Wanneer verbruikers ’n brood koop, melk in die yskas sit of vleis op die vuur plaas, word daar nie noodwendig altyd gedink aan die ingewikkelde ketting wat daardie kos moontlik maak nie. Kos verskyn nie bloot op winkelrakke nie. Dit begin in die grond, in weiding, in boorde en in stalle; dikwels onder moeilike omstandighede, groot risiko en toenemende onsekerheid. Die eenvoudige waarheid is: sonder ’n gesonde, winsgewende en veilige kommersiële landbousektor is voedselsekerheid onmoontlik.
Die vraag is dus nie net wat nodig is om kos op die tafel van verbruikers te plaas nie, maar ook wat die grootste bedreiging daarvoor is.
Die antwoord op die eerste deel van die vraag is betreklik eenvoudig. Om voedsel beskikbaar en bekostigbaar te hou, benodig ’n land produsente wat kan produseer in ’n omgewing waar veiligheid, winsgewendheid, infrastruktuur en beleid bestendig is. Kommersiële boere is die kern van dié werklikheid. Hulle produseer die grootste deel van Suid-Afrika se voedsel, dikwels teen internasionaal mededingende en gesubsidieerde pryse, ondanks toenemende uitdagings.
Produksie gebeur egter nie in ’n vakuum nie.
• Boere moet veilig wees. Misdaad op plase en landelike gebiede is nie bloot ’n veiligheidskwessie nie, dit raak voedselproduksie direk. Wanneer produsente onder voortdurende bedreiging leef, verhoog koste, neem onsekerheid toe en word investering ontmoedig. Niemand brei produksie uit in ’n omgewing waar risiko voortdurend toeneem nie.
• Verder benodig voedselproduksie betroubare infrastruktuur. Paaie moet funksioneel wees sodat insette betyds by plase uitkom en produkte markte kan bereik. Elektrisiteit en water moet beskikbaar en bekostigbaar wees. Hawens en spoorlyne moet werk sodat uitvoere kan realiseer. Suid-Afrikaanse landbou het deur innovasie en deursettingsvermoë merkwaardige sukses behaal, maar selfs die mees doeltreffende produsent kan nie onbeperk kompenseer vir stelsels wat faal nie.
• Winsgewendheid is ewe noodsaaklik. Daar bestaan soms ’n wanpersepsie dat voedselproduksie bloot ’n roeping is wat ongeag ekonomiese realiteite sal voortgaan. Die waarheid is dat boerdery, soos enige ander onderneming, finansieel volhoubaar moet wees. Indien insetkoste aanhou styg, regulasies toeneem en beleidsonsekerheid belegging ontmoedig, raak voedselproduksie kwesbaar. Sonder winsgewendheid is daar uiteindelik minder produksie, minder investering en groter druk op voedselpryse.
Dit bring ons by wat waarskynlik die grootste bedreiging vir voedselsekerheid in Suid-Afrika is: die gevolge van die huidige beleidsomgewing.
Dit is ’n onderwerp wat baie meer aandag verdien. Oor dekades heen het beleid in verskeie sektore toenemend onsekerheid geskep. Debatte oor eiendomsreg, toenemende regulatoriese laste, swak dienslewering, infrastruktuurverval en die vervanging van kundigheid deur politieke of ideologiese oorwegings in sleutelinstellings het ’n klimaat geskep waarin vertroue onder druk verkeer. Die onrealistiese rasgedrewe beleidsrigting het te duur geword vir Suid-Afrika se inwoners.
Ekonomiese groei is dringend nodig, maar sal dit met hierdie beleid slegs ’n hersenskim bly.
Landbou vereis langtermynbeplanning. ’n Boer plant nie vir môre alleen nie; besluite word geneem vir jare vorentoe. Wanneer beleid onseker is, word belegging uitgestel of selfs afgestel. Wanneer administratiewe prosesse nie funksioneer nie, stagneer ontwikkeling. Wanneer kundigheid ontbreek, neem risiko toe en stelsels wat die publiek tot diens moet wees stort in duie; iets wat die land reeds op verskeie terreine ervaar het.
Die ironie is dat Suid-Afrika oor enorme landboupotensiaal beskik. Ons kommersiële boere is wêreldklas. Tegnologie, genetika, presisieboerdery en markontwikkeling bied ongekende geleenthede. Jongmense betree die sektor met nuwe idees en innovasie. Die groot hekkie in die pad daarvan om in Suid-Afrika veel groter sukses in voedselsekerheid, uitvoere en werkskepping te kan behaal, bly die huidige beleidsrigting se gevolge sowel as die denkraamwerk van sommige individue wat van oortuiging is dat die stelsel hul “skuld” sonder ’n teenprestasie.
’n Positiewe uitkoms is haalbaar. Dit begin met beleidsekerheid en die beskerming van eiendomsreg. Dit vra vir die herstel van infrastruktuur, die aanstelling van kundige mense in sleutelposte en daadwerklike optrede teen landelike misdaad. Dit vra ook dat boere nie as opponente beskou word nie, maar as die strategies grootste bate van die land.
Voedselsekerheid is nie ’n politieke luukse nie, dit is ’n nasionale noodsaaklikheid.
Die vraag is uiteindelik eenvoudig: Wil Suid-Afrika ’n land wees wat sy eie mense voed, werk skep en landelike ekonomieë laat groei, of een wat toenemend afhanklik raak van duur invoere en stygende voedselpryse?
Kos op die tafel begin by mense wat bereid is om te produseer. Ons verantwoordelikheid as samelewing is om seker te maak hulle kan dit veilig, winsgewend en met vertroue in die toekoms doen. Wanneer landbou floreer, kan ’n land eet.
Hierdie artikel het op 29 Mei in Pretoria FM se Nuusweek verskyn.





