Plaas info@emails.tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
Februarie 2025
 

TLU SA het sedert die begin van die proses om die Onteieningswet te wysig, en selfs met die poging om die Grondwet te wysig, by elke geleentheid ons standpunt sterk ingedring. TLU SA het selfs in die Parlement gaan getuig en die gevare volledig vanuit ’n ekonomiese oogpunt uitgewys. Die beklemtoning van die belangrikheid om nie die vertroue in beleggings, wat die grondslag lê vir ekonomiese groei, te skend nie, het egter op dowe ore geval.

TLU SA se Eiendomsregkomitee, sowel as die Ad Hoc-groep vir die Beskerming van Privaat Eiendomsreg en die rondetafelgesprek wat deur die Vrye Markstigting gereël is, waar verskeie organisasies betrokke was, het telkens volledig ooreengestem oor die gevare vir Suid-Afrika se toekoms indien die wet, soos dit tans daar uitsien, in werking tree. By al hierdie geleenthede is benadruk dat daar nasionaal én internasionaal bewusmaking gedoen moet word oor die vernietigende beleid van die ANC. Daar is ook voorgestel dat die Onteieningswet in die hof getoets moet word vir grondwetlikheid.

Ons is dankbaar om nou aan te kondig dat TLU SA die dienste van ’n senior advokaat en ’n regspan bekom het wat bereid is om ons kosteloos by te staan in die hantering van hierdie wet. Hulle gaan saam met ons seker maak dat die benaderings wat deur ander regspanne gevolg gaan word, nie moontlik enige gapings sal hê nie. Die advokaat het ook aangedui dat hy bereid is om saam met die ander regspanne te werk om die saak so korrek as moontlik aan te spreek.

TLU SA gaan dus nie onmiddellik met litigasie begin nie en sal ook nie onmiddellik toetree as vriend van die hof nie, maar sal dit dadelik doen indien dit nodig sou blyk te wees. Ons is baie dankbaar vir hierdie bereidwilligheid, wat ons in ’n posisie plaas om die litigasieroete te volg indien dit enigsins nodig sou wees.

 

Vriende van TLU SA

Ons dra groot waardering in ons harte vir al ons vriende wat TLU SA met soveel toegewydheid ondersteun. Ons maak gebruik van ’n belsentrum wat potensiële vriende kontak om te verneem of hulle bereid sou wees om TLU SA in ons uiteenlopende werksaamhede te ondersteun. Hierdie oproepe word dikwels gedoen op grond van verwysings.

Dit kan egter gebeur dat iemand wat reeds ’n lid of vriend van TLU SA is, per ongeluk weer gebel word. Ons vra opreg omverskoning indien dit ongerieflik is, en verseker u dat die oproep met die beste bedoelings gemaak is. Indien daar enige ongemak ontstaan oor die aard van so ’n oproep, nooi ons u uit om dit onder ons aandag te bring.

Ons ervaring met die agente wat hierdie oproepe doen, is dat hulle hul uiterste bes probeer om so professioneel as moontlik op te tree. Aan hulle rig ons ’n opregte woord van dank.

Die bydraes van ons vriende – hetsy finansieel of deur voorstelle en insette – verryk TLU SA se standpunte en stel ons daagliks in staat om sterker te staan in die strewe na ons primêre doel: om ons kommersiële boere veilig en volhoubaar op hulle grond in produksie te hou.

Oningeligte optredes en standpunte

Onlangs het dit weer duidelik geword hoe sekere rolspelers met venyn op sosiale netwerke probeer om individue en organisasies te diskrediteer deur ’n afkraak-benadering te volg. TLU SA het ook hierdie ervaring gehad. In sulke tye moet ons doelbewus kalm bly en besef dat ons wel kan en mag verskil, maar as Christene behoort dit volgens die riglyne van Mattheus 18 te geskied. Die Bybel leer ons om tot 70 x 7 keer te vergewe, maar vir sommige mense blyk dit amper onmoontlik te wees. Ironies genoeg is die aantygings dikwels ver verwyderd van die waarheid.

Niemand is volmaak nie, en ons almal maak beslis foute. Gegewe die uitdagings wat ons land tans in die gesig staar, behoort ons eerder mekaar se tekortkominge aan te vul as om dit aan die groot klok te hang. Die eerbare pad, wat met integriteit bewandel moet word, is om verskille privaat te hanteer. Mag ons die krag ontvang om nie af te daal na die vlak waarop sommige mense blykbaar hul beginsels beoefen nie.

Sosiale media

Wat ’n omwenteling het sosiale media nie in ons samelewing gebring nie! Die dinamika van kommunikasie het tot ongekende hoogtes verskuif. Tradisionele kommunikasie, wat voorheen deur slakkepos stadig en omslagtig was, is nou in ’n oogwink moontlik – een persoon kan binne sekondes duisende mense bereik.

Elkeen het vandag ’n platform waarop opinies kwistig uitgedeel kan word. Dit is ’n uitdaging vir organisasies, wat deur spesifieke goedkeurings- en besluitnemingsprosesse moet gaan, om nie mosterd na die maal te wees wanneer inligting versprei word nie. Die waarde van organisasie-inligting lê in die betroubaarheid daarvan, aangesien dit gewoonlik bevestig is en nie as vals nuus beskou behoort te word nie.

Hoewel daar baie voordele met die koms van sosiale media is, is daar ook net soveel gevare. Die voordele is voor die hand liggend, maar die gevare verg ’n dieper analise. ’n Paar hiervan sluit in:

  1. Waarheid en feitelikheid – Nie alles wat op sosiale media verskyn, is noodwendig waar nie. Dit vereis onderskeidingsvermoë om feit van fiksie of selfs moedswillige propaganda te onderskei.
  2. Verantwoordelikheid van outeurs – In baie gevalle is skrywers nie aan enige instansie verantwoordelik nie en tree hulle in eie reg op.
  3. Negatiewe aanslag – Dit gebeur dikwels dat mense so negatief aanval dat dit moeilik is om die werklike punt van die argument te bepaal.
  4. Inkonsewent met Christelike waardes – Dit is jammer dat sommige mense hul Christelike geloof bely, maar dan kommentaar lewer met blatante leuens en taalgebruik wat niemand tot eer strek nie.

Ons moet besef dat ons land tans in ’n baie swak toestand is. Om net afbrekend en negatief op elke inset te reageer, help geensins nie. Indien daar nie opbouend en met ’n oplossingsgesinde benadering bygedra kan word nie, is dit dalk beter om eerder stil te bly. Ons mag en moet met mekaar verskil, maar volgens Mattheus 18 behoort dit op ’n waardige manier te gebeur.

 

 
 

Dit is ’n jaar van uiterstes in die Oostreek – aanvanklik te droog en toe te nat. Huidiglik lyk die streek redelik goed, maar ’n goeie, wydverspreide reënbui sal wonderlik wees. Op meeste plekke besef die boere dat daar reeds skade aan die oes was, maar hulle hoop om steeds ’n gemiddelde oes te kry. Reënval is baie sporadies, en sommige plekke het selfs hael gekry. In baie dele, veral na die suidweste van die streek, moes daar oorgeplant word en is die gesaaides baie laat. Die gesaaides het dus nog ’n lang pad om te gaan. Die weidings kon darem redelik herstel, asook fonteine en suipings vir die vee.

Middelburg, Wonderfontein en Stoffberg sukkel met koperdiefstal op spilpunte en dompelpompe. Machadodorp en Belfast is ook erg geraak deur veediefstal – op sommige plekke soveel as 26 beeste op ’n slag. Hierdie diefstal tref beide blanke en nie-blanke boere.

Die noordelike dele (van Verena tot by Badfontein) het probleme met kommandowurms in die aangeplante weidings, en baie boere moet spuit om die probleem te beheer.

Die Streeksvergadering wat op 5 Februarie 2025 gehou is, was baie suksesvol. Goeie inligting is gedeel en planne is in plek gesit om TLU SA in die streek te versterk. Die Chrissiesmeer-studiegroep hou op 5 Maart hul boeredag. Lede word ook aangemoedig om met hul plaaslike munisipaliteite te skakel en die nuwe waardasierol na te gaan.

Komitees in die praktyk

Die onderskeie komitees het ten doel om hul spesifieke werksterreine deeglik te ontleed en praktiese aanbevelings te maak oor hoe enige saak die beste hanteer kan word. Hierdie komitees kan egter net so effektief wees as die insette wat hulle van ons lede ontvang. Dit is juis deur hierdie insette dat belangrike tendense uitgewys kan word waarop daar gefokus moet word.

Die uitkomste van die komitees se werksaamhede word as aanbevelings na die Uitvoerende Komitee verwys, wat dan finaal daaroor besluit. Wanneer hierdie aanbevelings as ’n Handves, Manifes, Credo, Riglyn of standpunt geformuleer word, beoog ons om dit binnekort in ’n toeganklike biblioteek vir ons lede en affiliasies beskikbaar te stel.

Ons wil egter sterk beklemtoon dat hierdie dokumente net so relevant en prakties sal wees as die meelewende insette wat ons lede lewer. Dit is noodsaaklik dat praktiese aanpassings gemaak word namate omstandighede verander. Daarom moet al hierdie dokumente as lewendige dokumente beskou word wat deurlopend geëvalueer en bygewerk moet word soos dit nodig raak.

 

Met die onlangse swaar reën wat oor dele van die land uitgesak het, word ons herinner aan die wisselvalligheid van die natuur. Terwyl reën seën bring, kan te veel daarvan ook uitdagings meebring – van oorversadigde grond tot gewasskade. Dit is tye soos hierdie wat boere se aanpasbaarheid en deursettingsvermoë op die proef gestel word. Mag ons wysheid hê om die water te benut en moed om die uitdagings te oorkom.

 

TLU SA Jongboerkonferensie 2025 (14 Maart)

Registrasies om die TLU SA Jongboerkonferensie 2025 by te woon, is tot 3 Maart oop.

Klik hier om te registreer: https://www.tlu.co.za/jongboer-konferensie/

 

Fotos van die maand

 
Jongboer Konferensie Borge
 
Ander