|
Impak van die Midde-ooste
Te midde van die konflik in Iran het dit onmiddellik ’n impak op die olieprys gehad. Dit raak ook passasiersverkeer deur lughawens in die streek wat as aansluitpunte vir internasionale vlugte dien. Daarmee saam word sekere landboumarkte wat na dié gebied uitvoer, ook geraak.Vir landbouers beteken dit hoër pryse vir diesel en smeermiddels. Daar is ook aanduidings dat die konflik, afhangend van hoe lank dit voortduur, ’n invloed op die beskikbaarheid van kunsmis kan hê.
Dit bly egter onmoontlik om te bepaal hoe lank die situasie gaan duur of hoe groot die prysstygings gaan wees. Boere sal dus binne hul eie kapasiteit en opbergvermoë moet beplan om die impak so goed moontlik te bestuur.
Sentralisering van mag
Die omvang van hoe daar gepoog word om op alle terreine sentralisering van mag en gesag in die staat te vestig kom al hoe meer na vore. Verskeie wetgewing bring dit na vore. Ons komitees fokus sterk daarop om hierdie aspekte uit te lig en oplossings te soek. Die gevolge van die gesentraliseerde sosialistiese beleidsomgewing het Suid-Afrika reeds waar is ons met die verlies van kundigheid. Vervallende infrastruktuur, weghardlopende misdaad, swak dienslewering, werkloosheid buite beheer en ‘n ekonomie wat ver onder dit wat nodig is groei, is alles deel van ons werklikheid.
TLU SA en ons begronding
TLU SA het die gebruik om op ‘n ad hoc basis met van ons hoofstroom kerke ‘n gesprek te voer oor juis dit wat vir ons as organisasie belangrik is. Ons bestaansreg word juis vanuit ons begrondingsklousules in die Grondwet sowel as Manifes gefundeer naamlik ons bely ons absolute afhanklikheid in God Drie-enig soos geopenbaar in Sy Woord die Bybel. Daar is tans op vele terreine ‘n aanslag op die bestaansreg van ons geloof deur die staat waar selfs die kerk nie gespaar word nie. Die ondersteuning wat in gemeenskappe daargestel word in juis ‘n tyd soos nou waar landbou onder uitermatige hoë druk funksioneer is vir TLU SA belangrik.
Kontantvloei onder druk: Hoe om seisoenale onsekerheid te bestuur
Deur Kobus Oberholster
Boerdery leer ’n mens geduld. Jy saai lank voor jy oes. Jy spandeer lank voor jy ontvang. Maar in ’n ekonomiese klimaat waar insetkoste styg, rentekoerse wissel en markte onvoorspelbaar bly, kan kontantvloei-druk vinnig van ’n ongemak na ’n bedreiging ontwikkel.
Baie winsgewende plase het al onder finansiële spanning gekom, nie omdat die onderneming swak was nie, maar omdat kontantvloei nie gestruktureer bestuur is nie.
Lees meer hier.
Praktiese leergeleentheid gesoek
TLU SA doen ’n beroep op ons lede om betrokke te raak by die ontwikkeling van die volgende generasie landboukundiges.
Deur ons vennootskap met Agri Skills Transfer het ons kennis geneem van ’n student, CJ Ashurst, wat tans Dierkunde studeer en op soek is na praktiese ervaring op ’n plaas. Enige plaas met ’n fokus op dierproduksie sal vir hom van groot waarde wees.
Die student moet ongeveer 1 000 praktiese ure voltooi. Hoewel vergoeding nie ’n vereiste is nie, sal bystand in die vorm van verblyf en kos baie waardeer word.
Hierdie is ’n geleentheid vir boere om nie net kennis oor te dra nie, maar ook direk by te dra tot die volhoubaarheid en groei van ons landbousektor.
Indien u bereid is om ’n geleentheid te bied, of meer wil weet, kontak asseblief Laurika du Bois by laurika@agriskills.net.
Kommunikasiekeuses Vandag word ons elkeen oorstroom met inligting of is dit soms dalk eerder informasie, nie geverifiëer nie en dalk vals nuus. Om onderskeidend te wees in die bepaling van wat is bruikbaar en wat is vals nuus, is nie altyd so maklik nie. Wat wel belangrik is is dat ‘n ingeligte persoon ‘n beter besluit kan neem. Daarom is die deelname aan gevestigde strukture en hul amptelike kommunikasie ‘n belangrike vertrekpunt om te help om ingelig te word. Dit bly maklik en gerieflik om emosies op te jaag, maar op die einde moet werklikhede verreken word en is nagevorste data dit wat mens die verste dra.
Probleme om by TLU SA se digitale biblioteek in te
teken?
Ons is bewus daarvan dat sommige lede sukkel om by die
digitale biblioteek van TLU SA toegang te kry. In baie
gevalle kan dit wees dat jou lidmaatskap onder ‘n ander
e- posadres geregistreer is.
Só kry jy toegang:
Jy moet ‘n geregistreerde lid van TLU SA wees. Meld aan
met die e-posadres waarop jy ons kommunikasie ontvang.
Skep dan ‘n wagwoord – en siedaar – jy het toegang tot
‘n wêreld van kennis en hulpmiddels wat net vir ons lede
beskikbaar is.
Indien jy enige probleme ondervind met die
aanmeldproses, is jy welkom om vir Roelien van der Walt
te kontak by ledesake@tlu.co.za vir bystand.
Besoek nou:
www.tlu.co.za
|