TLU SA neem kennis van die jongste misdaadstatistiek wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bekend gemaak is. Hoewel enige afname in misdaad verwelkom moet word, waarsku die organisasie dat statistiek nie die volle werklikheid van misdaad en die impak daarvan op gemeenskappe weerspieël nie.
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, vra die belangrike vraag: Wat word in die polisiediens bestuur – statistiek of misdaad?
“Ons kry voortdurend terugvoer oor of misdaad styg of daal. Die werklike probleem is egter dat misdaad in Suid-Afrika steeds ernstig genoeg is dat ons nie die nodige politieke wil, bemagtiging, opleiding, toerusting en ‘n behoorlik toegeruste polisiediens sien om die land te stabiliseer nie,” sê Van Zyl.
Volgens TLU SA is landelike gemeenskappe besonder kwesbaar. Plaasaanvalle, plaasmoorde, veediefstal en diefstal van landboumasjinerie bedreig nie net boere se veiligheid nie, maar ook hul ondernemings en die land se voedselproduksievermoë.
Gawie Lötter, bestuurder van Dienste by TLU SA, beklemtoon dat landelike veiligheid doelgerigte aandag en beter samewerking tussen veiligheidsrolspelers vereis.
“Misdaad in landelike gebiede kan nie met algemene polisiëring alleen aangespreek word nie. Ons het sigbare polisiëring, doeltreffende ondersoeke en gespesialiseerde aandag aan misdade soos plaasaanvalle en veediefstal nodig. Misdaadsindikate moet geteiken en verantwoordelik gehou word. Boere en landelike gemeenskappe kan nie aan hul eie lot oorgelaat word nie,” sê Lötter.
Hy voeg by dat TLU SA wil hê dat plaasaanvalle as ‘n prioriteitsmisdaad geklassifiseer moet word.
“Dit sal help om te verseker dat hierdie misdade die nodige aandag, gespesialiseerde ondersoekkapasiteit en prioriteit binne die wetstoepassingstelsel geniet. Die veiligheid van boere, hul gesinne en plaaswerkers kan nie langer op die agtergrond geskuif word nie.”
TLU SA doen ‘n beroep op die regering en die SAPD om:
- Landelike polisiëring en misdaadvoorkoming te versterk.
- Plaasaanvalle as ‘n prioriteitsmisdaad te klassifiseer.
- Gespesialiseerde aandag aan plaasaanvalle, plaasmoorde en veediefstal te gee.
- Georganiseerde misdaadsindikate en veediefstalgroepe daadwerklik te ontmantel.
- Die ondersoek- en vervolgingskapasiteit vir ernstige misdade te verbeter.
- Samewerking tussen die SAPD, boereorganisasies, landelike veiligheidsnetwerke en privaat veiligheidsinisiatiewe te bevorder.
Die organisasie beklemtoon dat die staat die verantwoordelikheid dra om alle Suid-Afrikaners te beskerm. Gemeenskapsbetrokkenheid is belangrik, maar kan nie doeltreffende wetstoepassing vervang nie.
Volgens Lötter is veiligheid op plase nie net ‘n landboubelang nie, dit is ‘n nasionale belang.
“Sonder veilige landelike gemeenskappe kan daar nie volhoubare voedselproduksie, werkskepping en ekonomiese groei wees nie.”
“TLU SA sal voortgaan om aan te dring op daadwerklike optrede teen misdaad en groter prioriteit vir die veiligheid van Suid-Afrika se landelike gemeenskappe,” sluit Lötter af.








