James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA: Produsentepryse vertel net die helfte van die verhaal

TLU SA neem kennis van die jongste produsenteprysindeks (PPI) wat op 26 November 2026 deur Statistieke SA bekend gemaak is. Die organisasie beklemtoon dat produsentepryse nie in isolasie beoordeel kan word nie, maar teen die werklike koste van produksie opgeweeg moet word.

Die jaarlikse produsenteprysinflasie vir finale vervaardigde goedere het in Oktober 2026 tot 8,1% gestyg, teenoor 6,2% in September. Produsentepryse in die landbousektor het egter op ’n jaargrondslag met slegs 0,3% gestyg.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê die produsenteprysindeks is ’n belangrike ekonomiese aanwyser, maar dat die syfers in die regte konteks geïnterpreteer moet word.

“Die PPI is ’n belangrike aanwyser van hoeveel kommoditeitspryse verander het. Dit moet egter in reële terme teenoor die styging in insetkoste beoordeel word. Dit gaan nie net oor hoeveel pryse gestyg het nie, maar wat die uiteindelike implikasie daarvan vir die boer is. Wat het dit die boer gekos om daardie produk te produseer?”

Die jongste syfers toon ’n kommerwekkende verskil tussen die verandering in landbouprodusentepryse en dié van verskeie produkte en dienste wat vir landbouproduksie noodsaaklik is.

Die produsenteprysindeks vir diesel het op ’n jaargrondslag met 68,5% gestyg, dié vir basiese en ander chemikalieë in die intermediêre vervaardigingsektor met 19,7%, water met 8,3% en elektrisiteit met 5,9%.

Terselfdertyd het produsentepryse vir lewende diere met 6,4% en dié vir vrugte en groente met 2% afgeneem. Hoewel produsentepryse vir graan en ander gewasse met 10,5% gestyg het, moet hierdie styging ook teen die betrokke produsente se insetkoste opgeweeg word.

TLU SA beklemtoon verder dat die tydsberekening van prysveranderinge van kardinale belang is. Dieselpryse het juis rondom stroop- en planttyd hoogtepunte bereik, wanneer graanprodusente besonder baie brandstof benodig. Mieliepryse het daarenteen eers teen laat Augustus en gedurende September beduidend herstel. Produsente wat reeds hul graan teen laer pryse moes verkoop om skuldverpligtinge na te kom, het nie by hierdie prysstygings gebaat nie. Die gemiddelde prysverandering weerspieël dus nie noodwendig die werklike kontantvloei of winsgewendheid van die boer nie.

“Die boer het dikwels min beheer oor die prys wat hy vir sy produk ontvang, maar moet steeds die koste verbonde aan produksie dra. Wanneer insetkoste vinniger as produsentepryse styg, kom die boer se winsmarge onder druk. Dit beïnvloed uiteindelik ook sy vermoë om in toekomstige produksie te belê,” sê Van Zyl.

TLU SA beklemtoon verder dat die publiek nie die prys van voedsel op winkelrakke as ’n direkte aanduiding van die boer se inkomste of wins moet beskou nie. Verskeie ander kostes, waaronder verwerking, verpakking, vervoer en verspreiding, dra tot die uiteindelike verbruikersprys by.

TLU SA doen ’n beroep op die regering om groter erns te maak met die ekonomiese omgewing waarin Suid-Afrikaanse boere moet produseer. Bekostigbare en betroubare water- en elektrisiteitsvoorsiening, behoorlike infrastruktuur, landelike veiligheid en beleidssekerheid is noodsaaklik om die koste en risiko’s van landbouproduksie te beperk.

“Die ekonomiese volhoubaarheid van landbou moet aan winsgewendheid gemeet word, nie bloot aan prysstygings nie. Suid-Afrika kan nie van sy boere verwag om voedselsekerheid te verseker en werksgeleenthede te skep indien die ekonomiese omgewing waarin hulle moet produseer dit toenemend bemoeilik nie. Winsgewende landbou is ’n voorvereiste vir volhoubare voedselsekerheid,” sluit Van Zyl af.

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA: Produsentepryse vertel net die helfte van die verhaal