James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Produkdiefstal in die landbou: ’n Stille aanslag op boer én bord

Die landbouwaardeketting het twee noodsaaklike rolspelers: die produsent (boer) en die verbruiker (mark). Sonder hulle het die res van die waardeketting geen rol om te speel nie. Wanneer daar oor misdaad in die landbou gepraat word, word die gesprek dikwels beperk tot veediefstal en plaasaanvalle.

Die werklikheid is egter veel groter. Produkdiefstal, van vee, graan en groente tot diesel, kunsmis, chemikalieë, medisyne en saad, het ontwikkel tot ’n ernstige bedreiging vir die volhoubaarheid van landbou en, uiteindelik, vir Suid-Afrika se voedselsekerheid.

Die omvang van veediefstal alleen behoort ons tot kommer te stem. Volgens die SuidAfrikaanse Polisiediens is 25 606 klagtes oor veediefstal in die 2024/25-boekjaar aangemeld, waarby ongeveer 190 000 stuks vee betrokke was. Die direkte verlies aan beeste, skape en bokke is vir dieselfde tydperk op minstens R880 miljoen bereken. Hierdie syfers vertel egter nie die hele verhaal nie, omdat daar ook onderrapportering plaasvind. Die Departement van Landbou het in 2025 daarop gewys dat slegs ongeveer 30% van veediefstalvoorvalle wel aangemeld word.

Maar waar vind hierdie diefstal plaas? In werklikheid kan dit op feitlik enige punt in die landbouwaardeketting gebeur. Elke punt waar dit verhandel en/of vervoer word, is kwesbaar.

Die eerste kwesbare punt is op die plaas self. Vee kan uit kampe of krale gesteel word, terwyl graan, mieliekoppe, vrugte en groente direk vanaf lande en pakhuise verwyder word. Daar is ook diefstal van toerusting, pompe, besproeiingsinfrastruktuur, kabels en ander plaasbates. SAPD identifiseer onder meer diefstal van vee, mielies, sojabone, sonneblomme, diesel, landbougereedskap, toerusting en infrastruktuur as probleme wat die landbousektor raak.

Die tweede kwesbare punt is tydens vervoer. Produkte wat vanaf die plaas na ’n silo, abattoir, varsproduktemark, koöperasie, verwerker of verspreidingsentrum beweeg, het ’n waarde wat dit aantreklik maak vir georganiseerde misdaad. Vragte produkte of insette onderweg na die markte word onderskep of gedeeltelik afgelaai.

Die derde punt is by berging en verspreiding. Silo’s, pakhuise, koelkamers en ander bergingsfasiliteite bevat groot hoeveelhede waardevolle produkte. Dieselfde geld vir landbou-insette soos kunsmis, saad, chemikalieë en veeartsenykundige medisyne. Hier raak die probleem selfs meer kompleks, want die diefstal van ’n insetmiddel kan die volgende produksieseisoen beïnvloed. Diesel is ’n goeie voorbeeld. ’n Boer kan nie plant, besproei, oes of produkte vervoer sonder brandstof nie. Wanneer diesel gesteel word, verloor die boer dus nie net die waarde van die diesel nie (wat in baie gevalle op skuld verkry is), hy verloor ook produksietyd.

’n Trekker wat nie kan werk nie, kan ’n plant- of oesvenster laat verbygaan. Dieselfde beginsel geld vir gesteelde saad, kunsmis of chemiese produkte. Die impak op die boer is daarom veel groter as die onmiddellike randwaarde van die gesteelde produk. Daar is die direkte finansiële verlies, maar ook verhoogde versekerings- en sekuriteitskoste, produksieverliese, herstelwerk en die koste om infrastruktuur te vervang.

Veediefstal kan kleiner veeboere se ekonomiese welstand en lewensbestaan ook erg benadeel. Daarby kom die menslike koste. ’n Boer wat voortdurend moet wonder of sy vee, diesel, toerusting of oes veilig is, boer onder geweldige druk. Sekuriteit word ’n noodsaaklike produksiekoste eerder as ’n keuse. Dit kan uiteindelik daartoe lei dat boere minder produseer, sekere ondernemings staak of eenvoudig nie meer die risiko wil neem om verder uit te brei nie.

Hierdie probleem raak uiteindelik elke verbruiker. Wanneer ’n boer se koste styg en sy produksie afneem, verdwyn daardie koste nie. Dit beweeg deur die waardeketting. Hoër sekuriteitskoste, verlore produksie, vervanging van infrastruktuur, hoër versekering en gesteelde insette verhoog die koste van voedselproduksie. As die aanbod van ’n produk terselfdertyd verminder, kan dit verdere prysdruk veroorsaak.

Die verbruiker betaal dus uiteindelik ’n deel van die prys vir ’n misdaad wat hy of sy nie gepleeg het nie. Dit is waarom produkdiefstal in die landbou nie bloot as ’n “plaasprobleem” beskou kan word nie. Dit is ’n voedselveiligheids-, ekonomiese en gemeenskapsprobleem. Wanneer vee gesteel word, verminder die beskikbare aanbod van vleis, melk en ander diereprodukte.

Die minister van Landbou het juis gewaarsku dat veediefstal ’n bedreiging vir voedselsekerheid is omdat dit die aanbod van hierdie produkte verminder. Die antwoord lê daarom nie slegs by die boer nie. Die hele waardeketting; van produsent en vervoerder tot verwerker, handelaar, polisie en verbruiker, het ’n belang by die bekamping daarvan. Beter opsporing, sterker samewerking tussen boere en die polisie, doeltreffender beheer van vee- en produkbewegings, tegnologie, naspeurbaarheid en streng optrede teen georganiseerde sindikate is noodsaaklik.

Ons moet uiteindelik besef: Wanneer iemand ’n skaap, mieliekop, vrag groente, liter diesel of sak saad steel, steel hy nie net van ’n boer nie. Hy haal ’n klein stukkie uit die voedselketting van die hele land.

Produkdiefstal in die landbou is dus nie ’n klein verlies wat bloot deur die produsent geabsorbeer kan word nie. Dit is ’n stille belasting op landbou, ’n bedreiging vir produksie en ’n koste wat uiteindelik op die tafel van die Suid-Afrikaanse verbruiker beland.

Om die boer te beskerm, beteken uiteindelik om die voedselketting en die verbruiker te beskerm.

Hierdie skrywe het op 4 September in Pretoria FM se e-koerant, Nuudsweek, verskyn.

Kategorie:

Deel dit:

Produkdiefstal in die landbou: ’n Stille aanslag op boer én bord