geweld en misdaad in Suid-Afrika.

 

Die ‘struggle’-kultuur is steeds deel van baie Suid-Afrikaners se DNS. In 1976 is skole voor die voet vernietig – ‘liberation before education’. Tydens die inperking word skole weer gevandaliseer en gebrand. Die geleentheid vir ‘n beter toekoms word weereens eerder vernietig as wat daar verantwoordelikheid vir ‘n eie toekoms geneem word.

 

Die kultuur van eiegeregtigheid is ook volop onder ANC-ondersteuners. Maar, ‘n mens besit iets omdat jy daarvoor gewerk het. Mense met meer entrepreneursvernuf sal daarom vanselfsprekend meer besit. Welvaart bestaan nie net nie, dit word deurlopend geskep.

 

Die regering se uitdeel-beleid sal binnekort tot ‘n einde moet kom omdat die middele wat daarvoor benodig word, aan die opdroog is. Wanneer die staat nie meer geld het om maatskaplike toelaes uit te deel nie sal die daaglikse betogings en onluste wat ons nou sien, soos ‘n Sondagskoolpiekniek lyk.

 

“Die antwoord is ekonomiese groei,” sê mnr. Meintjes. “Daar is geen ander manier om die inwoners van die land te bemagtig nie. Individue kan deur die ekonomies groei bevoordeel word, as hulle verantwoordelikheid vir hulle eie toekoms aanvaar en hard daarvoor werk.

 

“Maar ongelukkig vernietig die ANC se beleidsomgewing, uitsprake en wetgewing die vertroue wat benodig word om beleggers te lok. Die staat se kapasiteit is reeds grootliks deur korrupsie en onvermoë vernietig. Die privaatsektor – wat die kapasiteit moet skep – voel ook die knou en verloor vertroue in die land se toekoms.

 

“Sommige kiesers glo dalk nog President Ramaphosa se uitsprake oor die ekonomie, maar dis uiteindelik die markte wat die finale sê het.”

 

 

Uitgereik deur:          TLU SA

 

Datum:                       22 Junie 2020

 

Navrae:                       Mnr Louis Meintjes, President TLU SA,

                                    Sel.: 082 461 7262

 

Mnr Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA,

                                    Sel.: 082 466 4470

Sluit aan

Nuusbriewe
Checkboxes

Kontak Ons