Diegene wat oor die mees akkurate data en betroubare inligting beskik, is diegene wat die beste ingeligte besluite kan neem.
In ’n wêreld waar inligting voortdurend en vanuit alle moontlike oorde op ons afgestuur word, het die vermoë om feite van persepsies te onderskei al hoe belangriker geword.
Die wêreld van kommunikasie het inderdaad ontplof, en die skrapnel van hierdie ontploffing het nog nie eens behoorlik oral sy impak gemaak nie. Die grootste uitdaging vandag is nie om inligting te bekom nie, maar eerder om te onderskei tussen dit wat akkuraat en betroubaar is en dit wat misleidend, ongegrond of selfs gevaarlik kan wees.
Sosiale netwerke het daartoe gelei dat bykans elke persoon met toegang tot ’n sleutelbord of videokamera hom- of haarself as ’n meningsvormer kan vestig. Die gevaar ontstaan wanneer daar bloot na bewerings verwys word met die woorde: “Hulle het dit iewers gesê.” Wie hierdie “hulle” is, is dikwels moeilik om vas te stel. Sulke bronne is gewoonlik baie uitgesproke wanneer probleme uitgewys en emosies aangewakker moet word, maar bied selde konstruktiewe oplossings. Dit lei dikwels tot ’n klomp warm lug wat vrygelaat word en uiteindelik bloot wegwaai.
Dit beteken nie dat mens nie krities hoef te wees nie. Ons moet ook toegee dat daar in Suid-Afrika genoeg rede bestaan om sterk standpunt in te neem oor dit wat verkeerd gaan. Die uitdaging is om, te midde van al hierdie realiteite, oplossings te vind wat tot ’n beter uitkoms lei.
’n Ingeligte mens is immers beter toegerus om verantwoordelike besluite te neem. Daarom is dit noodsaaklik om ’n onderwerp krities te ontleed en veral die onderskeie inligtingsbronne deeglik te ondersoek. Slegs dan kan ’n mens ’n eie, gebalanseerde en so akkuraat moontlike begrip van die werklikheid vorm.
Die beïnvloedingskrag van kommunikasie lê daarin dat dit persepsies vorm, en dat hierdie persepsies weer mense se keuses beïnvloed. In die landbou het ons dit oor die jare heen op verskeie maniere ervaar.
Toe margarien op groot skaal op die mark bekendgestel is, is verbruikers deur middel van bemarkingsveldtogte oortuig dat dit gesonder as botter is. Nie lank daarna nie, het die boodskap egter verander en is botter weer as die gesonder keuse voorgehou.
Verbruikersvoorkeure speel ’n deurslaggewende rol in die mark. Uiteindelik bepaal die verbruiker se koopkrag en keuses in ’n groot mate wat geproduseer en bemark word. Dit bring ons by die huidige debat oor kunsmatige of laboratoriumvleis. Daar is reeds lande, waaronder Italië en Hongarye, asook sommige deelstate in die Verenigde State van Amerika, waar beperkings op die vervaardiging en bemarking van hierdie produkte ingestel is.
Daar bestaan steeds verskeie vrae waarop duidelike antwoorde ontbreek, onder meer oor moontlike langtermyngevolge vir verbruikers. Die beginsel van deursigtigheid behoort hier voorop te staan. Dit is onaanvaarbaar dat ’n laboratoriumproduk sonder meer as gewone vleis bemark word. Dit behoort ’n eie, duidelike benaming te hê sodat verbruikers presies weet wat hulle koop en wat uiteindelik op hul borde beland. Die verbruiker het die reg om ingeligte keuses te maak.
Dit is ook belangrik om stil te staan by die verskillende mediabronne en die wyse waarop hulle verslag doen. Elke mediainstelling het ’n redaksionele beleid en ’n bepaalde benadering tot die sake waaroor berig word. Dit beteken egter nie dat die feite en die interpretasie daarvan dieselfde saak is nie. ’n Duidelike onderskeid moet getref word tussen die feite van ’n saak en die redaksionele perspektief waaruit dit aangebied word.
Gevestigde media-instellings wat oor baie jare ’n reputasie opgebou het, het immers ook hul geloofwaardigheid om te beskerm. Om feite doelbewus te verdraai, kan daardie geloofwaardigheid ernstig skaad. Tog beïnvloed die redaksionele rigting van ’n publikasie noodwendig die soort perspektiewe wat beklemtoon word en die ondersteuningsbasis wat dit opbou. Dit beïnvloed ook hoe lesers die betroubaarheid van ’n bepaalde media-instelling beoordeel. Elke mens kyk immers na die wêreld deur sy of haar eie bril en verwag dikwels dat die media dieselfde bril moet dra om geloofwaardig te wees.
Op ’n breër vlak word die politieke en ekonomiese gesprek dikwels deur sentrum-regse en sentrum-linkse denke beïnvloed. Vanuit ’n sentrum-regse ekonomiese perspektief word klem gelê op die beginsel dat welvaart geskep word deur mense wat verantwoordelikheid aanvaar, ekonomies aktief is en binne ’n raamwerk van private eiendomsreg en vrye markte funksioneer. Daarteenoor staan benaderings wat groter sentrale beheer en sosialistiese ekonomiese modelle voorstaan. Suid-Afrika se ervaring oor die afgelope drie dekades bied genoeg stof tot nadenke oor die gevolge van verskillende beleidskeuses.
Die belangrike vraag wat elkeen van ons, maar veral ook die media, behoort te vra, is: Watter denke en beleidsbenaderings bou werklik aan ’n volhoubare toekoms?
Media-instellings moet besef dat hul geloofwaardigheid uiteindelik deur hul lesers en gebruikers beoordeel word. Die wyse waarop hulle inligting aanbied, die perspektiewe wat hulle bevorder en die oplossings wat hulle help ontsluit, speel alles ’n rol.
Kommunikasie behoort immers meer te wees as bloot die verspreiding van inligting of die aanwakker van emosies. Dit behoort konteks te skep, begrip te bevorder en mense in staat te stel om verantwoordelike besluite te neem. Indien die media ’n toekomsgerigte en konstruktiewe benadering ondersteun, kan dit help om die samelewing na ’n meer volhoubare raamwerk te oriënteer – een wat op verantwoordelikheid, welvaartskepping en ontwikkeling gebou is, eerder as op ’n kultuur van voortdurende eise.
Uiteindelik is die vraag nie hoeveel inligting ons ontvang nie, maar hoeveel daarvan ons regtig verstaan en of dit ons help om beter besluite vir die toekoms te neem.
Hierdie artikel deur Bennie van Zyl het oorspronklik op 27 November 2026 in Pretoria FM se Nuusweek verskyn.








