TLU SA se Uitvoerende Komitee wil dit duidelik stel dat ons organisasie se rol op die Industrie Koördineringskomitee (ICC) ten opsigte van BKS is om die belange van die landbousektor te dien. As ’n lede-organisasie word ons standpunte en besluite deur ons strukture en lede bepaal.
Daar is toenemende kommer oor die huidige tempo en rigting waarin die BKS-situasie bestuur word. Dit is verstommend dat daar steeds vasgeklou word aan staatsbeheer, terwyl dit vir almal in die land duidelik is dat die nodige kapasiteit om die situasie doeltreffend te hanteer, eenvoudig nie bestaan nie. Intussen betaal landbouers regoor die land ’n onmeetbare prys as gevolg van voetslepery en die oënskynlike onwilligheid van die departement om die privaat sektor toe te laat om ’n groter rol te speel om die situasie te stabiliseer.
TLU SA wil dit duidelik stel dat die situasie waarin nie net die landbousektor nie, maar inderdaad die hele land ingedompel is, juis deur die toedoen van die staat veroorsaak is.
Teen hierdie agtergrond is daar vanuit die ICC ’n eerlike poging geloods om konstruktiewe insette te lewer en kapasiteit te ontsluit juis weens die tekort daaraan. Die doel was om die privaat sektor binne die bestaande wetlike raamwerk en onder toepaslike toesig te betrek. Hiervoor is reeds op 29 Januarie 2026 ’n Seksie 10-aansoek deur die ICC ingedien wat hierdie proses op ’n gekontroleerde wyse sou kon moontlik maak. Dit is egter totaal onaanvaarbaar dat hierdie versoek steeds nie onderteken is nie.
“Niemand wil ’n situasie hê waar entstowwe onbeheersd ingevoer en toegedien word nie, sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Die feit dat dit begin gebeur, is juis die gevolg van ’n afwesige staat wat nie sy verantwoordelikheid met betrekking tot hierdie staatsbeheerde siekte nakom nie. Die staat se onvermoë om met daadkrag en ’n sin vir dringendheid op te tree, begin nou vir die landbousektor ’n groter bedreiging word as wat BKS self is.”
Daar ontstaan tans ook toenemend vrae wat onbeantwoord bly. Dunevax het in die openbaar verklaar dat hulle die Dolvet-entstof oral in die land kan lewer teen R45 plus BTW, mits hulle toegelaat word om dit ingevolge ’n Artikel 21-aansoek, wat die proses wettig en onder kwaliteitsbeheer plaas, in te voer. Daar is min logika daarin om Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) in hierdie verspreidingsketting in te voeg, aangesien dit slegs die koste daarvan opjaag. Die enigste rasionele verklaring hiervoor is dat die geldspoor gevolg moet word. Uiteindelik is dit die belastingbetaler wat deur hierdie handeling etlike miljoene rande onnodig gaan betaal, net om ’n reeds beproefde onvermoë weer in die proses in te bring.
Indien daar werklik met verantwoordelikheid deur die staat in hierdie saak opgetree gaan word, behoort die volgende stappe onmiddellik deur John Steenhuisen, minister van landbou, aangekondig te word:
- Die Seksie 10-aansoek moet onmiddellik onderteken word.
- ’n Koördinerende operasionele sentrum (JOC) moet gevestig word wat bestaan uit lede van die MTT en ICC met uitvoerende mandate.
- Lede van die MTT, produsente-organisasies en provinsiale dieregesondheidsdirekteure moet gesamentlik ’n wetenskaplik gefundeerde en strategiese uitrolplan vir entstowwe opstel.
- Die JOC moet onmiddellik ingevolge Artikel 9 ’n nasionale riglyn vir bewegingsbeheer saamstel.
- Biosekuriteitsmaatreëls moet deurlopend met praktiese riglyne bevorder word as ’n noodsaaklike deel van boerderypraktyke.
- Die JOC moet die staat se oorsigrol duidelik omskryf ingevolge internasionale vereistes.
- ’n Formele kommunikasielyn moet ingestel word om te verseker dat alle rolspelers, en veral verbruikers, volledig en akkuraat ingelig word oor die stand van BKS.
- ’n Forensiese oudit moet dringend gedoen word oor die getalle en pryse van alle entstowwe, ook die BVI se entstowwe van Botswana, sowel as die Turkse en Argentynse entstowwe, met volledige openbare deursigtigheid oor die bevindings. Daar is reeds berigte van entstowwe wat blykbaar onder die tafel teen buitensporige pryse verkoop word. In ’n krisissituasie soos hierdie kan daar geen plek wees vir verdere korrupsie nie.
Dit is nou tyd dat die staat sy erns met hierdie krisis nie net in verklarings en openbare optredes voorhou nie, maar deur daadwerklike implementering van die voorstelle wat die ICC reeds herhaaldelik op die tafel geplaas het.



