Plaas info@emails.tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
Oktober 2025
 

Die jaar loop vinnig ten einde, en ons boeregemeenskap bly, soos altyd, getoets op baie fronte, ekonomies, polities en in terme van veiligheid. Tog bewys Suid-Afrikaanse boere keer op keer hul veerkragtigheid en geloof.

TLU SA staan steeds vas in sy roeping om ons lede se belange te beskerm en die stem van die produsent duidelik te laat hoor. Julle betrokkenheid in gemeenskappe en veiligheidstrukture bly ’n bron van inspirasie.

Laat ons die laaste deel van die jaar met volharding en vertroue aanpak. Wie getrou bly in moeilike tye, oes uiteindelik die vrug van sy arbeid.

Boeregroete
Bennie van Zyl
Hoofbestuurder, TLU SA

TLU SA loods Projek Plant vir die Toekoms

“Die toekoms van landbou lê in die hande van die jeug” TLU SA is opgewonde om die begin van sy “Plant vir die Toekoms”-projek aan te dui, ‘n veldtog wat daarop gemik is om die jeug van Suid-Afrika betrokke te kry by die landbousektor en hulle aan te moedig om landbou as ‘n loopbaan te oorweeg. Hierdie projek is ‘n deel van TLU SA se verbintenis om hoop vir die toekoms te plant en die volgende generasie landbouleiers op te lei, terwyl dit ook bewusmaking skep oor volhoubare landboupraktyke.

“Die jeug is die sleutel tot die toekoms van ons land en die landboubedryf. Deur hoop te plant en jongmense te betrek, wil ons nie net die landbou versterk nie, maar ook die land se toekoms bou,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

Lees meer hier.


TLU SA in die internasionale arena

TLU SA het die afgelope tyd verskeie geleenthede gehad om insette te lewer binne die internasionale arena. Hierdie betrokkenheid help om die werklikheid van Suid-Afrika se kommersiële boere in konteks te plaas. Tog is daar ’n duidelike besef dat die uiteindelike oplossings vir ons landbou-uitdagings binne ons eie grense gevind moet word.

Nietemin kan ons nie die invloed van wêreldgebeure ontken nie. Soos die wêreld al hoe “kleiner” raak, word internasionale tendense en markbewegings toenemend bepalend vir plaaslike uitkomste. Markkragte speel ’n sleutelrol in die vasstelling van pryse en dien as ’n toets vir besighede se volhoubaarheid.

Boere ervaar daagliks hoe internasionale verwikkelinge hul vermoë beïnvloed om winsgewend plaaslik te produseer. Gereeld ontstaan vrae oor die tydsberekening en volume van invoere, soos byvoorbeeld koring, en die effek daarvan op plaaslike pryse.

Hoewel markkragte noodwendig pryse bepaal, kan ’n ooraanbod, veral deur ingevoerde graan net voor die plaaslike oes, plaaslike pryse tot ’n nie-mededingende vlak laat daal. Die rol van die Departement van Landbou behoort dus deeglik oorweeg te word, veral in terme van beskerming van plaaslike produsente. Daar behoort ernstig oorweeg te word of invoere nie eerder ná die plaaslike strooptyd toegelaat behoort te word nie, sodat boere ’n billike kans kry om in hul eie mark te kompeteer.


Pretoria Boeremark blink uit!

TLU SA is trots op die span agter die Pretoria Boeremark in Silverton, wat pas drie toekennings ontvang het: Beste Mark, Beste Handwerkmark en Beste Kosmark in Pretoria.

Elke Saterdagoggend, dou voor dag, is die markspan en stalletjie-eienaars gereed om hierdie uitsonderlike diens aan Pretoria se inwoners te lewer. Vir dié wat nog nie die mark besoek het nie – hierdie Saterdag is ’n uitstekende geleentheid om die unieke atmosfeer en ware boeremensaamhorigheid self te ervaar.


Beurstoekenning vir landboustudies

TLU SA, in samewerking met Agri Skills Transfer, het onlangs ’n beurs toegeken aan Ettienne Swart van Martin Oosthuizen Hoërskool in Kakamas. Ettienne begin in die 2026/2027 akademiese jaar met sy landboustudies by Agri Skills Transfer se kampus naby Cullinan.

Die beurs dek beide sy studiegelde en verblyf, en bied vir Ettienne die geleentheid om sy landboudrome te verwesenlik. TLU SA spreek hartlike dank uit teenoor Agri Skills Transfer vir hul betrokkenheid en toewyding aan die ontwikkeling van die volgende generasie landboukundiges.

Lees meer hier.

 
 

TLU SA Limpopo

Goliat van Gat by AgriHX 2026

Ons is vol opgewondenheid oor TLU SA Limpopo se deelname aan die Goliat van Gat-projek tydens die AgriHX Ekspo by The Ranch van 19 tot 21 Maart 2026! Die skole werk hard aan hul voorbereidings.

Ons wag nog vir Pietersburg Hoërskool se foto’s, terwyl Merensky Hoërskool binnekort begin met hul projek. Eagles Nest Skool in Polokwane het reeds pragtige foto’s gestuur van hul vordering, en volgende week word daar by Curro Polokwane geplant!

Die jeug van Limpopo wys duidelik: die toekoms van landbou is in goeie hande.

TLU SA Sentraal

Boerebyeenkomste om na uit te sien

Die Cullinan boere-u nooi almal hartlik uit na hul Landboukorrels Boeredag op 28 November 2025, met die fokus op pekanneute. Dit beloof om ’n insiggewende dag vir produsente en belangstellendes te wees. Die koste beloop slegs R150, wat koffie met aankoms en ’n ete ná afloop insluit. Navrae en besprekings vir bywoning: Henri Combrink – 082 552 9428 of Lynette du Plessis – sentraal@tlu.co.za. Uitstallers is ook welkom!

Intussen maak Balfour gereed vir hul gewilde Hooidag op 21 Januarie 2026, dié keer op ’n nuwe perseel op die R23, sowat 5 km buite Balfour in die rigting van Heidelberg. Merk solank die datum in jou dagboek – besoekers kan uitsien na hooi-toerusting, demonstrasies en ’n verskeidenheid stalletjies wat vir lewendige landbou-pret gaan sorg.Uitstallers wat plek wil bespreek, kan Dawie Brits kontak by 082 884 5503.

TLU SA Vrystaat

TLU SA-Vrystaat dryf veldtog vir beskerming van landbouhulpbronne

Met groot kommer neem TLU SA-Vrystaat kennis van bedreiging van landbouhulpbronne in die Vrystaat. Oorbeweiding met gevolglike toestroming na weiding wat elders beset word, bedreiging van hoë potensiaal landbougrond, oorgrens-verhuring van hoë potensiaal weiding in Oos-Vrystaat en onregmatige verkoop van klein stukkies grond aan opkomende landbouers, bring landbouhulpbronne onder druk en veroorsaak 'n skerp toename in mynbouaktiwiteite op landbougrond. Tesame met wydverspreide veldbrande, gevolglike toenemende gronderosie, besoedeling van waterhulpbronne en toename in indringerplante staar Suid-Afrikaanse landbouers toenemende druk in die gesig. Die uitkringende effek van hierdie tendense op aangrensende of naasliggende landbougrond het groot kommer onder Suid-Afrikaanse landbouers in die algemeen en Vrystaatse boere tot gevolg. Tesame met die impak van mynbou-aktiwiteite en onregmatige grondbesettings, word gesprek op die hoogste vlak met die regering ʼn dringende aangeleentheid.

Landbouproduksie is afhanklik van landbouhulpbronne

Landbouproduksie en aanwending van landbouhulpbronne is noodsaaklik vir die voortbestaan en ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse bevolking. Gebrek aan ordelike vestiging op landbougrond, toename in mynbou-aktiwiteite in landelike gebiede en oorgrens besettings van landbougrond baar toenemend kommer oor die impak wat sodanige praktyke op landbouproduksie kan hê om in die toenemende behoeftes van die land te voorsien. Tradisioneel het die Republiek van Suid-Afrika (RSA) ʼn belangrike strategiese rol ten opsigte van voedselvoorsiening vervul – nie alleen vir die Suid-Afrikaanse bevolking nie maar ook aan ander lande wat nie voldoende voedsel produseer en in die voorsienbare toekoms nie in staat sal wees om in hul eie behoeftes te voorsien nie. Voorts is dit belangrik om kennis te neem van die feit dat die bevolkingsaanwas in Afrika hoër is as in die res van die wêreld en dat die RSA op sy beurt weer hoër is as die res van Afrika. Teen hierdie agtergrond kan die belang van landbouhulpbronne veral topografie, klimaat, grond, weiding en waterbronne nie oorbeklemtoon word nie. Voorts beskik die RSA oor ongeveer 103 miljoen ha vir landbouproduksie. Die RSA is egter nie goed voorsien van hoë potensiaal landbougrond nie. Van die totale oppervlakte beskikbaar vir landbou is daar ongeveer 15% wat geskik is vir bewerking. Goeie landbougrond beslaan egter slegs ongeveer 4% van die totale oppervlakte. Dié oppervlakte is vir nagenoeg 40% van die totale waarde van landbouproduksie verantwoordelik. By verre die grootste gedeelte (85%) van die landsoppervlakte word deur natuurlike weiveld beslaan. Weivelde in die RSA beskik nie oor hoë potensiaal nie. Ongeveer 25% daarvan beskik oor ʼn dravermoë van naastenby 18 ha per grootvee-eenheid, terwyl ʼn verdere bykans 30% ʼn dragkrag het van 8 ha tot 15 ha per grootvee-eenheid. Dit dui daarop dat meer as die helfte van die weiveld oor ʼn relatiewe lae dravermoë beskik.

TLU SA-Vrystaat ondersteun TLU SA se volgehoue inisiatiewe om bestaande meganismes - statutêr en andersins - te benut om die toekoms van landbou te verseker. 'n Beroep word op ons lede gedoen om praktyke wat landbouhulpbronne onder druk plaas aan te meld sodat tydige stappe geneem kan word om winsgewende en volhoubare landbou vir die volgende generasie landbouers te verseker.

 

Slim Tegnologie Transformeer Suid-Afrika se Landbou Vir onmiddellike vrystelling – OTT Agri Tech

Suid-Afrika se landbou beweeg vinnig in ʼn nuwe era in. Een waar data, IoT (Internet of Things), kunsmatige intelligensie (AI) en energiebestuur die ploeg, die veld en die mark byeenbring. Te midde van veranderende klimaatspatrone, stygende insetkoste en die behoefte aan volhoubare voedselproduksie, word tegnologie die spilpunt waarom doeltreffende, winsgewende en volhoubare boerdery draai.

OTT Agri Tech – die landboutegnologie-afdeling van Omnitell Tech (OTT) en deel van die White Pearl Technology Group – speel ʼn leidende rol in hierdie transformasie. Deur wêreldklas digitale innovasie, energiebestuur en kundigheid in IoT, wolkrekenaars, mobiele tegnologie en kunsmatige intelligensie te kombineer, word ʼn nuwe generasie boerdery in Suid-Afrika moontlik gemaak: slim, presies en geïntegreerd.

Lees meer hier.


TLU SA bied van die beste voordele aan sy lede, praktiese ondersteuning wat werklik ’n verskil maak. Een van hierdie voordele is ’n nuwe vennootskap met ROCKET

Ons is bly om aan te kondig dat TLU SA nou saam met ROCKET werk om lede toegang te gee tot ’n omvattende noodhulpdiens, spesifiek ingestel op die unieke uitdagings van landelike gebiede.
ROCKET CONNECT is ’n 24-uur nooddiens met toegang tot mediese advies, ambulansvervoer en, indien nodig, vinnige lugvervoer per helikopter. Hierdie diens is ontwikkel met landelike gemeenskappe in gedagte, waar hospitale ver is en tyd in noodgevalle van kritieke belang kan wees.

Deur ROCKET CONNECT het jy altyd toegang tot ’n nasionale noodsentrum wat beman word deur gekwalifiseerde mediese personeel. Hulle bied telefoniese ondersteuning, aktiveer ambulansdienste, en kan selfs lughulp reël wanneer dit nodig is. ’n Maklike mobiele toep help om vinnig jou ligging vas te stel en die naaste hulpbronne te ontbied.

Lede wat inteken, kry toegang tot:

  1. 24/7 noodondersteuning
  2. Ambulansvervoer
  3. Helikopterhulp waar toepaslik *subject to ROCKET’s flight criteria and T&Cs

Die diens kos R75 per maand, ’n bekostigbare premie vir die sekuriteit en gemoedsrus wat dit bied.

By TLU SA glo ons in gesamentlike ondersteuning en volhoubare oplossings vir boere. Hierdie diens vorm deel van ons breër verbintenis om lede se veiligheid te bevorder en realistiese oplossings te bied vir probleme wat dikwels op die plaasoppervlak geïgnoreer word.


Probleme om by TLU SA se digitale biblioteek in te teken?

Ons is bewus daarvan dat sommige lede sukkel om by die digitale biblioteek van TLU SA toegang te kry. In baie gevalle kan dit wees dat jou lidmaatskap onder ‘n ander e- posadres geregistreer is.

Só kry jy toegang:
Jy moet ‘n geregistreerde lid van TLU SA wees. Meld aan met die e-posadres waarop jy ons kommunikasie ontvang. Skep dan ‘n wagwoord – en siedaar – jy het toegang tot ‘n wêreld van kennis en hulpmiddels wat net vir ons lede beskikbaar is.

Indien jy enige probleme ondervind met die aanmeldproses, is jy welkom om vir Roelien van der Walt te kontak by ledesake@tlu.co.za vir bystand.

Besoek nou: www.tlu.co.za

 
 

TLU SA-werkswinkel oor grondeise

TLU SA verwelkom debat oor werklike ekonomiese insluiting

Groot opgewondenheid oor die 2026 Goliat van Gat Pampoenfees

AAMP: ’n Meesterplan sonder boere

 
Kongres 2025