James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Misdaadsyfers weerspieël nie volle omvang van landelike geweld

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het vandag, 28 Augustus 2026, die land se jongste kwartaallikse misdaadstatistiek tydens ’n mediakonferensie in Hatfield, Pretoria, bekendgemaak.

Die bekendmaking is deur die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, gelei en dek misdade wat gedurende die eerste kwartaal van die 2026/2027-boekjaar, van April tot Junie 2026, aangemeld is.

Hoewel die statistiek ’n afname in sekere misdaadkategorieë toon, sê TLU SA dit bied geen rede vir selfvoldaanheid nie. Binne slegs drie maande is 5 427 mense in Suid-Afrika vermoor.

Dit is byna 60 moorde per dag.

Altesaam 339 395 ernstige misdade is gedurende die kwartaal deur gemeenskappe aangemeld. Dit verteenwoordig ’n afname van 2% teenoor dieselfde tydperk verlede jaar. Kontakmisdaad het met 2,3% afgeneem, terwyl die aantal moorde met 5,9% gedaal het. Dit beteken dat 343 minder mense as gedurende dieselfde kwartaal verlede jaar vermoor is.

Hierteenoor het poging tot moord met 8,7% tot 6 958 gevalle toegeneem. Aanranding met die doel om ernstig te beseer het met 2,5% tot 38 589 gevalle gestyg, terwyl gewone aanranding met 2% tot 42 491 gevalle toegeneem het.

Vir TLU SA is die bekendmaking van die statistiek ook ’n beoordeling van die regering en die SAPD se vermoë om Suid-Afrikaners te beskerm; en die uitslag bly kommerwekkend.

“Enige afname in moord is welkom, want elke lewe wat gespaar word, is betekenisvol. Die regering kan egter nie ’n daling van 5,9% as ’n oorwinning aanbied terwyl byna 60 mense steeds elke dag vermoor word en ander ernstige geweldsmisdade toeneem nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

Volgens Van Zyl moet misdaadstatistiek gebruik word om die staat se prestasie te beoordeel en verantwoordelike persone aanspreeklik te hou. Dit kan nie bloot elke kwartaal bekendgemaak word sonder ’n duidelike verduideliking van wat die regering anders gaan doen om te verhoed dat nóg mense gedurende die volgende kwartaal slagoffers word nie.

“Die SAPD vertel Suid-Afrikaners hoeveel misdade gepleeg is, maar die publiek hoor selde wie aanspreeklik gehou word wanneer polisiëring misluk, waarom ondersoeke sloer en waarom bekende misdaadpatrone kwartaal ná kwartaal voortduur,” sê Van Zyl.

TLU SA meen die statistiek bevestig dat die SAPD tans nie oor die vermoë beskik om sy grondwetlike taak om Suid-Afrikaners te beskerm, deurgaans doeltreffend uit te voer nie.

Die probleem lê nie by individuele polisiebeamptes wat onder moeilike en dikwels gevaarlike omstandighede werk nie. Dit lê by ’n polisiestelsel wat deur gebrekkige bestuur, personeeltekorte, onvoldoende voertuie en toerusting, swak misdaadintelligensie, beperkte ondersoekvermoë en ’n gebrek aan aanspreeklikheid verswak word.

’n Arrestasie beteken boonop weinig indien ’n saak nie deeglik ondersoek, voldoende bewysstukke ingesamel en die oortreder suksesvol vervolg word nie.

“Die regering meet die sukses van polisiëring te maklik aan operasies en arrestasies. Die werklike uitkoms moet wees dat misdaad voorkom word, misdadigers skuldig bevind word en gemeenskappe veiliger is. Indien dit nie gebeur nie, werk die huidige benadering nie,” sê Van Zyl.

Plaasaanvalle bly ’n ernstige bedreiging

Die situasie op plase en kleinhoewes verdien besondere aandag. TLU SA het gedurende Augustus alleen, tot en met 27 Augustus, reeds 21 plaasaanvalle en twee plaasmoorde aangeteken.

Dit beteken dat daar gedurende die eerste 27 dae van die maand gemiddeld ongeveer elke 31 uur ’n plaasaanval plaasgevind het.

Hierdie syfers val buite die kwartaal waarop die SAPD se jongste statistiek betrekking het, maar wys dat geweld teen landelike gemeenskappe onverpoos voortduur.

“Plaasaanvalle is dikwels uiters gewelddadig en vind ver van polisiestasies en nooddienste plaas. Slagoffers word nie net beroof nie, maar dikwels ernstig aangerand, gemartel of vermoor. Gesinne, werknemers en hele gemeenskappe moet daarna met die trauma en ekonomiese gevolge saamleef,” sê Van Zyl.

Die SAPD se kwartaalverslag teken slegs één aanval op ’n landelike gemeenskap tussen April en Junie 2026 aan. Die aanbieding dui ook slegs een moord aan waarvan die plek van voorkoms as ’n plaas geklassifiseer is.

Hoewel die syfers van die SAPD en TLU SA nie dieselfde tydperk dek nie, skep die skerp teenstelling ernstige vrae oor hoe plaasaanvalle en plaasmoorde by plaaslike polisiestasies geïdentifiseer, geklassifiseer en op nasionale vlak gerapporteer word.

TLU SA sê ’n onvolledige beeld van landelike misdaad lei noodwendig tot gebrekkige veiligheidsbeplanning. Indien voorvalle nie konsekwent en korrek aangeteken word nie, kan misdaadpatrone nie behoorlik ontleed, hulpbronne nie toepaslik toegeken en swak polisiëring nie betyds geïdentifiseer word nie.

Die vorige Nasionale Landelike Veiligheidstrategie is in Oktober 2019 vir implementering afgeteken. Dit is egter nooit behoorlik bestuur, gemonitor of konsekwent geïmplementeer nie.

TLU SA se ervaring op plaaslike vlak is dat SAPD-lede by verskeie polisiestasies nie eens voldoende kennis van die vorige strategie dra of weet wat ingevolge daarvan van hulle verwag is nie.

“Dit help nie dat die vorige strategie op nasionale vlak afgeteken is as die polisiestasies wat op plaasaanvalle moet reageer, nie daarvan kennis dra nie. ’n Strategie sonder implementering, monitering en aanspreeklikheid beskerm niemand,” sê Van Zyl.

Landelike gemeenskappe word gevolglik gedwing om hul eie veiligheidsplanne, radionetwerke, patrollies en noodreaksie te organiseer. Hoewel gemeenskapsamewerking noodsaaklik is, kan dit nie as plaasvervanger vir ’n funksionele polisiemag dien nie.

“Die regering kan nie sy verantwoordelikheid aan gemeenskappe uitkontrakteer en dan op hul samewerking staatmaak om die tekortkominge van die SAPD te probeer aanvul nie. Misdaadvoorkoming, ondersoek en die handhawing van die reg bly die verantwoordelikheid van die staat,” sê Van Zyl.

Landelike misdaad strek verder as plaasaanvalle

Veediefstal plaas ook steeds ernstige druk op produsente en landelike ekonomieë. Hoewel die aantal aangemelde veediefstalsake met 6,7% tot 5 242 afgeneem het, toon die SAPD se aanbieding dat 41 221 diere gedurende die kwartaal gesteel is.

Dit sluit 14 624 skape, 11 729 bokke en 10 690 beeste in.

Veediefstal benadeel plaasinkomste, bedreig werkgeleenthede, verhoog produksiekoste en verswak die ekonomiese volhoubaarheid van landelike gemeenskappe.

Volgens TLU SA wys hierdie syfers waarom landelike veiligheid nie as ’n afsonderlike of minder dringende polisiëringsprioriteit behandel kan word nie. Plase is werkplekke, huise en produksie-eenhede wat noodsaaklik is vir voedselsekerheid en plaaslike ekonomiese aktiwiteit.

“Die regering moet ná hierdie bekendmaking verduidelik wat prakties gaan verander, wie vir die uitvoering daarvan verantwoordelik sal wees en teen wanneer die publiek meetbare resultate kan verwag,” sê Van Zyl.

“Die land het nie nóg verklarings van kommer, beleidsdokumente en kortstondige operasies nodig nie. Dit het bekwame bestuur, funksionele polisiestasies, betroubare misdaadintelligensie, deeglike ondersoeke en werklike aanspreeklikheid nodig.”

“Die kernvraag bly: Waar is die regering se wil om kriminaliteit werklik en doeltreffend te bekamp? Totdat dié wil in konkrete optrede en veiliger gemeenskappe sigbaar word, sal dalende persentasies alleen weinig troos aan die slagoffers van misdaad bied,” sê Van Zyl.

Kategorie:

Deel dit:

Misdaadsyfers weerspieël nie volle omvang van landelike geweld