Plaas info@emails.tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
Oktober 2024  
 

Landbou ervaar tans vele uitdagings. By elke geleentheid wat aangebied word, is dit die onderwerpe van bespreking. Talle eksterne faktore beïnvloed landbou in sy geheel, en daarmee saam ook die boer op die plaas.

 
Wil ek veg of kommunikeer?

TLU SA se begronding vanuit die Woord van God is vir ons ‘n kosbare kleinnood wat gekoester en hoog voorop gestel word. As dit die geval is, moet ons optrede aan Bybelse riglyne voldoen. Meningsverskille is nie net nodig nie, maar ook goed, omdat dit lei tot beter denke en groei. Hoe kommunikeer ons met mekaar?

Agri Skills Transfer: 20 Jaar van Uitnemendheid in Landbou Opleiding

Agri Skills Transfer bedien trots die landboubedryf al meer as 20 jaar, en bied geakkrediteerde onderrig en opleiding wat individue bemagtig en hulle vaardighede verbeter.

 
TLU SA se reaksie op die SEB regulering van die invoer en uitvoer van landbouprodukte

TLU SA neem met dank kennis van Sakeliga se standpunte oor die regulasies wat deur mnr. Mooketsa Ramasodi, direkteur-generaal van die departement van landbou, op 3, 4 en 7 Oktober 2024 gepubliseer is.

 
TLU SA vereer uitnemende joernaliste in landbou

TLU SA erken en waardeer die media-rolspelers wat in 2024 uitnemend bygedra het om ons kernboodskap van ekonomiese volhoubaarheid in landbou oor te dra.

 

RPO Konferensie

 

Die Rooivleisprodusente-organisasie se 2024-konferensie te NAMPO Park, Bothaville, was ‘n vertoonvenster van vernuwende denke oor die rooivleiswaardeketting en die weë wat ondersoek en gevolg kan word om die posisie van rooivleisprodusente te verbeter. TLU SA was ook daar en het ervaar hoe sleutelkwessies aangespreek word. Dr. Frikkie Maré, hoof uitvoerende beampte van die RPO, het die werksaamhede van die organisasie en wat lede oor die volgende jaar kan verwag, uitgelig.

Kobus Bester, rasdirekteur van Simbra SA, het beklemtoon dat pro-aktiewe deelname van RPO-lede aan inisiatiewe noodsaaklik is. Hy het daarop gewys dat die RPO die mondstuk van sy lede is en dat elke lid ‘n verantwoordelikheid het om by te dra tot hul studiegroepe, gemeenskappe en die bedryf: “Vra jouself af: ‘Gaan my bydrae vernuwend wees en veranderinge teweegbring?’”

Bester het ook uitvoere onder die loep geneem. In 2024 is meer tonne vleis uitgevoer as in 2023, maar pryse het afgeneem. Om dié situasie te verbeter, is ‘n aantal aspekte ononderhandelbaar. Hy het veral naspeurbaarheid en vleisgradering as sleutelaspekte uitgesonder – beide word tans deur die RPO, RMIS, en ander rolspelers aktief aangespreek om plaashekinkomste te verhoog en produksie en vraag te balanseer.


Belangrike inligting

TLU SA Limpopo Algemene Raad Beplanningsessie

TLU SA Limpopo Algemene Raad Beplanningsessie vind plaas op 20 November 2024 by Hiesterhof Restaurant, Polokwane. Bevestig bywoning by Wilma Prinsloo (w.prinsloo1@mweb.co.za / 082 555 4553)

Agriseta Beurs 2025

Indien enige TLU SA-lid se kind reeds toelating ontvang het om aan enige universiteit in Suid-Afrika in 'n landbou rigting te gaan studeer, kan daar aansoek gedoen word vir 'n Agriseta beurs vir die 2025 studiejaar. Aansoeke moet deur TLU SA ingedien word, en alhoewel Agriseta die aansoeke oorweeg, kan geen waarborg gegee word dat die aansoek goedgekeur sal word nie. Agriseta sal in Desember 2024 aankondig watter aansoeke goedgekeur is.

Alle navrae moet asseblief direk by Lynette du Plessis van TLU SA ingedien word, slegs per e-pos na sentraal@tlu.co.za. Agriseta sal geen navrae vanaf enige aansoeker hanteer nie.

2025 Goliat van Gat

Dit is nou die laaste kans om pitte te kry en te plant vir die 2025 Goliat van Gat Pampoenfees.

Die TLU SA Sonneblom Toekenning

Die Oos/Natalstreek

Die Oos/Natalstreek het baie ernstige verliese aangeteken tydens die afgelope brande wat hier plaasgevind het. Letterlik duisende hektaar se weiding het afgebrand maar nie net was daar verlies aan weiding nie maar ook gepaardgaande lewensverlies. Die Streekkantoor dra die families waar daar lewensverlies was ook in gebed op aan ons Hemelse Vader. By TLU SA is ons ook dankbaar vir die herstel van Japie Cilliers een van ons plaaslike boere in die Ermelo distrik wie baie ernstig beseer was nadat hy gehelp het by ń veldbrand.

Alhoewel daar nog geen noemenswaardige reënval in die streek was nie is ons Boere slaggereed om te kan begin plant. Dit is verblydend om te kan rapporteer dat ons boere se gemoedere steeds baie positief is.

Oosstreek Inset

Oktober was 'n uitdagende, droë maand. Die naweek van 20 Oktober het gemengde gevoelens gebring. Eers het verskeie groot vure in die Stoffberg/Dullstroom-area uitgebreek, en een boer het selfs 47 beeste verloor. Gelukkig het daar teen Sondagaand redelik wydverspreide reën uitgesak, met terugvoer wat tussen 15 en 25 mm wissel. Veeboere is opgewonde dat die veld nou weer sal begin herstel en uitgroei, want weiding is baie skaars. Vir sommige saaiboere in die Ermelo-omgewing was hierdie opvolgreën egter so ‘n week te laat, en daar sal oorgeplant moet word. Oor die algemeen is die streek se planters gereed om te werk.

In die suidweste (Charl Cilliers, Val, Standerton en Greylingstad) is daar ook dankbaarheid vir die reën, maar heelwat meer is nodig om die droogte behoorlik te breek.

Veediefstal is steeds ‘n groot probleem in sekere areas, en beide wit en swart boere ly daaronder, terwyl daar min oplossings van die plaaslike polisie kom.

 

KOMENDE KERSTYD: VEILIGHEID VOOROP

Die Kerstyd nader vinnig, en soos ons weet, bring die "silly season" dikwels meer risiko’s vir plaasboere en hul gesinne. Hierdie tyd van die jaar is ongelukkig gekenmerk deur verhoogde kriminele aktiwiteit en 'n afname in gehoorsaamheid aan wette. Terwyl baie van ons feesvier, gebruik misdadigers die geleentheid om swak plekke in veiligheidsmaatreëls uit te buit, dikwels ten koste van diegene wat voedsel op ons tafels plaas. Hier is 'n paar riglyne om veiligheid te versterk:

  1. Vakansie Voorbereiding: As u met vakansie gaan, verseker dat vuurwapens en ander waardevolle items veilig gestoor is. Moenie risiko’s neem nie; plaas alle kosbare items in 'n veilige plek, weg van sig.
  2. Werkplek Reëls en Sekuriteit: Versterk werkplek-reëls en pas dit konsekwent toe. Kriminele gebruik hierdie tyd om swak punte in veiligheidsnetwerke te ondersoek. Beperk toegang tot werks- en woongebiede, en volg plaasprotokolle noukeurig om vreemde besoekers te vermy.
  3. Veilige Transaksies: Vermy kontanttransaksies, veral in die verhandeling van vee en ander groot aankope. Salarisse en bonusse moet eerder deur elektroniese betalings geskied om kontantgebruik te beperk.
  4. Plaaswagte en Patrollies: Begin nou met gereelde patrollies deur plaaswagte en vermy voorspelbare roetines. Hierdie roetines kan misdadigers help om beplanning vir toekomstige misdrywe te vergemaklik.
  5. Onvoorspelbaarheid is Veiligheid: Pas u daaglikse roetines aan sodat dit minder voorspelbaar is. Kriminele neem gereeld tyd om patrone te bestudeer; deur hierdie roetines te verander, word dit vir hulle moeiliker om te beplan.

Onthou, misdadigers is net so aktief gedurende die feestyd. Wees paraat, en maak seker dat veiligheid die hoogste prioriteit bly om 'n gemoedsrusvolle Kersseisoen vir almal te verseker.

Gesels saam met TLU SA vanuit jou sitkamer

Betreding, diefstal, veiligheid, watersake, grondgrype en brande. Hierdie is maar net ‘n klein deeltjie van alles waarmee ‘n boer vandag te doen kry op sy plaas. Dan is daar nog nie eens gepraat van die fisiese boer deel van ‘n boerdery nie. Daar kom kommoditeitspryse, arbeidskwessies, brandstofpryse en insetkostes ook ter sprake. Boerdery het ‘n omvangryke bedryf geword, met omvangryke uitdagings op elke gebied van die landboubedryf.

TLU SA bied daarom graag inligtingsessies aan deur middel van digitale platforms om hulle lede met die nodige kennis te bemagtig, sodat hulle hierdie probleme die hoof kan bied. Mauritz Lombard, TLU SA se bestuurder van beleidskakeling het vanaf Augustus 2024 ‘n reeks van hierdie webinare aangebied waar hy dan kenners op ‘n spesifieke gebied nooi om die gehoor toe te spreek oor ‘n aktuele knelpunt op die plase.

“Een van TLU SA se take is om te sorg dat sy lede bemagtig is met die nodige kennis. Dit is ook net tog soveel makliker om na ‘n interaktiewe praatjie te luister, waar jy die geleentheid kry om jou vrae aan die kenners te stel, eerder as om ‘n dokument te moet deurlees en dan steeds vrae te hê daarna”, sê Mauritz.

Die onderwerpe wat al voorheen bespreek is sluit selfverdegiging, die voorbereiding en aanbieding van hofsake, betreding en grondgrype, en die wet op die voorkoming van onwettige uitsetting in. Laasgenoemde was ook met spesifieke verwysing na die Melodora saak.  Die inligtingsessie oor die voorbereiding en aanbieding van hofsake was juis daarop gemik om boere te laat verstaan hoe die proses werk en wat die prosedure daarin behels. “As ‘n boer weet wat om te verwag tydens die voorbereiding een aanbieding van ‘n saak, sal hy ook baie gemakliker wees met die proses en kan dit ‘n spanningsvolle situasie soveel ligter maak,” verduidelik Mauritz.

Daar is nog twee geleenthede waarby lede kan inskakel voor die einde van die jaar. Op 18 en 25   November gesels kenners Alex Politus en Karel Taute onderskeidelik oor die onwettige jag met honde en skadevergoedingseise met spesifieke verwysing na veldbrande.

Daar sal geen inligtingsessies aangebied word in Desember nie, maar dit sal beslis weer volgende jaar hervat. Laat weet gerus indien daar spesifieke voorstelle is vir onderwerpe wat op hierdie manier bespreek kan word.
Indien jy enige van die vorige praatjies misgeloop het en dit tog graag wou luister kan jy gerus hierdie skakel na ons YouTube kanaal volg waar die opnames dan gesien kan word.http://www.youtube.com/@TLUSAsedert1897

Hou ons sosiale media blaaie dop vir inligting en uitnodigings na die volgende inligtingsessies.

Op hierdie manier bied TLU SA jou die beste raad om jou veilig en volhoubaar op jou plaas te hou, en jy hoef nie eers van die plaas af te ry om dit by te woon nie.

 

Foto van die maand