TLU SA se begronding vanuit die Woord van God is vir ons ‘n kosbare kleinnood wat gekoester en hoog voorop gestel word. As dit die geval is, moet ons optrede aan Bybelse riglyne voldoen. Meningsverskille is nie net nodig nie, maar ook goed, omdat dit lei tot beter denke en groei. Hoe kommunikeer ons met mekaar? Die Bybel gee vir ons ‘n duidelike riglyn in Matteus 18. Wanneer ons dus in vergaderings met iemand verskil, is dit nodig om die saak deeglik te debatteer, maar sodra daar ‘n besluit geneem is, moet slegs daardie besluit uitgedra word om die eenheid en vertroue in die struktuur te eerbiedig.
Wanneer iemand op ‘n persoonlike vlak met ‘n ander per e-pos of WhatsApp verskil en nie die Matteus 18-roete volg deur dit eers alleen met daardie persoon te bespreek nie, maar onmiddellik ‘n wye groep mense cc, is daar ongetwyfeld ‘n agenda aan die orde. Daardie kommunikasie is nie daarop gemik om oplossings te vind nie, maar eerder om te diskrediteer en skade aan te rig. Die manier waarop ek kommunikeer, bepaal of ek deure by ander mense oop- of toemaak, en bou aan vertroue.
Sodra iemand nie meer vertrou word nie, is kommunikasie daarna onbelangrik, want dit dra geen waarde nie. Elkeen moet besef dat die manier waarop met ander persone gekommunikeer word, iets van jou karakter openbaar.
Foto: August de Richelieu



