Standpunte en Riglyne

As voorstanders van beleidsinisiatiewe in die landbousektor, erken TLU SA die noodsaaklikheid om standpunt in te neem oor dringende sake wat die volhoubaarheid van ons lede direk beïnvloed. Sentraal tot ons missie is die behoud van boere se lewensbestaan en die blywende rentmeesterskap van hul grond. Dit is dus uiters belangrik vir ons om omvattende riglyne, wat ons lede bemagtig om effektief volhoubare uitkomste na te streef, te skep.

Minimum lone

  • Elke plaas is ʼn unieke onderneming wat nie vergelykbaar is met enige ander plaas of onderneming nie.
  • Eenvormige minimumlone dwarsdeur die land is gevolglik nie haalbaar nie, teenproduktief en onbekostigbaar.
  • Boere moet hulleself verskans deur maksimale meganisering.

Klik Hier Vir Arbeid Riglyne

Eiendomsreg/Privaat besitreg

  • TLU SA onderskryf die wettige en legitieme behoud van en aanspraak op wettig-verkreë besitreg. Hierdie eienaarskap is ononderhandelbaar en verdien die volle beskerming van die Grondwet.  Verandering van sodanige eienaarskap is slegs aanvaarbaar binne die begrip van vrywillige afstand daarvan of ooreenkomstig universeel-aanvaarbare regsprosesse waartoe die eienaar bekostigbare en vrye toegang het en wat ooreenkomstig internasionale praktyk geskied.  Privaatbesit van produksiemiddele is noodsaaklik vir die uitoefening van verantwoordelike rentmeesterskap.
  • TLU SA staan dus enige wetgewing of praktyke teen wat hierdie beginsels versaak en wat op diskriminerende wyse ‘n ekonomiese stelsel bevorder wat die reg en waarborg van privaat eiendomsbesit in die gedrang bring. Vir die doeleindes van hierdie uitgangspunt, word die volgende as “Eiendomlik” geag: 

         Taal, kultuur, opvoeding en historiese erfenis

         Roerende eiendom

         Onroerende eiendom

         Gelykheid voor die reg

         Burgerskap

         Menswaardigheid

  • Hierdie toedrag van sake word tans ernstig bedreig. Dit is gevolglik noodsaaklik vir ʼn organisasie soos TLU SA om nie alleen in die belang van sy lede nie, maar ook in belang van alle deelnemers in die landboubedryf, sy standpunt met betrekking tot bepaalde invloede en verwikkelinge, ondubbelsinnig te stel.
  • TLU SA onderskryf die uitgangspunt dat die mens beleef voorspoed in skeppende, produktiewe arbeid en privaat eiendomsbesit. Dié beginsel bevestig dat op die lange duur produktiewe werk volgens ons Christelike roeping as kommersiële landbouers, kennis, wysheid, verantwoordelike bestuur en privaatbesit van produksiemiddele, die basis is van die reg op eiendom.  Eiendomsreg is die grondslag van ’n ekonomiese stelsel van ’n vrye ekonomie met beperkte staatsinmenging en wat groeiende ekonomiese omstandighede verseker.  In die lig van hierdie beginsels staan TLU SA by die kommersiële boer vir die behoud van sy grond (plaas) en vir die bedryf van volhoubare landbouproduksie in ’n vrye ekonomie.

Onteiening

  • Onteiening mag slegs geskied as dit noodsaaklik is vir verbetering van infrastruktuur of in soortgelyke algemene openbare belang.
  • Onteiening moet dan gepaard gaan met markverwante vergoeding aan diegene wat onteien word.
  • Die boere het nie grond gesteel nie.
  • Die begrip “ontneming” is ʼn term wat in die Grondwet weggesteek is, waardeur boere hulle minerale- en waterregte verloor het, sonder vergoeding. Dit is niks anders as onteiening sonder vergoeding nie met ander woorde diefstal en sosialisties in sy wese.

Onteiening sonder vergoeding

  • TLU SA verwerp die standpunt van onteiening sonder vergoeding aangesien dit as blatante diefstal beskou word en enige beleggingsmoontlikhede in Suid-Afrika sal benadeel.
  • Geen lid het onregmatig sy grond bekom nie.
  • Die negatiewe impak van onteiening sonder vergoeding, hetsy in die Grondwet of deur middel van wetgewing, sal vernietigend vir ekonomiese groei wees.

Esta-wetgewing / Huurarbeiders

  • Arbeiders wat regte op plase vestig deur hulle geskiedenis as arbeider op die plase is ʼn onbillike praktyk en gaan boere se bedrywe nie-winsgewend maak en uiteindelik verwoes. Dit is diskriminerend van aard aangesien in geen ander bedryf of selfs in die staatsdiens vestig arbeiders sodanige regte nie. 

Grondhervorming oftewel Grondherverdeling

TLU SA is nie gekant teen nuwe toetreders tot die landboubedryf nie, mits hulle wil boer en die verantwoordelikheid wat dit verg om boer te wees aanvaar.

  • Grondherverdeling bly ʼn polities-emosionele proses wat nie met ekonomiese realiteite rekening hou nie;
  • Grondherverdeling sal slegs slaag as dit deel is van die vryemark-proses waar gewillige kopers hulle grond aankoop, desnoods met regeringshulp, maar hulle sodoende verpligtinge en verantwoordelikhede kry om na te kom;
  • ʼn Behoorlike en geloofwaardige grond-oudit moet voltooi word voordat nog grond gedwonge op rassebasis van eienaar verwissel word;
  • Die boere het nie grond gesteel nie – uitlatings in die verband moet onmiddellik gerepudieer word met die nodige feite.
  • TLU SA het inderdaad reeds in ongeveer 2010 ʼn beloning van R100 000 aangebied aan enige individu wat kan bewys dat enige lid van TLU SA hul grond gesteel het. Die geld is steeds veilig.

Swart ekonomiese bemagtiging (SEB)    

  • Die proses rondom AgriSEB het sedert die eerste fase waarby TLU SA nie betrokke was nie heelwat interaksie teweeggebring. Met die daarstelling van die “Steering Committee” is TLU SA wel betrek en is daar deurlopend duidelik standpunt op skrif ingeneem oor die posisionering van TLU SA.  Die tekortkominge ten opsigte van die proses en die nadelige effek wat dit op voedselsekerheid gaan hê is telkens uiteengesit. 
  • TLU SA is van mening dat die eise en benadering nie haalbaar is nie. Nie alleen bedreig dit wettig verkreë eiendomsreg nie, maar dit verdeel ekonomiese eenhede in onekonomiese eenhede.  Dit sal lei tot die ondergang van kommersiële landbou.
  • Daar bestaan haalbare, praktiese en voldoende alternatiewe om die toetrede van swart boere tot die landbousektor moontlik te maak sonder die toepassing van beide die Wet op die Herstel van Grondregte sowel as AgriSEB. Die benutting van staatsgrond, grond wat op die ope mark beskikbaar is en die beginsel van “gewillige verkoper – gewillige koper” sal tot beter resultate asook gesindhede lei.
  • TLU SA bevorder binne die raamwerk van aanvaarbare wetgewing, die konsep van Breë Basis Ekonomiese Bemagtiging (BBEB) waarin die betrokkenheid van die Staat tot ‘n minimum beperk word en die breë basis van ekonomiese bemagtiging deur kundigheid, vermoëns en bestuurbare ekonomiese kragte bepaal sal word.
  • TLU SA is die enigste landbou-unie wat by die daarstel van die AgriSEB-handves, dit nie onderteken het nie.
  • Enige gedwonge inmenging in enige onderneming se bedryf of eienaarskap, tas die vryemarkbeginsel aan en kom neer op sosialisme.

Transformasie in die landbousektor

  • Die begrip “transformasie” en wat elk daaronder verstaan is belangrik.
  • In die belang van almal betrokke, is dit belangrik dat ekonomiese volhoubaarheid en stabiliteit in die sektor gehandhaaf word.
  • Die produksie van voedsel en vesel, asook die verdienste van buitelandse valuta moet nie deur die proses nadelig beïnvloed word nie.
  • Die Staat het die verpligting om nuwe toetreders na behore te bemagtig met inbegrip van redelikheid en winsgewendheid sonder dat ander deelnemers in die sektor met hierdie verantwoordelikheid belas word.
  • Waar daar van mentorskap gebruik gemaak word, moet sodanige betrokkenheid en oordrag van kundigheid, op ‘n vrywillige basis geskied sonder dat die finansiële situasie van mentors benadeel word.
  • Die belangrike punt hier is wat bedoel die verskillende rolspelers met die begrip “transformasie”? Indien enige handeling nie die ekonomiese volhoubaarheidstoets slaag nie, is dit kortsigtig en uiters gevaarlik om daarmee voort te gaan.
  • TLU SA se definisie van die begrip “transformasie” is ʼn meetbare positiewe verandering in stelsels of van ʼn spesifieke ontwikkelingsgebied tot voordeel van alle partye sonder die benadeling van enige rolspeler.

Buitelandse besit van grond

  • Die besitreg van grond is ʼn aangeleentheid wat deur die regering verpolitiseer is en wat tot nadeel van die ekonomie in die toekoms ons duur te staan kom.
  • TLU SA is van mening dat grondbesit ʼn aspek is wat grootliks deur die ekonomie gerig moet word.
  • ʼn Kundige boer wat grond optimaal benut moet die basis van beredenering bly. Indien buitelandse kapitaal sou veroorsaak dat grond op die korrekte wyse benut word en dit as kapitaalinspuiting in ʼn gemeenskap ʼn bydrae maak kan dit nie afgeskiet word nie. 
  • Die gevaar bestaan egter dat grondbesit later nie meer in balans is nie, moet teen gewaak word. Meganismes kan ingestel word om buitelandse besit te reguleer. 
  • Dit is egter nie eenvoudig nie aangesien dit maklik is om ʼn binnelandse vennoot te kry en sodoende enige kontrole oor hierdie besitreg te omseil.
  • Daar moet gewaak word dat die balans van buitelandse grondbesit nie die SA Burgers se regte tot grondbesit versteur nie.

Klik Hier Vir Eiendomsreg Riglyne:

Mentorskappe

  • Die daarstel van ondersteuningsdienste vir boere (alle kategorieë) in watter vorm ook al bly die verantwoordelikheid van die regering.  
  • TLU SA is van oortuiging dat sy lede ʼn vrywillige keuse daartoe kan maak om wel as ʼn mentor op te tree indien die regering sodanige boer teen vergoeding sal inkontrakteer.  
  • Dit bly die boer se keuse om sodanige mentorskap te aanvaar al dan nie.  Die spelreëls waarteen sodanige mentorskap gedoen word moet net behoorlik vooraf bepaal word en moet boere wat wel hul hierin begewe waak daarteen dat die verantwoordelikheidsplasing korrek sal geskied.
  • Daar behoort nie gediskrimineer te word teen boere wat om welke rede ook al, nie by mentorskap-programme betrokke kan wees nie.

Kleinboer vestiging

  • TLU SA besef dat die gebruik gevestig is in Suid-Afrika waar ʼn bestaansboerdery benadering as deel van die sisteem beskou word.  
  • Die probleem is dat dit in baie gevalle nie ekonomies volhoubaar is nie en dat die gebruik in ʼn groot mate ʼn verdere las op Suid-Afrika plaas.  
  • Indien hierdie konsep moet voortgaan sal daar ernstig gekyk moet word dat dit ekonomies volhoubaar moet wees.  
  • Om produktiewe grond wat bydrae tot voedselsekerheid daarvoor aan te wend is ʼn onverantwoordelike benadering en sal die gevolge vir Suid-Afrika op die lang duur negatief wees.  
  • Die regering behoort hulle beleid en vestiging van klein boere te toets teen volhoubaarheid en moet die nodige aanpassings gedoen te word ten einde te verseker dat dit nie ʼn las veroorsaak vir die land nie.
  • Alles in ag genome, bly TLU SA steeds oortuig dat voedselsekerheid deur die kommersiële boere gewaarborg word en nie deur die bestaans- of in baie gevalle die opkomende boere nie, totdat hulle hulself opgewerk het tot kommersiële status.

Landbou se rol in die ekonomie

  • Die benadering om landbou se rol in die ekonomie te meet aan die bydrae wat gemaak word tot die BBP is tegnies korrek.  Aspekte wat egter ook in ag geneem moet word indien die rol van landbou in die ekonomie verreken word is:

Die strategiese waarde wat voedselsekuriteit vir ‘n land teweeg bring;

Die rimpeleffek deur die res van die ekonomie indien primêre kommersiële landbou tot stilstand kom of selfs net ‘n redelike insinking beleef kan moeilik bereken word.  

Die rol wat gespeel word om die landelike gebiede te stabiliseer;

Die instandhouding van die plattelandse besighede a.g.v. landbou se ekonomiese inspuiting;

Werksgeleenthede wat geskep word;

Die invloed op alle insetverskaffers indien hul produkte nie meer aangekoop word nie.

  • Die owerheid se taak is om ‘n klimaat te skep waarin die ekonomie kan gedy.  Enige verantwoordelike regering sal die waarde en belangrikheid van landbou in die totale ekonomie besef en seker maak dat die speelveld sodanig gelyk gemaak word dat kommersiële landbou oor ekonomiese redes in stand gehou sal word.

Ekonomiese Volhoubaarheid van landbou

  • Talle nuwe wette en regulasies het ‘n uiters negatiewe uitwerking op die landbousektor.  In die meerderheid van gevalle, was hierdie nuwe maatreëls eensydig geïmplementeer sonder dat die landbousektor sinvolle insette kon lewer.  
  • Landbouers is prysnemers en elke addisionele koste wat produksie beïnvloed, is in werklikheid vir die produsent se eie rekening aangesien dit nie deur die prysstruktuur geabsorbeer kan word nie.

Klik Hier Vir Ekonomiese Sake Riglyne

 TLU SA se oorkoepelende Doelstelling: “om die boer veilig en ekonomies volhoubaar op sy grond te hou”, resoneer in die Omgewingsbewaringskomitee se doelstellings.  Vandag se landbouer met moderne boerderymetodes is ook, soos wat die kultuuropdrag in die Bybel bevestig, ’n bewaarder van God se skepping.  As hierdie bewaring nie plaasvind nie, sal landboutoestande so verswak dat dit voedselsekerheid in gevaar sal stel.  In ’n land soos Suid-Afrika, wat nie landbou-vriendelik is nie, sal dit katastrofies wees.

 

Behoud van natuurlike hulpbronne

  • Die volhoubare benutting van Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne is vir TLU SA ʼn saak van groot erns.  Dit verg dat elke grondeienaar of benutter bewaringspraktyke moet toepas in hul boerderypraktyke.  Volhoubare produksie van voedsel en vesel kan slegs geskied as die natuurlike hulpbronne daartoe in staat is.  Daar moet sover moontlik in harmonie met die natuur geboer word.  Die verantwoordelikheid om toe te sien dat roofpraktyke nie toegepas word nie is gesetel by die regering en moet wetgewing in die verband nougeset toegepas word.
  • Die “ontneming” van water is ʼn vorm van onteiening.  Boere het reg op onbesoedelde water.  Die Staat het ʼn verpligting om onbesoedelde water te waarborg, veral noudat hy homself as “voog” daaroor aangestel het.

 

Water-aangeleenthede

TLU SA aanvaar (met kommer) dat alle water onder voogdyskap van die Staat is en dat dit dan die staat se verantwoordelikheid is om genoegsame veilige water vir mense, diere, plante en industrie beskikbaar te stel teen billike tariewe sonder diskriminasie.  Ons dring daarop aan om as vennoot beskou te word en na enige openbare gesprek genooi te word en om ook op enige komitee of werkgroep van die Departement Waterwese en Sanitasie te dien.  Ons verklaar onsself bereid om met ander georganiseerde groepe oor water-aangeleenthede saam te werk maar behou die reg om aan enige vergaderings, werkgroepe of enige ander liggaam te onttrek.

 

Bestaande waterregte moet gerespekteer word omdat die waarde en produksievermoë van grond daardeur beïnvloed word. 

 

Waterbesparing & -besoedeling

  • TLU SA moedig die ontwikkeling van moderne besproeiingsmetodes aan om daardeur water te bespaar.
  • TLU SA steun die ontwikkeling van nuwe plant variëteite om met minder water meer te produseer.
  • TLU SA sal nie ophou om waterbron besoedelaars te rapporteer en aandring op vervolging van diesulkes nie

 

Myne en Eksplorasie

  • TLU SA erken die wye voorkoms van minerale en metale in Suid-Afrika en staan nie in die pad van die ontginning daarvan nie.  TLU SA sou wou sien dat gunstige beleggingsmoontlikhede geskep kan word sodat hierdie minerale en metale eers verwerk kan word in finale of semi- finale produk voor dit uitgevoer word om daardeur meer werksgeleenthede te skep, opleidings- en opvoedingsgeleenthede te skep en meer buitelandse valuta verdien kan word.
  • TLU SA sal enige onwettige myn- of eksplorasie-projekte beveg waar dit ’n landbouer se grond bedreig of die potensiaal toon van water en ander besoedeling.  Enige mynbou of eksplorasie projekte wat die potensiaal toon om tot natuurrampe te lei sal teengestaan word.

 

Bewaringslandbou

  • Ons het een bodem met bepaalde vermoë wat, indien dit nie korrek benut word nie, die produktiewe vermoë daarvan, sal vernietig.  Derhalwe streef TLU SA na bewaringsboerdery-praktyke ten einde ons hulpbronne optimaal maar ook volhoubaar te kan benut.
  • Daarom sal TLU SA, as verantwoordelike verteenwoordigende landbou- organisasie, met ander organisasies saamwerk om bewaringslandbou as konsep by ons lede te bevorder.

 

Energie

  • TLU SA is van mening dat ESKOM in die kort tot medium termyn nie volhoubaar elektrisiteit teen bekostigbare tariewe sal kan voorsien nie en dat ons as organisasie ons sal beywer om na alternatiewe metodes van kragopwekking te soek om ’n landbouer sodanig te bemagtig dat hy nie meer van Eskom, of enige regeringsinstansie afhanklik sal wees vir kragvoorsiening nie.
  • Daarom sal TLU SA met alle organisasies en die Regering saamwerk om ’n betroubare en bekostigbare kragnetwerk daar te stel.

 

Infrastruktuur

  • ‘n Moderne en goed-ontwikkelde infrastruktuur is, net soos ander aspekte, essensieel vir enige gesonde ekonomie.  Geen ekonomie kan daarsonder vooruit gaan nie.  Dit is die ratte wat veroorsaak dat die hele stelsel funksioneer, dit skep die vermoë om ‘n produk vinniger en beter te lewer (selfs die internasionale krediet- evalueringsinstansies beoordeel ‘n land se kredietwaardigheid deur o.a. die omvang en kwaliteit van sy infrastruktuur in oënskou te neem).  
  • Sonder ‘n goed-ontwikkelde infrastruktuur is ‘n land dus minder mededingend, sal nie maklik buitelandse valuta verdien nie en derhalwe sal dit nie sy internasionale verpligtinge kan nakom nie.  
  • Gevolglik sal so ‘n land nie langtermyn-beleggingsfondse trek nie.  Dit sal uiteindelik weer die groeikoers verlaag – ‘n bose kringloop indien die owerheid se ekonomiese keuses nie korrek gemaak word nie.  
  • Die daarstel, instandhouding en veral die uitbouing van ‘n dinamiese en gesonde infrastruktuur is en bly die verantwoordelikheid van die staat.  TLU SA se uitgangspunt is dat die dinamika vir die daarstel van infrastruktuur buite die plaas die verantwoordelikheid van die staat is en moet bly.
  • Slaggate in paaie is onaanvaarbaar en ʼn bedreiging vir landbou en voedselsekerheid;
  • Motoriste betaal genoeg deur lisensiegelde en brandstofheffings dat tolgelde, waardeur private maatskappye bevoordeel word, ʼn onnodige onding is;
  • Die tendens dat gemeenskappe nou self toetree om slaggate reg te maak is ʼn aanduiding van die moedeloosheid met munisipaliteite wat net eenvoudig nie aandag daaraan skenk nie en in baie gevalle so bankrot is dat hulle totaal disfunksioneel geword het.

Die verval van die land se spoorwegstelsel het teweeggebring dat grootmaat vervoer tans op paaie moet geskied wat derhalwe weer ʼn negatiewe impak op die toestand van alle paaie het.  Ongelukkig vind die nodige instandhouding van paaie nie plaas nie.

Hantering van Plaaslike Regeringsaangeleenthede 

Die impak van die volgende aspekte het ‘n wesenlike negatiewe uitwerking op die Ekonomiese Volhoubaarheid van Landbou:

  • Wet op Plaaslike Regering:  

Munisipale Eiendomsbelasting (Wet 6 van 2004) asook Strukture wet (Wet 117 van 1998).  

TLU SA besef dat eiendomsbelasting saamgestel word uit publieke dienste wat gelewer word vir die gemeenskap wat o.a. insluit begraafplase, skoonmaakdienste, hantering van publieke oorlas, sport fasiliteite, slagpale, parkering en paaie binne die munisipale dorpsgebied sowel as die inkomste wat die munisipaliteit moet verkry vir die ontwikkeling wat binne sy grense as prioriteit beskou word om die ekonomiese vooruitgang van alle inwoners te ondersteun.

Die wetgewing plaas ʼn verantwoordelikheid op alle inwoners om belasting te betaal maar stel ook spesifieke regulasies daar waaraan die munisipaliteit moet voldoen. 

TLU SA se standpunt is dat ons as wetsgehoorsame burgers erken en besef daar is ‘n verpligting op alle inwoners om eiendomsbelasting te betaal maar kan daar slegs aan die vereiste voldoen indien:

Die munisipaliteit volgens wetlike regulasies die verordeninge en beleide korrek toepas en aan wetlike aspekte voldoen aangesien die plaaslike regering amptenare dienaars is wat in belang van die publiek hulle mandaat moet uitvoer;

Die eiendomsbelasting volgens wetgewing bekostigbaar is vir die grondeienaar en nie ʼn negatiewe invloed uitoefen op die volhoubaarheid van landbou nie;

Die munisipaliteit sy onderneming in die ontwikkelingsplan in terme van ontwikkeling en dienste nakom.

Bogenoemde plaas dus ‘n verpligting op elke lid van TLU SA om betrokke te raak by die munisipaliteit se aktiwiteite veral in terme van die ontwikkelingsplan en begroting sodat daar nougeset deurlopend die aktiwiteite van die munisipaliteit bepaal kan word, nagegaan word en daar binne die ooreenkoms van die ontwikkelingsplan aan die beloftes wat aan die gemeenskap gedoen is, voldoen word.  

Waar daar dus ‘n gebrek ontstaan by die munisipaliteit waaraan daar nie voldoen word nie, moet daar deur kommunikasie die gebrek aangespreek word en reggestel word.  Daar moet gepoog word met onderhandeling om die gebrek wat bestaan te beslis deur ʼn verminderde toepassing van belasting.  Slegs waar daar geen ander uitweg is om die aangeleentheid uit te klaar nie, kan daar oorweging geskenk word om ‘n dispuut te verklaar wat ‘n ekonomiese impak kan hê op die munisipaliteit. 

TLU SA se lede moet deeglik kennis neem van die aspekte van ʼn dispuut ten einde enige negatiewe effek wat daaruit kan voortspruit, deeglik in ag te neem.

TLU SA besef dat eiendombelasting saamgestel word uit publieke dienste wat gelewer word vir die gemeenskap wat o.a. insluit begraafplase, skoonmaakdienste, hantering van publieke oorlas, sport fasiliteite, slagpale, parkering en paaie binne die munisipale dorpsgebied sowel as die inkomste wat die munisipaliteit moet verkry vir die ontwikkeling wat binne sy grense as prioriteit beskou word om die ekonomiese vooruitgang van alle inwoners te ondersteun.

Die wetgewing plaas ʼn verantwoordelikheid op alle inwoners om belasting te betaal maar stel ook spesifieke regulasies daar waaraan die munisipaliteit moet voldoen. 

TLU SA se standpunt is dat ons as wetsgehoorsame burgers erken en besef daar is ‘n verpligting op alle inwoners om eiendombelasting te betaal maar kan daar slegs aan die vereiste voldoen indien:

Die munisipaliteit volgens wetlike regulasies die verordeninge en beleide korrek toepas en aan wetlike aspekte voldoen aangesien die plaaslike regering amptenare dienaars is wat in belang van die publiek hulle mandaat moet uitvoer,

Die eiendombelasting volgens wetgewing bekostigbaar is vir die grondeienaar en nie ʼn negatiewe invloed uitoefen op die volhoubaarheid van landbou nie,

Die munisipaliteit sy onderneming in die ontwikkelingsplan in terme van ontwikkeling en dienste nakom.

Bogenoemde plaas dus ‘n verpligting op elke lid van TLU SA om betrokke te raak by die munisipaliteit se aktiwiteite veral in terme van die ontwikkelingsplan en begroting sodat daar nougeset deurlopend die aktiwiteite van die munisipaliteit bepaal kan word, nagegaan word en daar binne die ooreenkoms van die ontwikkelingsplan aan die beloftes wat aan die gemeenskap gedoen is, voldoen word.  Waar daar dus ‘n gebrek ontstaan by die munisipaliteit waaraan daar nie voldoen word nie, moet daar deur kommunikasie die gebrek aangespreek word en reggestel word.  Daar moet gepoog word met onderhandeling om die gebrek wat bestaan te beslis deur ʼn verminderde toepassing van belasting.  Slegs waar daar geen ander uitweg is om die aangeleentheid uit te klaar nie, kan daar oorweging geskenk word om ‘n dispuut te verklaar wat ‘n ekonomiese impak kan hê op die munisipaliteit. 

TLU SA se lede moet deeglik kennis neem van die aspekte van ʼn dispuut ten einde enige negatiewe effek wat daaruit kan voortspruit, deeglik in ag te neem.

Die rol van plaaslike besture/regering

  • TLU SA onderskryf die uitgangspunt dat daar verskillende gesagdraende liggame (regerings-vorme) is nl. die van die individu, die gesin, die kerk en kultuur, en burgerlike gesag.  Alle gesag van die staat is afgeleide gesag en kan plaaslike owerhede nie optree anders as deur gesag wat wetlik van hoër regeringinstellings afgewentel word nie.  
  • Die Plaaslike Owerheid het daarom die aanspreeklikheid teenoor die hele gemeenskap, en nie net teenoor die regerende politieke party nie, om die reg te handhaaf en kriminaliteit te straf, onpartydig op te tree in regsake, ’n vrye en veilige omgewing te skep vir produksie in ’n vrye ekonomie, en om tirannie en monopolie te voorkom.  
  • Die Plaaslike Owerheid het ook die verantwoordelikheid om nie op die terrein van die burgerlike gemeenskap te oortree en dit eensydig te wil beheer en bestuur nie aangesien so ’n optrede die basis van die diktatuur van die party in die gemeenskap is.  
  • TLU SA tree binne regverdige wetgewende gesag op sonder die opgawe van regte om sodoende die kommersiële landbouer se belange te verteenwoordig en te bevestig.  
  • TLU SA is by plaaslike bestuur betrokke sonder partypolitieke verbintenis en sal voortdurend as landbou organisasie die bestuur en lewering van dienste moniteer en daarvolgens vir boere belange optree.

Grondbelasting en volhoubare kommersiële landbou

  • TLU SA onderskryf die uitgangspunt dat belastings deel is van die staatsbestel van Suid-Afrika en dat elke burger verantwoordelik is vir die betaling van persoonlike belasting.  
  • Belastings en heffings wat op ’n onbillike aanslag van belastingheffing neerkom sonder deursigtige en eerlike finansiële bestuur en lewer van dienste word as dwaling en wanbestuur beskou.  
  • Landbougrond is vir kommersiële landbou ’n produksiemiddel en word gereken nie belasbaar te wees nie.  
  • Die belasting van landbougrond word alleen ondersteun indien die toepassing daarvan volgens die prosedure van die toepaslike wette gedoen word, die nodige ooreenkomste oor uitvoerbare dienste met grondeienaars nagekom is, billike waardasies voltooi is, en onbekostigbare belasting op landbougrond opgeskort word.  
  • TLU SA se standpunt is steeds dat landbougrond as produksiemiddel nie buite verband belasbaar moet wees nie, en dat daar slegs vir publieke dienste wat die landbouer se aktiwiteite ondersteun betaal behoort te word.

TLU SA erken ekonomiese ontwikkeling op terreine binne die plaaslike regering bestel wat ʼn positiewe invloed kan meebring tot die landbouer se ondersteuningbasis. (Slegs ʼn opmerking ter ondersteuning: Dws die regering kan dus ondersteun word bv. in die bou van klinieke waar daar ʼn tekort is sodat ons werkers die nodige dienste bekom indien nodig.  Daar kan verskeie sulke voorbeelde wees.)

Klik Hier Vir Plaaslike Regering Riglyne

Voedselsekuriteit

  • Voedselsekuriteit is ’n kritieke element van enige staat se strategiese profiel.  Suid-Afrika is in die bevoorregte posisie om tot nou in die binnelandse behoefte te voorsien en waardevolle buitelandse valuta te verdien.  Hierdie toedrag van sake is egter in gedrang na aanleiding van vele faktore soos veiligheid, politieke ingryping met betrekking tot privaatbesit en oneweredige internasionale kompetisie.
  • Die versekering van voedselsekuriteit bly ’n primêre verantwoordelikheid van die owerheid en TLU SA eis dat dit gehandhaaf word deur middel van praktiese ondersteuning en die regte klimaatskepping.

 

Samewerking in georganiseerde landbouverband

  • TLU SA het nog altyd konsekwent die behoefte uitgespreek dat daar samewerking moet wees ten opsigte van gemeenskaplike belange wat nie deur bepaalde beginselstandpunte beïnvloed word nie.  TLU SA sal derhalwe namens sy lede met enige organisasie binne die georganiseerde landbou in gesprek tree om oplossings vir gemeenskaplike vraagstukke te soek.  In hierdie verband poog TLU SA deurgaans om ʼn opbouende rol te vervul.

 

Eenheid in landbou

  • Sedert TLU SA (op daardie stadium nog die Transvaalse Landbou-unie) uit die grondwet van die destydse Suid-Afrikaanse Landbou-unie (SALU) uitgeskryf was is daar ‘n uitreik aksie deur TLU SA se leiers na alle ander rolspelers in die kommersiële landbou-omgewing om in beste belang van landbou te poog om ‘n gesamentlike standpunt oor landbousake te kan inneem.  Hierdie versoeke wat tydens besoeke daar sowel as per skrywes gerig was is ongelukkig nie altyd positief hanteer nie.  TLU SA is op rekord en sal steeds daarmee voortgaan om eenheid na te streef vir kommersiële boere.  Hierdie versugting tot eenheid is vir TLU SA om verskeie redes ‘n keuse en moet sekere uitgangspunte geld indien daar enige sprake van inbinding vir eenheid kan wees nl.

Dit moet ‘n beginsel inbinding wees;

Die kommersiële boer se beste belang moet voorop gestel word;

Georganiseerde landbou kan op geen wyse toelaat dat hy ‘n politieke naprater van enige politieke party word nie;

Daar moet ‘n gesonde afstand van die regering van die dag gehandhaaf word;

Die organisasie (georganiseerd) is ‘n middel (meganisme) tot ‘n doel en mag daar nooit toegelaat word dat die organisasie die doel word nie;

‘n Kommersiële landbou-organisasie se doel moet wees om te poog om kommersiële boere in veiligheid, volhoubaar op hul grond te hou.  Die krag van kollektiewe bedinging skep juis daardie vermoë.  TLU SA is op rekord en sal dit steeds nastreef om eenheid rondom hierdie uitgangspunte in beste belang van die kommersiële boer na te streef.

 

Strategiese Bondgenote

  • TLU SA sluit samewerkingsooreenkomste met bondgenote en potensiële bondgenote in verskeie sektore om sy beleid, standpunte en strategiese vermoëns te versterk om as “’n vesting vir die kommersiële boere” diensbaar te bly in die landbou.
  • Strategiese bondgenote word betrek op grond van hul beginsels, vermoëns en standpunte.
  • Strategiese Bondgenote impliseer nie noodwendig permanente inbinding oor ʼn ongedefinieerde spektrum in nie, maar is eerder gefokus op spesifieke sake.

 

Benutting van forums vir skakeling

  • TLU SA is van mening dat gesonde dialoog en gesprekvoering tussen rolspelers wat dit erns het met die landbou-omgewing goed is, selfs al is daar verskille in uitgangspunt.  Ten einde sinvolle vordering te kan maak is die volgende aspekte van toepassing alvorens daar oorweging geskenk kan word om deel te neem aan sodanige gesprekke:

Deelname geskied in die vorm van ‘n forum;

Dit behels dat elke organisasie / deelnemer sy identiteit behou en nie verswelg kan word deur ander rolspelers nie;

Indien daar nie konsensus oor ‘n saak tussen al die rolspelers is nie is daar geen forum standpunt nie – selfs ook nie ‘n meerderheidstandpunt nie;

Samesprekings geskied op grond van ‘n vooraf ooreengekome sakelys;

Indien daar nie duidelikheid is oor die standpunt wat deur die forum ingeneem word nie het elke rolspeler die geleentheid om eers met sy organisasie te gaan bekragtig alvorens enige besluit gefinaliseer word;

Indien daar wel konsensus is oor ‘n saak word die besluit dan ‘n forum sowel as die onderskeie deelnemers se besluit.

  • TLU SA sal elke keer die meriete van die aangeleentheid ontleed om te bepaal of dit wenslik is en selfs die moeite werd is om wel aan ‘n forum deel te neem.  Dit wat in beste belang van die lede is sal as riglyn dien om ‘n keuse vir deelname te maak al dan nie.  Die geleentheid wat hom kan voordoen om teenoor ander rolspelers standpunte te kan stel is vir TLU SA positief in die sin dat ons standpunt is die standpunt van die praktiserende kommersiële boer en indien ander rolspelers daarop kan inkoop is dit ten goede.

 

Verhouding met bedryfsorganisasies

  • Bedryfsorganisasies word deur TLU SA as ‘n deel van die georganiseerde landbou-familie beskou.  Die onderskeid tussen die Algemene Sake organisasies soos TLU SA en die onderskeie bedryfsorganisasies is gesetel in die werksterreine wat vir elk gedefinieer is.  
  • TLU SA moedig sy lede aan om lid te word by die spesifieke bedryfsorganisasie wat diens lewer in sy spesifieke boerderyvertakking.  
  • Die belangrikheid van die bedrywe lê grootliks daarin dat hulle fokus op die nodige produkontwikkeling, bemarking, navorsing, ens. terwyl die algemene sake aspekte soos arbeid, veiligheid, eiendomsregkwessies, watersake, energie, AgriSEB, ens. gelos word vir bv. TLU SA.  
  • Hierdie werksafbakening is belangrik om te verhoed dat daar nie enige misverstande ontstaan nie.  TLU SA respekteer elke bedryf in sy outonomiteit.
  • Die benadering wat TLU SA volg t.o.v. die bedrywe behels dat hulle versoek word om te affilieer as ‘n spesiale kategorie lid.  Dit behels dat hulle volwaardige sitting in die Algemene Raad sowel as by die Kongres sal hê.  
  • Die onderskeie bedryfsorganisasies sal sodoende in die posisie geplaas wees om toegang tot TLU SA se inligting te bekom wat aangewend kan word om net nog beter keuses te kan maak in beste belang van landbou.
  • Die onderskeie bedrywe spesialiseer op ander sake as landboubeleidsake en moet waak daarteen om hulself so te posisioneer dat hul deur hul optrede in die praktyk, maar ook deur implikasie landboupolitieke keuses maak.

 

Onderhandeling / Gesprekvoering / Bedinging

  • TLU SA bevestig die standpunt dat konfrontasie wat ontstaan uit meningsverskille, beginsel uitgangspunte, dwang of intimidasie opgelos moet word.  
  • Om dit te bereik word onderhandeling, gesprekvoering of bedinging as metodes van konflikbeslegting gebruik.  
  • TLU SA onderhandel nie oor erkende en aanvaarde beginsels nie, maar voer gesprek en bedinging om strategiese doelwitte te bereik, sonder om van regte afstand te doen.  
  • Onderhandelinge geskied slegs tussen partye met ’n gelykstandige beginselgrondslag.  
  • Gesprekvoering word gebruik om TLU SA se idees of standpunte aan die opposisie oor te dra en te debatteer, en die forum vir gesprekvoering oop te hou.  Bedinging word gebruik om met ander tot ’n ooreenkoms te kom wat tot beide partye se guns is.  
  • Hierdie wyses van konflikbestuur word op alle vlakke van die organisasie, sonder om afstand te doen van beginsels of regte, gebruik om TLU SA se standpunt oor te dra en te vestig, en sodoende konflik te vermy of te hanteer.

 

Vrye assosiasie

In ’n ware demokrasie behoort die burgery binne universele gedragsreëls en eie norme in staat te wees om vrylik en sonder benadeling van regte en aansien te assosieer.  Die neiging om vrye keuse in Suid-Afrika te veroordeel as die handhawing van “apartheid” is ongegrond en in direkte teenstelling met die ‘demokrasie” wat wyd verkondig word.

Veiligheid in die landbousektor

  • Die status quo is onaanvaarbaar.  Moord, aanranding, verkragting, roof, diefstal (insluitend vee- en wilddiefstal en produkte), brandstigting, betreding en onwettige grondbesetting en intimidasie duur voort terwyl die Kommandostelsel uitgefaseer was voordat die Sektorpolisiëringstelsel na behore geïmplementeer is.  Lg. bied nie vir landbouers ʼn geloofwaardige alternatief nie.  Gevolglik versleg die situasie m.b.t. Landelike Veiligheid.
  • Die negatiewe invloed van die Wet op die Beheer van Vuurwapens verswak enersyds die weerbaarheid van boere terwyl dit andersins ʼn onaanvaarbare ingryping in privaatbesit impliseer.  Die koste verbonde aan die hernuwing van vuurwapenlisensies en wat daarmee gepaardgaan, is ewe onaanvaarbaar.
  • TLU SA aanvaar dat wettige en verantwoordelike eienaarskap van vuurwapens ʼn kritiese element van privaat besitreg is.  Daarbenewens het landsburgers die reg om lewe en eiendom teen bedreiging te beskerm.  Gevolglik ag TLU SA die Wet op die Beheer van Vuurwapens as ʼn aantasting wat beide privaatbesit en persoonlike veiligheid bedreig.  Die voorgeskrewe maatreëls wat die aankoop en lisensiëring van nuwe vuurwapens bepaal, word as onprakties, duur en omslagtig geag.  Gevolglik sal TLU SA alle opsies oorweeg en toepas om die proses tot so mate te beïnvloed, dat verdienstelike aansoekers nie negatief daardeur beïnvloed sal word nie.
  • A.g.v. swak polisiëring, word boere gedwing om teen eie koste veiligheidsmaatreëls te tref.  Uitgawes in hierdie verband kan nie by produkpryse ingewerk word nie.
  • Onvoldoende grensbeheermaatreëls lei tot ʼn gevaarlike toename in onwettige vreemdelinge en dieresiektes.
  • Boere het ook ʼn reg op lewe en elke plaasmoord en-aanval is een te veel en onaanvaarbaar.
  • Die Staat kan nie onthef word van sy plig om boere se veiligheid in terme van die Grondwet te beskerm nie.
  • Boere moet daarom hulle eie beveiligingstrukture vestig en bedryf ter wille van hulle eie oorlewing.
  • Veiligheidsonkoste wat boere moet aangaan as gevolg van die regering se versuim behoort belasting-aftrekbaar te wees.

SAPD dienslewering

  • Die SAPD is grondwetlik verplig tot dienslewering aan die gemeenskap ongeag kultuur, geloof, etnisiteit of status.  Hierdie dienslewering moet professioneel wees en intyds wees.
  • TLU SA is van mening dat die vlak en gehalte van dienslewering in die algemeen, maar in besonder t.o.v. die landbougemeenskap, toenemend versleg.

Veiligheid en uitvoering van wetlike vereistes

  • Die staat in ʼn demokrasie het primêr drie funksies om te vervul naamlik hy moet toesien dat die klimaat geskep word waarin die ekonomie kan gedy.  
  • Daarin het hy ʼn beperkte regulerende rol te speel.  Verder moet hy na die veiligheid van die burgers van die land omsien.  
  • Hierdie verantwoordelikheid moet nooit weggeneem word nie deurdat inwoners gedwing word om na hul eie veiligheid om te sien.  
  • Netso is die staat verder verantwoordelik om te verseker dat alle wetgewing sonder uitsondering geïmplementeer en nagekom word.  Die blootlegging van die staat se onvermoë in die verband moet deurlopend aan die nasionale en internasionale klok gehang word.  

Klimaatskepping en disinformasie

  • Die ANC spesialiseer daarin om sedert hul aan bewind gekom het om dmv beloftes aan die eenkant maar ook deur middel van vrees die kiesers te manipuleer om vir hul te stem.  
  • Uitlatings van hul leier dat die voorvaders na hul gestuur sal word om hul siek te maak indien hul nie vir die ANC stem nie is blatante viktimisasie.
  • Dieselfde geld vir die verlies van sosiale toelaes wat deur kiesers ontvang word.  
  • Die verheffing van politici as heiliges is direk in konflik met TLU SA se geloofsbegronding en is verwerplik.  
  • Die ANC se beleid is grootliks op leuens gebaseer deurdat ʼn verdraaide geskiedenis met sekere klemme uitgedra word en is dit ons taak om dit bloot te le.  
  • Die onsekerheid wat geskep word werk negatief in op mense se keuse om verder te investeer.  
  • Leiers moet deurlopend ons lede inspireer en bemoedig en toerus met die ware feite om stabiliteit te bewerkstellig.

Verset en anargie

  • Die omstandighede in ons land word uitgebuit en kan lei tot ernstige konflik, bloedvergieting en vernietiging van infrastruktuur en eiendom.

As Christen gee die Bybel baie duidelik riglyne van hoe daar in verset teen onregmatighede gehandel moet word.  Derhalwe sal TLU SA hom laat lei hoe Calvyn in sy Institusie, duidelik die Skrifgebonde weg van verset uiteengesit het.

Klik Hier Vir Veiligheid Riglyne

Windscreen Masters

Enige lid/vriend wat deur Windscreen Master hul ruit laat vervang, kan dit op die plek van sy keuse laat doen. Windscreen Master hanteer ook die skakeling met die lid/vriend se makelaar/versekeraar asook die registrasie van die eis indien van toepassing.

Verco Energy

Verco Energy lewer goedkoper diesel aan TLU SA affiliasies/lede/vriende in sekere afleweringsgebiede.

Timac Agro

Spesiale aanbiedinge om kunsmis teen beter pryse aan te koop, slegs vir TLU SA-lede.

Relevante artikels

NBM

TLU SA se ooreenkoms met NBM bepbaal dat TLU SA affilliasies/lede/vriende afslag ontvang op verskeie versekeringsprodukte

Hendrik de Swardt

082 852 8039

Philippie de Beer

083 230 4583

Relevante artikels

LWO

Die LWO ondersteun boere as werkgewers in alle aspekte rakende arbeidsregwetgewing.

MarketVest

MarketVest maak gebruik van gevestigde, gekontrateerde groenkaart tegniese kontrakteurs regoor die land wat vinnig hulp kan verleen met aanbevelings en installasies. Vir elke suksesvolle afgehandelde installasie wat deur TLU SA na MarketVest verwys word, ontvang TLU SA ʼn verwysingfooi.

Firearms Guardian

Firearms Guardian is ’n unieke korttermynversekeringspakket vir vuurwapeneienaars. Dit bied dekking teen regskostes en aanspreeklikheidseise, wat spruit uit selfverdediging, skiet-ongelukke, strafregterlike vervolging, jagtogte wat skeefloop, sportskiet-ongelukke, en vele meer.

Finco Finance

Finco Finance ondersteun TLU SA-lede met finansiering by handelsbanke.

Pitkos

Die Pitkos is TLU SA se nuusbrief slegs vir lede. Hierin gee ons vir lede inligting oor die aksies waarby ons betrokke is, standpunte wat ons inneem, spesiale aanbiedinge wat vir lede beding is, opkomende geleenthede en waardevolle inligting soos aankondigings in die Staatskoerant wat op landbou betrekking het.