James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Groot opgewondenheid oor die 2026 Goliat van Gat Pampoenfees

Daar heers ’n groot opgewondenheid en afwagting oor die Goliat van Gat pampoengroei-kompetisie vanjaar.

Die volgende kompetisie vind plaas op 14 Maart 2026 by Lavender Kontrei Mark in Wonderboom, Pretoria.

Dit is nou planttyd, en almal is besig om pitte te ontkiem en uit te plant om te kyk of hulle daardie R35 000 prysgeld vir ’n 1 ton  pampoen, geborg deur Laeveld Agrochem, kan wen. Daar is ook ’n verskeidenheid pryse vir deelnemers.

Hierdie jaar is die jaar van die jong kwekers by die Goliat van Gat pampoengroei-kompetisie. Cornelis Bester van Heidelberg mentor ’n paar jong kwekers en staan ook die Hoër Volkskool Heidelberg by met raad en leiding om ’n groot pampoen te kweek.

Dr. Böhmer Vaardigheidskool in Bloemfontein gaan ook Goliat van Gat-pitte plant om hul leerders ’n bietjie blootstelling te gee aan landbouproduksie.

Curro Heuwelkruin in Pietersburg, onder leiding van landboujuffrou Christelle Coetzee, se leerders gaan ’n pampoen kweek om in te skryf by die AgriXpo in Pietersburg, Maart 2026.

Dit is lekker om die oplewing onder die jong kwekers te sien.

Benewens die kompetisie in Pretoria hou TLU SA Limpopo ook ’n kompetisie by AgriXpo in Pietersburg. Daar is ook verskeie gemeenskapskompetisies wat plaasvind in ander streke.

’n Ander hoogtepunt is die toevoeging van die groot groentesoorte soos skorsies, murgpampoene, waatlemoene, tamaties, ensovoorts.

Daar is ook ’n pampoengereg-kompetisie wat beoordeel word deur Steyn’s Culinary School van Hatfield, Pretoria.

Die dag sluit in vermaak vir almal, pampoenpitspoeg, pampoenresies, stalletjies, kindervermaak, en nog baie meer.

Al die pampoene wat op die dag van die kompetisie ingeweeg word, word geskenk aan Welsynsorganisasies wat dit verwerk en versprei onder behoeftige gemeenskappe in en om Pretoria. Dit is vir ons lekker om so terug te gee aan ons gemeenskap.

Die pryse vir die kompetisie word moontlik gemaak deur ons borge: Uitkyk Vleismark, Laeveld Agrochem, Rolfes Agri, en Capital Scales.

Pitte is nog beskikbaar by Henri Combrink (082 552 9428) of by Mariëtte by TLU SA se kantore (012 804 8031).

Kategorie:

Deel dit:

Groot opgewondenheid oor die 2026 Goliat van Gat Pampoenfees