James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA: Agoa-verlies laat vrae ontstaan oor wie se belange die ANC-regering dien

TLU SA waarsku dat die Amerikaanse regering se besluit om Suid-Afrika se voorkeurtoegang ingevolge die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) te beëindig, verreikende gevolge vir die land se ekonomie, landbou en werksgeleenthede kan hê.

Die verlies aan voorkeurtoegang tot die Amerikaanse mark gaan Suid-Afrikaanse uitvoerders se mededingendheid ernstig benadeel. Produkte wat voorheen onder Agoa teen gunstiger tariefvoorwaardes uitgevoer is, kan nou duurder en minder mededingend word. Dit plaas bestaande VSA-uitvoermarkte, asook Suid-Afrikaanse ondernemings en -werksgeleenthede onder druk.

Volgens Bennie van Zyl, hoofbestuuder van TLU SA sal die motorbedryf onder meer geraak word, maar landbouprodusente en landbou-uitvoerders sal ook die gevolge moet hanteer.

“Wat verstaan die ANC-regering nie? Jy kan nie ’n belangrike handelsvennoot herhaaldelik deur jou beleidskeuses en optrede vervreem en dan verwag dat daar geen gevolge sal wees nie. Die Amerikaanse regering het sy kommer duidelik gemaak. Tog hou die regering vol met beleidsrigtings en standpunte wat Suid-Afrika se internasionale verhoudinge en ekonomiese belange benadeel,” sê Van Zyl.

Die Amerikaanse regering het onder meer kommer uitgespreek oor Suid-Afrika se handels- en beleggingshindernisse, korrupsie en kwessies rakende nasionale veiligheid en buitelandse beleid. Die spanning tussen die twee lande is verder aangevuur deur Suid-Afrika se internasionale optrede, waaronder sy saak teen Israel by die Internasionale Geregshof.

TLU SA is van mening dat die hantering van die Amerikaanse regering se vyf versoeke die verskille tussen Suid-Afrika en Amerika beklemtoon. Hoewel president Cyril Ramaphosa se spesiale adviseur, Alistair Ruiters, aanvoer dat twee van die versoeke aangespreek is en dat daar oor die ander drie gesprek gevoer word, meen die Amerikaanse ambassadeur, Leo Brent Bozell, dat Suid-Afrika nie voldoende op Washington se versoeke gereageer het nie. “Hierdie verskil in benadering plaas verdere druk op ’n handelsverhouding wat reeds onder groot spanning verkeer,” sê Van Zyl.

TLU SA meen die ANC-regering se ideologiese benadering plaas Suid-Afrika se ekonomiese belange tweede. Beleggersvertroue, beleidsekerheid en ’n veilige omgewing vir ondernemings is noodsaaklik vir ekonomiese groei. Tog skep die regering se optrede toenemend die indruk dat politieke ideologie, magsbehoud en selfverryking belangriker as die welvaart van Suid-Afrikaners geword het.

“Die ANC kan nie aanhou om die land se ekonomie deur swak beleidskeuses en onverantwoordelike optrede te benadeel, sonder om daarvoor verantwoordelik gehou te word nie. Die gevolge van die politici en diplomate se besluite, is Suid-Afrika se gevolg, nie hulle s’n nie. Dit raak die boer wat uitvoer, die onderneming wat werk skep en die werknemer wat van daardie werk afhanklik is. Die ANC moet aanspreeklik gehou word vir die gevolge van sy besluite, maar dit is gewone Suid-Afrikaners wat uiteindelik die rekening betaal,” sê Van Zyl.

Volgens TLU SA behoort die regering se verwysing na verdere diplomasie en die 60-dae-kennisgewingstydperk nie ’n verskoning vir nóg uitstel te wees nie. Die vraag is of die regering bereid is om die werklike probleme wat die handelsverhouding benadeel, dringend en prakties aan te spreek, of bloot gaan voortgaan met dieselfde benadering.

Vir landbou is die uitdaging nou tweeledig: Suid-Afrika moet sy bestaande handelsverhoudinge herstel waar moontlik, maar ook dringend alternatiewe uitvoermarkte ontwikkel. Markdiversifikasie is noodsaaklik, maar dit kan nie oornag gebeur nie en vervang nie die waarde van gevestigde handelsverhoudinge nie.

“Die vraag wat Suid-Afrikaners moet vra, is eenvoudig: In wie se belang tree die ANC op? ’n Regering se eerste verantwoordelikheid is om die land se inwoners, ekonomie en toekoms te beskerm. Wanneer politieke ideologie en eiebelang die nasionale belang oorheers, is dit nie die ANC se leiers wat eerste die prys betaal nie. Dit is die mense van Suid-Afrika,” sluit Van Zyl af.

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA: Agoa-verlies laat vrae ontstaan oor wie se belange die ANC-regering dien