Die uitbreking van Bek- en Klouseer (BKS) in die hele land, en veral in die Vrystaat, plaas toenemende druk op boerderye en landelike gemeenskappe, en die situasie raak nou onhoudbaar. Boere wat binne die 10 km-kwarantyngordels val, word feitlik tot stilstand gedwing omdat geen vee verskuif mag word voordat die gebied weer vry verklaar is nie, iets waarvoor daar geen tydraamwerk of duidelikheid is nie. Hierdie onsekerheid maak dit vir boere feitlik onmoontlik om finansiële beplanning te doen, veral waar banklimiete reeds bereik is.
Die boer op die grond beleef die hantering van hierdie staatsbeheerde siekte se uitbreking op ’n wyse wat finansieel verwoestend is. Daar is geen teken van ommekeer nie. Daar word wel beloof dat inentings sal plaasvind, maar daar is geen duidelikheid oor wie die koste sal dra, hoe die regulering sal geskied of waar die entstowwe vandaan sal kom nie. Die amptelike aankondigings en beloftes is ver verwyder van die werklikheid wat boere daagliks ervaar, waar die kloof tussen beleid en praktyk al hoe groter en die gevolge al hoe ernstiger word.
“Boere begin nou in ’n skaakmat-situasie beland. Die banke soek terugbetalingsdatums vir oorskryding-aansoeke, maar dit is iets wat eenvoudig nie gegee kan word nie,” sê Bertus van der Westhuizen, Voorsitter van TLU SA Vrystaat. Van der Westhuizen beskryf hoe die probleem ontstaan wanneer BKS in ’n plaaslike informele nedersetting uitbreek en staatsveeartse die gevalle bevestig. Hierdie situasie is nie deur boere geskep nie, maar spruit uit die staat se swak bestuur van BKS-beheer. Sodra die kwarantyngordel ingestel word, word boere se hande gebind. Intussen stap die kostes voort, terwyl geen inkomste gegenereer kan word nie. Die wet maak wel voorsiening vir vergoeding wanneer staatsingryping direkte ekonomiese skade veroorsaak, en daar kan nie van boere verwag word om die volle las van hierdie kwarantyne te dra nie. TLU SA dring daarop aan dat vergoeding vir die duur van die kwarantyn onmiddellik oorweeg word. Speenkalwers wat dringend bemark moes word, moet nou agterbly omdat hulle nie verskuif mag word nie, wat lei tot kuddes wat die drakrag van plase begin oorskry. Dit skep ’n weidingkrisis en verhoog die risiko van siekteverspreiding binne kuddes. Die staat moet verantwoordelikheid aanvaar vir hierdie bestuursfoute en die gevolge daarvan vir boere en hul lewensbestaan.
Die feestyd bring verdere potensiële spanning. Veediefstal neem jaarliks in Desember toe, en kalwers wat andersins op markte sou wees, word nou kwesbaar vir misdaad terwyl boere geen alternatiewe het om hulle te beskerm of te verkoop nie. Van der Westhuizen waarsku dat die impak van die kwarantyne nie tot plase beperk is nie. “BKS begin die platteland ekonomies erg raak. Dit raak skole, besighede, kerke en dan ook die boer wat in ’n knelband vasgevang word,” sê hy. “Motorhawens lei daaronder omdat bakkies nie meer gediens word nie; die kettingreaksie is reeds sigbaar, en mense gaan uiteindelik hul werk verloor.”
TLU SA doen ’n ernstige beroep op die departement van landbou om ’n werkbare, tydelike oplossing te oorweeg. Volgens die voorstel behoort boere binne kwarantyngebiede hul plaaslike privaat veearts te mag gebruik om kuddes te inspekteer en sertifikate uit te reik waar geen tekens van BKS gevind word nie, waar biosekuriteit nagekom word, en waar geen nuwe aankoopvee bygevoeg is nie. Hierdie sertifikate kan dan die vervoer van vee vergesel tot by hul eindbestemmings, insluitend veilingshuise, waar dit vir rekorddoeleindes ingedien kan word. Só kan ekonomiese katastrofe moontlik afgeweer word terwyl beheermaatreëls steeds gehandhaaf word.
Van der Westhuizen stel dit duidelik dat die regering dringend moet inskakel in gesprekke oor hierdie saak. “As niemand wil luister nie, gaan daar optredes kom wat gesindhede tussen die regering en boere erg gaan vertroebel. Daar is nog nie sprake van so iets nie, maar die Minister van Landbou, John Steenhuisen, sal sy deur moet oopmaak vir gesprekvoering,” waarsku hy. Boere, sê hy, kan nie langer in stilswye toekyk hoe hul lewenswerke begin vergaan nie.
“TLU SA Vrystaat bevestig dat ons graag konstruktief wil saamwerk met die ministeriële taakspan wat met BKS-beheer gemandateer is. Ons is oortuig daarvan dat organisasies soos TLU SA, wat die werklikheid op grondvlak ken, sinvolle bydraes kan lewer en praktiese oplossings kan help vorm wat beide biosekuriteit en ekonomiese oorleefbaarheid in ag neem,” sluit Van der Westhuizen af.”
TLU SA bly toegewyd aan sy mandaat om boere te beskerm en te verteenwoordig, en sal alles binne sy vermoë doen om oplossings te bevorder wat die voortbestaan van landbou in Suid-Afrika verseker. BKS is ’n ernstige uitdaging, maar met tydige samewerking tussen boere, veeartse en die staat kan die rampspoedige ekonomiese gevolge beperk word.


