Plaas info@emails.tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
Desember 2025
 

Aan die einde van 2025 wil ons graag vir almal wat hierdie jaar positief bygedra het tot TLU SA se kultuur en ons alledaagse werk in die diens van lede, ons opregte dank uitspreek. Die afgelope jaar het ons voor ‘n verskeidenheid uitdagings gestaan. Veranderlike klimatologiese toestande het vir boere groot druk en onsekerheid meegebring. Daarby kom ernstige infrastruktuurprobleme wat die beweging van produkte na markte bemoeilik, sowel as veiligheidskwessies en voortdurende beleidsonsekerheid wat deel van ons werklikheid is.

Die krag van TLU SA lê in ons gemeenskaplike boodskap en die beleidstrukture waarop ons staan. Deur lede se insette en deelname kan ons met vertroue sê dat ons standpunte die boere se standpunte weerspieël. Beleid word deur lede bepaal, en TLU SA is u organisasie met die doel om die beste moontlike omstandighede te skep waarin lede veilig en winsgewend kan boer.

Die Uitvoerende Komitee word gelei deur insette van al die strukture binne TLU SA. Dit maak dit uiters belangrik vir lede om hul strukture op alle vlakke te gebruik en tendense en uitdagings aan te meld sodat ons kollektief daarop kan reageer. Die gesamentlike wysheid en bydrae van ons lede bepaal hoe sterk ons is in die formulering van insig en standpunte. Aan almal wat daardie bydrae maak, sê ons baie dankie. Ons doel bly om die beleidsomgewing, ongeag hoe uitdagend, so positief moontlik in die belang van ons lede te beïnvloed.
TLU SA besef dat die laaste woord vir enige besigheid uiteindelik deur markkragte gespreek word, winsgewendheid is noodsaaklik. Geleenthede wat lede kan help om sterker in die mark te posisioneer, moet deur die strukture bevorder word.

Aan die einde van hierdie jaar wil ons vir elke TLU SA-lid en al ons personeel dankie sê vir die positiewe meelewing en bydrae wat werklik ‘n verskil gemaak het. Mag u en u geliefdes ‘n veilige en geseënde Feestyd beleef, en mag ons die nuwe jaar betree met dankbaarheid aan ons Skepper vir die voorreg om ons kultuuropdrag hier op aarde voort te sit.

Boeregroete
Henry Geldenhuys
President, TLU SA

 

Benutting van strukture

Daar is ’n spesifieke rede waarom TLU SA op verskillende vlakke funksioneer soos wat dit doen. Baie van die uitdagings wat lede ervaar, word immers op verskillende regeringsvlakke beleef. Munisipaliteite funksioneer byvoorbeeld elkeen outonoom binne die wet, wat beteken dat tariewe en besluite van een munisipaliteit nie noodwendig met dié van die bure ooreenstem nie. Dit maak dit noodsaaklik dat ons belange op elke munisipale vlak hanteer.

In hierdie verband word komitees saamgestel van onder af, vanaf plaaslike streke tot nasionale vlak. Ons het komitees wat fokus op Veiligheid, Eiendomsreg, Plaaslike Regering, Omgewingsake, Ekonomie, Arbeid, Jong Boere en Onderwys en Kultuur. Hierdie komitees werk met insette en insigte van ons strukture om riglyne, standpunte en manifeste op te stel wat aan die Uitvoerende Komitee voorgelê word vir finale aanpassing en goedkeuring.

Hier lê die krag van TLU SA: alle beleid word geformuleer deur die Kongres, Algemene Raad of die Uitvoerende Komitee, en dit is die verantwoordelikheid van die lede om seker te maak dat ons ’n eenvormige en duidelike standpunt as organisasie kan uitdra.

Boeregroete
Bennie van Zyl
Hoofbestuurder, TLU SA

TLU SA in ’n veranderende wêreld

Die wêreld waarin ons vandag leef, verander vinnig. Kunsmatige intelligensie en sosiale media bring ’n nuwe dinamika, waar die bronne van inligting nie altyd betroubaar is nie. Die geordende stelsels wat vroeër as siftingsmeganismes gedien het voordat standpunte rondgedra is, vervaag stadigaan. Vandag kan byna enigiemand anoniem menings vorm sonder om rekenskap te gee.

Die kommentare op sosiale media weerspieël soms ’n taalgebruik wat mens laat wonder oor die beoefening en uitbouing van die mooiste taal. Dit is juis hier waar ons met waardering terugkyk na diegene wat voor ons was en TLU SA op ’n stewige, geloofsgegronde fondament gebou het, met ’n vaste vertroue in God Drie-enig. Hulle het vir ons ’n Manifes en ’n Etiese Kode nagelaat, wat saamvat wie en wat ons is. Dit is waardevolle riglyne waarna ons gereeld kan terugkyk om ons rol binne TLU SA te definieer.


Laai jou Geloftefees-kalender hier af

Namens die Onderwys- en Kultuurkomitee van TLU SA wil ons graag almal herinner om die Geloftefeesvieringe by te woon. Hierdie vieringe is ’n belangrike deel van ons geskiedenis en kultuur, en ’n waardevolle geleentheid om saam as gemeenskap die dag te herdenk.
Kom deel in die vieringe en vier ons gedeelde waardes en tradisies.

Laai die kalender hier af.

 
 

TLU SA Hoofkantoor

Jaareind-ete by Hoofkantoor

TLU het in Desember sy jaarlikse personeelete gehou, ’n heerlike geleentheid om die jaar saam af te sluit, te lag, te kuier en dankie te sê vir almal se harde werk. Die geselligheid en vrolike gees het dit ’n spesiale dag gemaak wat nog lank onthou sal word!

TLU SA Oosstreek

Nat weer in die Oosstreek het die meeste plantwerk reeds laat voltooi, en die weidings groei pragtig. Hierdie tyd van die jaar bring egter ook diefstal, wat steeds ’n probleem bly. ’n Positiewe noot: sukses met die hondejag - oortreders is gearresteer en word vervolg. Boere is ook dankbaar vir die sonskyn wat die somer so mooi laat begin het. ’n Belangrike datum om in te teken: die Oosstreek se streeksvergadering vind plaas op 27 Januarie 2026.


TLU SA Vrystaat

Ons pleit vir beskerming van ons landbougrond

Vrystaat TLU SA is begaan oor die tempo waarteen landbouhulpbronne in Suid-Afrika in die algemeen en die Vrystaat in besonder bedreig word en in sommige gevalle duidelike tekens van agteruitgang toon. By die einde van 2025 wys Vrystaat TLU SA nie alleen op die gevare en implikasies hiervan nie, maar pleit vir ʼn positiewe, doelgerigte en gemotiveerde benadering deur alle rolspelers om die dreigende gevare van landbouhulpbronagteruitgang te stuit. In dié verband is dit van deurslaggewende belang dat die Departement van Landbou, ander staatsdepartemente en –instellings met georganiseerde landbou hande vat om in die belang van volhoubare landbou en die beskerming van landbouhulpbronne vir opkomende geslagte in belang van landbou op te tree.

Landbougrond en weiding in Suid-Afrika is oor uitgestrekte gebiede onderhewig aan stelselmatige agteruitgang. Onvermoë van staatsinstellings om statutêre verpligtinge na te kom, gebrek aan toepassing van statutêre bevoegdhede wat beskerming van landbouhulpbronne ten doel het, en verpolitisering van landbou-ekonomiese oorwegings lei tot verhoogde kwesbaarheid van landbouhulpbronne. Die volgende oorwegings behoort onder andere in aanmerking geneem te word:

  • Die relatiewe skaarste aan landbouhulpbronne en die mate van bedreiging wat dit reeds ondergaan het, tesame met die steeds toenemende druk op volhoubare produksie, neem kommerwekkende afmetings aan.
  • Die vraag na landbouprodukte neem teen ’n versnelde tempo toe met groter druk op meer intensiewe benutting van bestaande hulpbronne.
  • Toename in pryse vir landbougrond lei tot meer intensiewe benutting van landbouhulpbronne met gevolglike versnelling in agteruitgang van bestaande hulpbronne.
  • Intensifikasie van landboupraktyke vereis groter klem op beskerming van landbouhulpbronne.
  • Landbouproduksie behoort in harmonie met die natuurlike omgewingsfaktore plaas te vind, sodat boerderybedrywe binne ʼn bepaalde benuttingstelsel ooreenstem met die landbouproduksiemoontlikhede van die gebied. Byvoorbeeld, daar behoort areas te wees waar die klimatologiese toestande aandui dat dit nie geskik is om onder droëlandtoestande te ploeg nie, en waar die omgewingsfaktore eerder net vir ekstensiewe veeboerdery gebruik kan word.
  • Landbouproduksie mag nie ten koste van landbouhulpbronne geskied nie. Die feit dat ʼn bepaalde bedryfstak in harmonie met omgewingsfaktore is, bied geen waarborg dat die inherente produksievermoë van ʼn hulpbron nie beskadig en selfs vernietig kan word nie.
  • Landbouproduksie behoort op ekonomiese grondslag te geskied. Hoewel omgewingsfaktore en korrekte gebruik van hulpbronne ʼn bepaalde grondgebruikerspatroon dikteer, behoort in ag geneem te word dat die toepassing van korrekte boerderytegnieke binne onderskeie boerderybedryfstakke, met die oog op maksimum wins, in die totale opset van ʼn goeie boerdery geïntegreer is. Optimale benuttingstelsels moet onder andere voorsiening maak vir die effektiewe beskerming van privaat eiendomsreg en die menswaardige bestaan van landbouers op hul grond.

Meer gefokusde ondersteuning van georganiseerde landbou deur rolspelers in die staats- en beleidsomgewing is nie slegs ʼn ideaal nie, maar behoort ook meer effektief in die praktyk te vergestalt.

 

Veiligheid tydens die feestyd

Tydens die feestyd neem kontanttransaksies toe, en dit is noodsaaklik om ekstra waaksaam te wees. Betaal salarisse en bonusse verkieslik nie in kontant nie, aangesien dit ’n veiligheidsrisiko inhou.
Ons moedig boere aan om paraatheid te verhoog en streng veiligheidsmaatreëls toe te pas. Die feestyd word dikwels uitgebuit deur misdadigers, en deeglike voorbereiding kan voorkom dat jy en jou werknemers kwesbaar word. Bly waaksaam en beskerm jou mense en jou plaas bates.


Staatskoerant-publikasies

Meegaande staatskoerant publikasies 1/11/25 – 2/12/25, ter kennisname en gebruik waar van toepassing.

Lees meer hier.


TLU SA bied van die beste voordele aan sy lede, praktiese ondersteuning wat werklik ’n verskil maak. Een van hierdie voordele is ’n nuwe vennootskap met ROCKET

Ons is bly om aan te kondig dat TLU SA nou saam met ROCKET werk om lede toegang te gee tot ’n omvattende noodhulpdiens, spesifiek ingestel op die unieke uitdagings van landelike gebiede.
ROCKET CONNECT is ’n 24-uur nooddiens met toegang tot mediese advies, ambulansvervoer en, indien nodig, vinnige lugvervoer per helikopter. Hierdie diens is ontwikkel met landelike gemeenskappe in gedagte, waar hospitale ver is en tyd in noodgevalle van kritieke belang kan wees.

Deur ROCKET CONNECT het jy altyd toegang tot ’n nasionale noodsentrum wat beman word deur gekwalifiseerde mediese personeel. Hulle bied telefoniese ondersteuning, aktiveer ambulansdienste, en kan selfs lughulp reël wanneer dit nodig is. ’n Maklike mobiele toep help om vinnig jou ligging vas te stel en die naaste hulpbronne te ontbied.

Lede wat inteken, kry toegang tot:

  1. 24/7 noodondersteuning
  2. Ambulansvervoer
  3. Helikopterhulp waar toepaslik *subject to ROCKET’s flight criteria and T&Cs

Die diens kos R75 per maand, ’n bekostigbare premie vir die sekuriteit en gemoedsrus wat dit bied.

By TLU SA glo ons in gesamentlike ondersteuning en volhoubare oplossings vir boere. Hierdie diens vorm deel van ons breër verbintenis om lede se veiligheid te bevorder en realistiese oplossings te bied vir probleme wat dikwels op die plaasoppervlak geïgnoreer word.


Probleme om by TLU SA se digitale biblioteek in te teken?

Ons is bewus daarvan dat sommige lede sukkel om by die digitale biblioteek van TLU SA toegang te kry. In baie gevalle kan dit wees dat jou lidmaatskap onder ‘n ander e- posadres geregistreer is.

Só kry jy toegang:
Jy moet ‘n geregistreerde lid van TLU SA wees. Meld aan met die e-posadres waarop jy ons kommunikasie ontvang. Skep dan ‘n wagwoord – en siedaar – jy het toegang tot ‘n wêreld van kennis en hulpmiddels wat net vir ons lede beskikbaar is.

Indien jy enige probleme ondervind met die aanmeldproses, is jy welkom om vir Roelien van der Walt te kontak by ledesake@tlu.co.za vir bystand.

Besoek nou: www.tlu.co.za

 
 

Bek- en Klouseer skep ’n onhoudbare situasie vir boere

TLU SA spreek sy afgryse uit na die plaasmoord in Baltimore

 
Kongres 2025