TLU SA verwelkom en ondersteun Sakeliga se onlangse voorlegging aan die Amerikaanse Handelsverteenwoordiger (USTR) oor die toekoms van die African Growth and Opportunity Act (AGOA).
Sakeliga se voorstel volg te midde van toenemende onsekerheid oor Suid-Afrika se toekomstige deelname aan AGOA, ‘n handelsvoordeelstelsel wat Suid-Afrikaanse ondernemings en produsente voorkeurtoegang tot die Amerikaanse mark bied.
In sy voorlegging stel Sakeliga voor dat die huidige alles-of-niks-benadering hersien word. In plaas daarvan dat ondernemings en produsente die gevolge dra van besluite wat op regeringsvlak geneem word, behoort daar volgens Sakeliga ruimte te wees vir ondernemings, boere en selfs provinsies wat aan internasionale handelsvereistes voldoen om steeds toegang tot die Amerikaanse mark te behou.
Vir Suid-Afrikaanse landbou is hierdie aangeleentheid van besondere belang.
Die Verenigde State is ‘n belangrike uitvoermark vir verskeie Suid-Afrikaanse landbouprodukte. Duisende werksgeleenthede, boerdery-ondernemings en landelike gemeenskappe is afhanklik van stabiele toegang tot internasionale markte. Indien Suid-Afrika AGOA-voordele sou verloor, kan die gevolge regdeur die landbouwaardeketting gevoel word.
TLU SA is van mening dat boere en ander produktiewe ondernemings nie gestraf behoort te word vir beleidsbesluite waaroor hulle geen beheer het nie.
“Boere produseer voedsel, skep werk en dra by tot die ekonomie. Hulle behoort op grond van hul prestasie en nakoming van internasionale standaarde beoordeel te word, nie op grond van politieke besluite waaroor hulle geen sê het nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.
Volgens TLU SA bied Sakeliga se voorstel ‘n realistiese en praktiese oplossing wat erken dat Suid-Afrika se produktiewe sektor nie noodwendig dieselfde standpunte of beleidsrigtings as die nasionale regering verteenwoordig nie.
Die organisasie wys daarop dat Suid-Afrikaanse landbou reeds onder druk verkeer weens stygende insetkoste, toenemende regulatoriese vereistes, infrastruktuuruitdagings, onsekerheid oor eiendomsreg en ander faktore wat beleggingsvertroue negatief beïnvloed. Die verlies van voorkeurtoegang tot belangrike uitvoermarkte sal hierdie druk verder verhoog.
TLU SA ondersteun daarom enige internasionale handelsraamwerk wat produktiewe ondernemings, boere en beleggers aanmoedig, eiendomsreg respekteer en ekonomiese groei bevorder.
“Die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou hang af van beleidssekerheid, toegang tot markte en die beskerming van die mense wat voedsel produseer. Daarom steun ons Sakeliga se voorstel en die beginsel dat produktiewe ondernemings nie vir regeringsbeleid gestraf moet word nie,” sê Van Zyl.
TLU SA doen ‘n beroep op alle rolspelers om die belang van internasionale handel vir Suid-Afrikaanse landbou ernstig op te neem en oplossings te ondersteun wat werk skep, voedselproduksie bevorder en ekonomiese groei moontlik maak.









