TLU SA neem kennis van die hofaksie waarin Solidariteit, saam met verskeie groot regsfirmas, die SEB-sektorkodes vir die regsberoep in die Pretoriase hooggeregshof uitdaag. Die betwiste kodes stel onder meer streng rassevereistes aan regsfirmas, insluitend teikens vir eienaarskap, bestuur en verkryging. Solidariteit voer aan dat die kodes onwettig, irrasioneel en ongrondwetlik is.
TLU SA spreek sy steun uit aan hierdie regstappe en beskou die saak as ’n belangrike toets vir die wyse waarop rassegebaseerde wetgewing toenemend op Suid-Afrika se ekonomiese sektore afgedwing word. Volgens TLU SA word die woord “transformasie” deur die ANC-regering gebruik om beleid te regverdig wat in praktyk op rasseklassifikasie, beheer en inmenging neerkom.
“TLU SA verwerp raskodes en rassekwotas in beginsel. Dit maak nie saak of dit op die regsberoep, landbou, uitvoere, indiensneming of enige ander sektor toegepas word nie. Wanneer mense volgens ras bevoordeel of benadeel word, is dit nie geregtigheid nie. Dit is diskriminasie onder ’n ander naam,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.
Volgens TLU SA is die saak van belang vir die hele ekonomie, omdat dieselfde beleidsdenke reeds in ander sektore sigbaar is. In landbou word produsente toenemend gekonfronteer met vereistes wat nie rekening hou met die praktiese werklikheid van boerdery, voedselproduksie, kapitaalrisiko, eienaarskapstrukture of familieboerderye nie.
“’n Familieboerdery kan nie soos ’n staatsdepartement of groot korporasie volgens rasseformules herontwerp word nie. Boerderye word oor geslagte opgebou, met grond, skuld, risiko, kundigheid en opvolgbeplanning wat alles saamwerk. Om sulke ondernemings deur raskwotas te probeer forseer, is ekonomies onverantwoordelik,” sê Van Zyl.
TLU SA waarsku dat rassegebaseerde kodes nie werklike groei skep nie, maar eerder onsekerheid, administratiewe druk en ekonomiese skade veroorsaak. Die organisasie meen dat die regering se volgehoue fokus op ras nie Suid-Afrika se werklike probleme oplos nie, naamlik swak staatskapasiteit, misdaad, korrupsie, infrastruktuurverval, beleidsonsekerheid en ’n gebrek aan ekonomiese groei.
“Die land het nie nóg raskodes nodig nie. Suid-Afrika het ’n beleidsomgewing nodig waarin mense kan werk, belê, boer, onderneem en groei sonder dat ras as maatstaf vir deelname gebruik word,” sê Van Zyl.



