G20 Farmers’ Dialogue
Die G20 Farmers’ Dialogue was ’n gefokusde landbougesprek wat op 17 September 2025 by die Fakulteit Landbouwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch gehou is. Dit is deur die Southern African Agri Initiative (Saai) aangebied, in vennootskap met organisasies soos TLU SA en AFASA, spesifiek vooraf die G20-beraad in Suid-Afrika.
Die doel was om boere se stem direk in die G20-proses in te bring. Boereleiers en boere-organisasies uit G20-lande en ander streke (Europa, Noord-Amerika, Asië en Afrika) het fisies en aanlyn deelgeneem, om oor vier kern temas te praat:
- Familieboerdery
- Digitalisering, innovasie en kunsmatige intelligensie
- Vee en proteïene
- Handel en voedselveiligheid
Die bydraes uit hierdie gesprek vorm die basis van ’n boere-verklaring/memorandum wat by die G20-staatshoofde-beraad in Johannesburg ingedra is, sodat wêreldleiers nie net regerings- en korporatiewe perspektiewe hoor nie, maar ook die “regte boere” se standpunte oor winsgewendheid, familieboerdery en voedselveiligheid.
TLU SA het aan twee van die besprekingspunte deelgeneem binne die geskeduleerde program naamlik Familieboerdery en Vee en Proteiene en ook aan die bespreking oor digitalisering, innovasie en KI deelgeneem.
Internasionale reaksie skerp ná Trump se uitlating oor Suid-Afrika
Die uitlatings van VSA-president Donald Trump op 26 November het die wêreld se aandag weer op Suid-Afrika gevestig, op ’n wyse wat die regering in ’n besonder swak lig plaas. Volgens Trump se openbare verklaring het die VSA besluit om nie die G20-vergadering in Suid-Afrika by te woon nie, en hy skryf dit direk toe aan die Suid-Afrikaanse regering se onvermoë en onwilligheid om kernkwessies soos menseregte, plaasveiligheid en grondonsekerheid aan te spreek.
Wat duidelik is, is dat wêreldrolspelers begin reageer op die gevolge van jarelange wanbestuur, beleidsverwarring en die konstante verswakking van staatsinstellings onder president Ramaphosa se regering. Wanneer ’n land se veiligheid, energie-infrastruktuur, ekonomiese vooruitsigte en regsekerheid gereeld onder internasionale kritiek kom, begin lande eenvoudig afstand doen, en dit is presies wat ons nou sien.
TLU SA waarsku al lank dat die regering se gebrek aan optrede teen plaasaanvalle, die dreigende gevaar van grondonteiening sonder vergoeding, en die voortdurende afswaai van staatsdiensvermoë die land se globale geloofwaardigheid ondermyn. Trump se uitlatings is nie ’n oorsaak nie, maar ’n simptoom van ’n groter probleem: Suid-Afrika word al hoe minder as ’n betroubare vennoot gesien.
Vir boere en landelike gemeenskappe beteken hierdie internasionale reaksies dat die wêreld toenemend bewus raak van die werklikheid op die grond, maar ook dat ons ekonomiese en diplomatieke isolasie kan verdiep as daar nie dringend koers verander word nie. Suid-Afrika kan dit nie bekostig dat politieke teater, beleidsideologie en wanbestuur ons land se toekoms verder skaad nie.
TLU SA sal aanhou druk uitoefen vir regsekerheid, werklike optrede teen misdaad, en ’n regering wat die land se belang bo politieke oorwegings stel. Die wêreld kyk.
TLU SA Sonneblom-toekenning

TLU SA het met groot dankbaarheid en waardering die TLU SA Sonneblom-toekenning tydens sy jaarlikse mediafunksie by die organisasie se kantore in Silverton aangebied. Hierdie toekenning is ’n besondere geleentheid waartydens TLU SA hulde bring aan die joernaliste en mediaplatforms wat deur die jaar uitmuntend presteer in die dekking van landbou, plattelandse sake en die werklikhede waarmee boere daagliks gekonfronteer word.
“Joernaliste is soms die enigste brug tussen die boer se werklikheid en die samelewing se begrip daarvan. Wanneer daardie brug met eerlikheid, balans en die soeke na waarheid gebou word, verdien dit erkenning,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.
Lees meer hier.
TLU SA bring hoop en hande werk met “Plant vir die Toekoms”
TLU SA se projek “Plant vir die Toekoms” het vanjaar begin met besoeke aan CVO-skole regoor die land, ’n dinamiese poging om jong mense nader aan landbou te bring. Skole ontvang mieliesaadpakkies en neem deel aan praktiese demonstrasies waar leerders self plant, leer oor volhoubare boerdery en ontdek hoe belangrik landbou vir voedsel-sekuriteit én gemeenskapsontwikkeling is.
Die projek wil nie net sade in die grond kry nie, maar ook hoop, waardering en toekomsvisie in jong harte plant. “Die jeug is die sleutel tot die toekoms van ons land en ons landbousektor,” sê Bennie van Zyl.
TLU SA beoog om die program in 2026 na ’n volledige nasionale projek uit te brei. Hiermee word ’n groeiende netwerk van jong landbou-entoesiaste gebou, ’n ware belegging in die volgende generasie landbouleiers. |