Die huidige uitdagings rondom bek-en-klouseer (BKS) het nie net die kwesbaarheid van Suid-Afrika se diergesondheidstelsel blootgelê nie, maar ook ’n groter waarheid: stelsels wat oor tyd hul tegniese ruggraat verloor, begin stadig maar seker faal – totdat ’n krisis dit onmiskenbaar maak.
Vir produsente, verbruikers en die breër ekonomie is die gevolge tasbaar. Bewegingsbeheer, uitvoerbeperkings en onsekerheid in die mark sny diep. Maar elke krisis dra ook die potensiaal van ’n keerpunt – ’n geleentheid om nie net te herstel nie, maar om beter te bou. Die grootste uitdaging is dat eerlike erkenning moet plaasvind oor die kapasiteitsprobleme wat by die staatsinstellings bestaan, en in hierdie geval by die Departement van Landbou en al die instellings wat in die hanteringskanaal van bek-en-klouseer gemoeid is, of veronderstel is om gemoeid te wees.
’n Baie duur prys is reeds deur die landbousektor betaal, en dit is moeilik om die draaipunt vooruit te voorspel. Die feit is dat BKS as ’n staatsbeheerde siekte verklaar is, en dit was deur al die jare so dat die staat, met die regte kundigheid, ’n rol in die bekamping daarvan gespeel het. Wat is dit dan wat die laaste aantal jare skeefgeloop het?
• Skielik het die siekte begin versprei vanuit die wildtuin waar BKS endemies teenwoordig is as gevolg van buffels wat draers is.
• Skielik is daar ook nie meer selfvervaardigde entstowwe wat al die jare deur Onderstepoort Biological Products (OBP) daargestel is om uitbrekings te isoleer nie.
• Skielik word verneem dat BKS-monsters vir etlike jare nie na die Pirbright Institute in Engeland gestuur is om seker te maak watter stamme hier voorkom en watter entstowwe moontlik kan help nie.
• Skielik word besef dat die institusionele kapasiteit wat Suid-Afrika ’n wêreldleier gemaak het op die terrein van diergesondheid, eenvoudig verdwyn het.
Die les wat duidelik hieruit na vore kom, is dat kundigheid nie ’n luukse of vanselfsprekend is nie. Dit verg mense wat nie aangestel word omdat hulle ’n bepaalde ideologiese verbintenis deel nie, maar mense met kundigheid, ondervinding en ’n groot verantwoordelikheidsin wat dit doen wat van hulle verwag word. Dit verg ook deursigtigheid wanneer ’n sogenaamde nuwe vervaardiging van die drie stamme aangekondig word, en dat dit in waarheid geskied, en nie dat dit agterna blyk dat dit reeds ’n paar jaar gelede geregistreer is nie.
Verder, wanneer die vloei van die produksielyn hoegenaamd nie blyk te wees wat aangekondig is nie – nie in tydsraamwerk of in die eindproduk nie – ontstaan verdere vrae. Dan word daar verneem dat die staat, met hul sogenaamde “kundigheid”, diere moet ent. Indien dit gebeur, word berig van diere in kommunale gebiede waar ongeveer die helfte van die loslopende diere bymekaar gemaak en wel geënt is, sonder enige identifikasie. Die vraag ontstaan: Wie gaan bepaal watter diere nog geënt moet word en hoe gaan dit gedoen word?
Sedert einde Januarie 2026 poog die Industrie-koördineringskomitee (ICC) om ’n gesamentlike vergadering met die parlement en die veeartsenykundige adviesgroep (MTT) te hou om die optimale kundigheid te betrek ten einde BKS vinnig hok te slaan. Dit het meer as drie maande geneem om dit te kon reël.
Aan die einde van Januarie is ’n artikel 10-aansoek ingedien ten einde die privaat sektor toe te laat om hulle eie belange te beskerm deur self diere te mag ent. Selfs daaroor was daar eenvoudig geen uitkomste nie, totdat ’n hofbevel, verkry deur drie litigante, uiteindelik die departement moes dwing om in die verband te presteer.
Dit is dan ’n billike vraag: Indien die prys in ag geneem word wat dit die sektor, en daarmee saam die verbruikers, uiteindelik kos, is hierdie uitbreking van BKS seer sekerlik van die grootste skade wat aan voedselsekerheid en stabiele ekonomiese volhoubaarheid aangerig is deur die onvermoë van die staat om ’n sin vir dringendheid te openbaar.
Suid-Afrika, wat eens ’n wêreldleier was in die navorsing en hantering van diergesondheid, het inderdaad in die verband in duie gestort, en ’n goed bewoorde verklaring of twee gaan nie skielik die situasie omdraai nie. ’n Mens kan net so lank mislukking probeer regverdig, maar dan word daar volledig deur jou gesien. Net so gaan oorsese kundigheid nie iets beter kan doen as die beste kundigheid in die wêreld wat reeds in Suid-Afrika beskikbaar is nie. Gebruik dit net!
Buiten die insette wat deurlopend in die ICC gelewer is, het TLU SA verskeie meningstukke die lig laat sien, radio- en TV-praatjies gehad en mediaverklarings uitgereik. Daarin is ondubbelsinnig uiteengesit wat behoort gedoen te word.
Dit word betreur dat die indruk geskep word deur die rolspelers in die departement, in die hantering van BKS dat daar inderdaad teen die sektor baklei word. Hoe moeilik kon dit wees om, van die invoer tot die toediening van entstowwe, ’n protokol daar te stel wat presies bepaal hoe dit gedoen moet word? Seer sekerlik sal geen kommersiële boer sy eie kudde benadeel deur byvoorbeeld die koue ketting te breek of diere te ent sonder enige naspeurbaarheid of behoorlike identifikasie vir opvolgwaarneming nie.
Die betrokkenheid van die privaat sektor was en is die versugting van die ICC sedert hulle byeengeroep is. Dit was ook die kern van die litigasie. Met deurlopende gesprekke was almal dit eens dat dit nie saak maak wie eerste ’n deurbraak bewerkstellig nie – die sektor moet toegelaat word om self in te spring.
Wyd word ook vrae gevra oor die rede waarom entstowwe eers deur OBP moet gaan voor verspreiding. Geen bykomende aspek word daardeur toegevoeg wat nie reeds deur die privaat invoerders, wat dit al jare doen, hanteer word nie. Dit beteken bloot bykomende tyd, groter risiko en ’n ekstra koste wat onnodig is. Soos een boer dit stel: Volg net die geldspoor, en antwoorde kom gewoonlik na vore.
Suid-Afrika se landbousektor wil nie buite die wet funksioneer nie. Almal is dit eens dat ons so spoedig moontlik die regte handelinge moet verrig om BKS te neutraliseer. Die staat moet die privaat sektor net toelaat om self aan die werk te spring met realistiese en praktiese uitvoerbare riglyne.
Die praktiese probleem van kommunale vee wat vry rondloop sonder behoorlike hanteringsfasiliteite en identifikasie, bly egter ’n uitdaging. Dit sal moontlik die beste werk indien die staat hul beperkte kapasiteit juis daar aanwend.
Dit is krities nodig dat vee- en varkboere so spoedig moontlik weer met die verhandeling van vee en varke kan begin. Ons is besig om ’n totale sektor direk te verloor, en die gevolglike skade is onmeetbaar groot. Hiervoor is realistiese artikel 9- sowel as artikel 10-goedkeurings nodig – iets wat reeds maande gelede moes gebeur het. Die bal is tans aan die rol, en ons wil vertrou dat daar uiteindelik vordering gemaak gaan word in die verband.
Die gebrek aan ’n sin vir dringendheid is die kernrede waarom instellings nie na behore funksioneer nie. Indien boere op plase daardie ingesteldheid sou openbaar, sou hulle dalk eers tydens oestyd besef: Ons wou nog plant.
Hierdie skrywe het op 15 Mei in Pretoria FM se Nuusweek verskyn.



