James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA vereer landboupresteerders tydens jaarlikse kongresdinee

TLU SA het vanaand, 2 September 2026, tydens sy jaarlikse kongresdinee in Pretoria erkenning gegee aan landboupresteerders en persone wat besondere bydraes tot die bedryf en georganiseerde landbou gelewer het. Die toekennings het jong landboutalent, uitstaande prestasies en jarelange diens vereer.

Die aand se toekennings het die Jongboer en Jeugboer van die Jaar, die Nico Kilian-trofee, Presidentstoekennings, erelidmaatskap en die Goliat van Gat Pampoenkompetisie ingesluit.

Bertus Joubert is as TLU SA se Jongboer van die Jaar vir 2026 aangewys, met Gerhard Heinlein in die tweede plek en Marissa Solms in die derde plek.

Joubert ontvang as wenner die gebruik van ’n wit BYD Shark-inprophibriedbakkie van Hatfield Motor Group vir twaalf maande. Sy prys sluit ook ’n tegnologieborgskap van SmarTime en iNspexia vir 36 maande in. Die tegnologieborgskap, wat sagteware en hardeware insluit, is R124 000 werd.

Heinlein ontvang die gebruik van ’n wit JAECOO J7-sportnutsvoertuig van Hatfield Motor Group vir ses maande, asook R30 000 kontant van Santam. Solms ontvang die gebruik van ’n silwer JAECOO J7-sportnutsvoertuig van Hatfield Motor Group vir ses maande en R20 000 kontant van Santam.

Jurgens Koen is as die Jeugboer van die Jaar vir 2026 aangewys. Hy ontvang ’n kontantprys van R5 000 van Morgan Group, wat ook R50 000 vir die voortbestaan en groei van die kompetisie bewillig het. Design Biologix het ook ‘n R5 000 kontantprys gegee.

Wykus Lamprecht is vereer as wenner van die Goliat van Gat Pampoenkompetisie vir 2026 met ’n pampoen van 653 kg. Hy ontvang die wisseltrofee vir die swaarste pampoen.

Die Nico Kilian-trofee vir 2026 is aan Wannie Scribante toegeken. Dié toekenning vereer die landboupersoonlikheid van die jaar in TLU SA se bedieningsgebied. Die trofee gee erkenning aan ’n lid wat voortreflike diens gelewer het, hom vir die bevordering van georganiseerde landbou beywer het en gedurende die afgelope jaar ’n besondere rol in belang van landbou gespeel het.

TLU SA se Uitvoerende Komitee het ook Presidentstoekennings gemaak aan persone wat ’n hoogstaande bydrae tot die bevordering van die landboubedryf gelewer het.

Louwrens Mahoney, Carlo Smuts, Ruan Jordaan en Henry Lubbe is vir hul Coast to Coast 4 Farmers-inisiatief vereer. Dr. Danie Odendaal en dr. Faffa Malan het ook elk ’n Presidentstoekenning ontvang.

Hierdie toekennings erken bydraes tot landbou in die geheel of op bepaalde terreine, waaronder landboukunde, veeartsenykunde, die ekonomie en die organisasie van die bedryf.

Tom Moodie is met erelidmaatskap van TLU SA vereer vir sy jarelange diens aan die organisasie en georganiseerde landbou. Erelidmaatskap gee erkenning aan minstens tien jaar se hoogstaande diens aan georganiseerde landbou op nasionale vlak.

Moodie het onder meer as lid van TLU SA se Dagbestuur en op die organisasie se finansiële en LSB-komitees gedien. Hy was ook ’n stigtersdireksielid van TLU Eiendoms Beleggings Beperk en het help toesien dat TLU SA deur moeilike finansiële tye kon voortbestaan.

Die toekenningsaand het aangesluit by die kongrestema, “Landbou: Begrond. Beskerm. Bewaar.”, met erkenning aan sowel die nuwe geslag produsente as die mense wie se jarelange diens help om georganiseerde landbou te versterk.

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA vereer landboupresteerders tydens jaarlikse kongresdinee