James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Welvaart word geskep, nie herverdeel voordat dit bestaan nie

Bennie van Zyl

1. Van kritiek na oplossings

Ons wil hulde bring aan ons boere, wat ten spyte van moeilike en dikwels onsekere omstandighede steeds voortgaan om te produseer, te investeer en verantwoordelikheid te aanvaar. Spesiale erkenning kom ook ons leierskap op alle vlakke toe, want dit is hulle wat help om beleid, rigting en koers aan te dui. Dit is waaroor ons vriende as borge in ’n groot mate bestaansreg het en al die vriende van die media iets het om oor te skryf wanneer dit oor enige aspek van landbou gaan.

TLU SA se standpunt dat daar nie teen markkragte baklei kan word nie, bly ‘n belangrike boodskap van realistiese hoop. Die mark bepaal uiteindelik of ‘n onderneming ekonomies volhoubaar is. Dit is juis hierdie ekonomiese werklikheid wat ons moet erken en waarop ons die toekoms moet bou.

Die landboustorie se resultate is sigbaar op markte, maar die proses waardeur dit bereik word, speel dikwels in ‘n donker kamer af. Dit is waar die media ‘n besondere rol het: om die lig aan te skakel sodat die publiek kan verstaan wat boere doen, watter uitdagings hulle hanteer en hoe hulle tot die land se funksionering bydra.

Suid-Afrika word daagliks oorval met emosionele uitsprake oor alles wat verkeerd loop. Die probleme is werklik, die gevolge van swak beleid ernstig en die publiek se frustrasie verstaanbaar. Sosiale media het boonop ‘n wêreld geskep waarin elkeen met toegang tot ‘n sleutelbord of videokamera homself as ‘n kenner kan voordoen.

Verantwoordelike en akkurate verslagdoening is daarom belangriker as ooit. Kritiek lewer is maklik, maar waar is die oplossings?

Kritiek sonder realistiese oplossings is nie leierskap nie. Ons moet ophou om mislukking bloot te ontleed en begin fokus op die voorwaardes wat sukses moontlik maak.

2. Welvaart word geskep, nie bloot herverdeel nie

Suid-Afrika se ekonomiese grondslag rus op ‘n relatief klein deel van die bevolking wat formeel werk, ondernemings bedryf, produktief deelneem en persoonlike inkomstebelasting betaal. Met ongeveer 1,5 miljoen persone wat ongeveer 80% van persoonlike inkomstebelasting betaal, is dit duidelik dat ‘n beperkte deel van die bevolking ‘n buitengewoon groot bydrae tot die staat se direkte belastinginkomste lewer.

Hierdie mense en die ondernemings waarin hulle betrokke is, vorm ‘n belangrike deel van die ekonomiese fondament waarop openbare dienste, infrastruktuur en maatskaplike ondersteuning gebou moet word.

Dit bring ‘n eenvoudige ekonomiese waarheid na vore: ‘n Land kan nie volhoubaar welvaart verdeel indien daar nie voortdurend nuwe welvaart geskep word nie.

Die doel behoort te wees om meer mense ekonomies aktief en produktief te maak, eerder as om die bestaande produktiewe grondslag voortdurend verder te belas en te verswak.

Die gesprek oor ongelyke welvaart moet daarom ook fokus op produktiwiteit, vaardighede, ondernemingskap, werksetiek, verantwoordelikheidsaanvaarding, kennis en die skep van ekonomiese geleenthede.

3. Ideologie teenoor ekonomiese werklikheid

Sedert 1994 het transformasie ‘n sentrale beleidsbeginsel in Suid-Afrika geword. Die toepassing daarvan het op talle terreine voorkeur aan ideologiese doelwitte bo kundigheid, prestasie en ekonomiese volhoubaarheid gegee.

Kaderontplooiing, politieke bevoordeling, onbeheerde staatsinmenging, tenderkorrupsie en beleid wat beleggersvertroue ondermyn, het ernstige skade aan staatsinstellings en die ekonomie aangerig.

Die gevolge is sigbaar in onder meer munisipaliteite, Eskom, Denel, SAL, die spoorwegstelsel en die Poskantoor.

Hierdie is nie bloot administratiewe mislukkings nie. Dit weerspieël bestuursbesluite en politieke prioriteite waarin ideologie te dikwels belangriker as ekonomiese uitkomste geword het.

Geen ekonomie kan volhoubaar groei wanneer politieke oorwegings kundigheid, produktiwiteit en finansiële verantwoordbaarheid verdring nie. Die ekonomie funksioneer nie volgens politieke slagspreuke nie, maar volgens vertroue, investering, vraag, aanbod en volhoubare opbrengste.

Suid-Afrika moet daarom wegbeweeg van ‘n opeiskultuur na ‘n boukultuur. Daar is ‘n wesenlike verskil tussen mense wat geleenthede aangryp, vaardighede ontwikkel, ondernemings bou en verantwoordelikheid aanvaar en ‘n ingesteldheid waarin die staat of ander mense voortdurend as die primêre oplossing vir persoonlike omstandighede beskou word.

Dit beteken nie dat armoede geïgnoreer moet word nie. Ondersteuning behoort mense egter te bemagtig om deel van die ekonomie te word, eerder as om permanente afhanklikheid te bevorder.

Onderwys moet jongmense voorberei om selfstandig te dink, probleme op te los, toepasbare vaardighede te ontwikkel, verantwoordelikheid te aanvaar en produktief tot die ekonomie by te dra. Dit moet ook ondernemingskap en werkskepping bevorder.

4. Die voorwaardes vir ‘n funksionerende ekonomie

Die staat skep nie op sigself volhoubare welvaart nie. Sy verantwoordelikheid is om die omstandighede te skep waarbinne individue en ondernemings dit kan doen.

Dit vereis ‘n aantal ononderhandelbare ekonomiese voorwaardes:
*Beleggingsvertroue
*Beskerming van eiendomsreg en regsekerheid.
*’n Bevoegde, onpartydige staatsdiens.
*Minder onnodige regulering en burokratiese struikelblokke.
*Verantwoordbare staatsbestuur
*Erkenning van die privaat sektor as die primêre dryfkrag vir volhoubare werkskepping.
*Vaardigheidsontwikkeling en beroepsgerigte onderwys.
*Aanstellings op grond van kundigheid en bewese vermoë.
*Streng aanspreeklikheid vir korrupsie en wanbestuur.
*Meetbare prestasiedoelwitte vir staatsinstellings.
*Verantwoordelike besteding van belastingbetalersgeld.
*Rasionele ekonomiese beleid waar die markkragbeginsel sy rol speel.

Beleidsbesluite moet aan hul werklike ekonomiese gevolge gemeet word. Geen beleid behoort beskerm te word bloot omdat dit ideologies aanvaarbaar klink – terwyl dit investering ontmoedig, werksgeleenthede vernietig of produktiewe kapasiteit verswak.

Veiligheid as voorvereiste vir ekonomiese groei

Geen ekonomie kan floreer waar mense, ondernemings, eiendom en infrastruktuur nie veilig is nie. Misdaad is nie bloot ‘n maatskaplike probleem nie, maar ook ‘n direkte ekonomiese bedreiging.

Korrupsie, georganiseerde misdaad, afpersing, veediefstal, plaasaanvalle, infrastruktuurvandalisme en geweldsmisdaad ondermyn investering, landbouproduksie, werkskepping en gemeenskapsveiligheid.

Dit vereis bevoegde en toegeruste polisie- en speurdienste, doeltreffende ondersoek en vervolging, die uitroeiing van korrupsie binne wetstoepassingsinstellings en samewerking met bevoegde privaat veiligheidsinisiatiewe en gemeenskappe.

Veiligheid is nie ‘n luukse nie. Dit is ‘n basiese voorvereiste vir ekonomiese ontwikkeling.

5. Die media: Van blootlegging na oplossings

Die media het ‘n onontbeerlike rol om die publiek ingelig te hou en politieke en openbare instellings aanspreeklik te hou. Kritiese joernalistiek moet beskerm en aangemoedig word.

Daar is egter ‘n verskil tussen die blootlegging van probleme en die bevordering van ‘n konstruktiewe openbare gesprek.

Die media behoort daarom net nog beter aandag te gee aan vrae soos:
*Watter beleid lewer werklik ekonomiese groei?
*Wat skep vertroue by plaaslike en buitelandse beleggers?
*Watter onderwys- en opleidingsmodelle lewer werksgereed jongmense?
*Watter ondernemings skep volhoubare werk?
*Watter praktiese misdaadbekampingsinisiatiewe lewer resultate?
*Hoe kan suksesvolle ekonomiese en gemeenskapsinisiatiewe uitgebrei word?

Ons het genoeg ontleding van waarom Suid-Afrika misluk en daaroor moet ons eerlik wees. Die publiek verdien ook ‘n ernstige gesprek oor hoe Suid-Afrika weer kan slaag.

6. TLU SA se boodskap: Kies uitnemendheid bo middelmatigheid

TLU SA se benadering is gegrond op die oortuiging dat volhoubare vooruitgang deur verantwoordelikheid, kundigheid, produktiwiteit, ondernemingskap en uitnemendheid bereik word.

Die landbou bewys daagliks dat ekonomiese sukses nie deur politieke slagspreuke geskep word nie, maar deur kennis, investering, harde werk, risikobestuur en volgehoue produktiewe deelname.

Boere verstaan dat winsgewendheid nie ‘n luukse is nie, maar ‘n voorvereiste vir voortbestaan. Die mark gee uiteindelik die finale antwoord. Daarom kan ‘n boer nie sy omstandighede bloot aan ander oorlaat nie, maar moet hy verantwoordelikheid aanvaar en die beste moontlike besigheidsbesluite neem.

Hierdie beginsels behoort ook op nasionale vlak te geld.

Landbou is deel van die oplossing vir Suid-Afrika se ekonomiese uitdagings. Dit dra by tot voedselvoorsiening, uitvoere, werkskepping, plaaslike ekonomiese ontwikkeling en belastinginkomste.

TLU SA verwerp daarom beleidsrigtings en praktyke wat ekonomiese groei, eiendomsreg, veiligheid, investering en produktiewe deelname ondermyn. Ons staan vir ‘n Suid-Afrika waarin mense die geleentheid het om deur hul eie vermoë, inisiatief en harde werk ‘n beter toekoms te bou.

Die keuse is tussen ideologiese volharding en ekonomiese uitnemendheid.

Suid-Afrika het nie nog politieke slagspreuke nodig nie. Dit het ekonomiese realisme, bevoegde leierskap en die politieke wil nodig om te doen wat werk. Ons kan nie welvaart skep deur diegene wat dit produseer voortdurend te ontmoedig nie. Ons kan nie werkloosheid oplos sonder investering, ondernemingsgroei en produktiewe deelname nie. Ons kan ook nie ontwikkeling verwag sonder veiligheid, eiendomsreg, kundigheid en verantwoordbare bestuur nie.

Die pad vorentoe is duidelik: minder ideologie en meer ekonomiese werklikheid; minder politieke bevoordeling en meer kundigheid; minder afhanklikheid en meer produktiewe deelname; minder verdraagsaamheid vir mislukking en korrupsie, en meer verantwoordbaarheid en uitnemendheid.

TLU SA se boodskap is eenvoudig: Suid-Afrika moet ophou om mislukking te bestuur en begin om sukses moontlik te maak.
Welvaart word geskep deur mense wat bou, produseer, investeer en verantwoordelikheid aanvaar. Dit is die grondslag waarop Suid-Afrika se toekoms gebou moet word.

7. Strategiese boodskap aan die media

TLU SA behoort drie kernboodskappe konsekwent in sy mediakommunikasie te herhaal:
*Welvaart word geskep, nie bloot herverdeel nie.
*Werkskepping kom uit ‘n groeiende privaat sektor, nie uit politieke beloftes nie.
*Sonder veiligheid, eiendomsreg, kundigheid en beleidssekerheid is volhoubare ekonomiese groei onmoontlik.

Ons beroep op die media is om nie net die lig op probleme te laat val nie, maar ook te help om die pad na oplossings aan te wys.

Daar moet groter erkenning wees vir dit wat werk, vir die mense wat bou en vir die beginsels wat ekonomiese sukses moontlik maak.

Die uitdaging is om nie bloot die gevolge van ‘n mislukte ideologie te probeer bestuur of regverdig nie, maar om die land se gesprek doelgerig te verskuif na dit wat nodig is om sukses te behaal.

Dit is die boodskap van realistiese hoop. Dit is die pad na ekonomiese uitnemendheid.

Hierdie toespraak is op 16 November 2026 tydens die TLU SA-mediafunksie deur Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, gelewer.

Kategorie:

Deel dit:

Welvaart word geskep, nie herverdeel voordat dit bestaan nie