VANUIT HOOFKANTOOR
Borgskappe
Instansies wat TLU SA deur die jare ondersteun het deur borgskappe, het vriende van ons organisasie geword. Dit is altyd ‘n plesier om mekaar by geleenthede raak te loop.
Hierdie instansies reik uit na TLU SA en stel ons in staat om belangrike geleenthede soos die Jongboerkonferensie en nasionale kongres aan te bied. Die Jongboer-kompetisie bied byvoorbeeld reuse pryse aan, soos ‘n dubbelkajuitbakkie vir ‘n jaar se gebruik (geskenk deur Hatfield Motorgroep) en ‘n oorsese reis na Manitou se fabriek in Frankryk. Santam bied ook kontantpryse.
Ons versoek dat lede ons borge ondersteun deur, wanneer hulle in daardie sektor sake doen, ten minste ‘n kwotasie by ons borge aan te vra. Hierdie maatskappye ondersteun ons – kom ons ondersteun hulle ook.
Trauma
Omstandighede waardeur mense gaan, het op verskillende individue unieke impakte. Landbou staan tans onder groot druk, en dit kan moeilik wees vir individue om tred te hou met die werklikhede soos dit beleef word.
Mense ervaar trauma verskillend – vir sommige is sekere uitdagings geen probleem nie, terwyl ander dit moeilik vind om te hanteer. Dit is belangrik om in hierdie tye na mekaar uit te reik en ondersteuning te bied.
Ons wil graag ‘n praktyk wat ‘n gemeenskap begin het, weer onder die aandag bring. Die plaaslike boere-unie het boere in die distrik onder mekaar verdeel, sodat elke boer minstens een keer per week met twee ander boere in verbinding tree om te hoor hoe dit gaan – veral op emosionele vlak. Dit kan selfs net ‘n telefoonoproep wees. Op hierdie manier dra ons mekaar se laste.
Ons herinner ook daaraan dat TLU SA deel is van die Traumanetwerk en ‘n spesifieke verhouding het met die Trauma-eenheid van AfriForum. Indien traumaberading benodig word, kan Gawie Lötter by die hoofkantoor gekontak word om die nodige reëlings te tref.
TLU SA Vrystaat
Landbouskoue en plaaskultuurfeeste is uistekende geleenthede om op voetsoolvlak skouers met ons lede te skuur, die vinger op die spreekwoordelike landboupols te hou en nuwe bande met potensiële lede van TLU SA te smee. Clocolan se plaaskultuurfees was ‘n vertoonvenster van ons landboukultuur en - geskiedenis. Tradisionele trekdiervertonings, antieke trekkers en uitstallings van vanmelewe se plaaswerktuie het groot belangstelling opgewek. Volgens Frannie Pieterse, een van die bestuurslede wat die kultuurfees reël, was hierdie jaar se fees een van die hoogtepunte in die geskiedenis van die fees. TLU SA se stalletjie het belangstelling gewek en het lede die geleentheid gebied om met die hoofbestuurder en streekbestuurder te kuier. TLU SA Vrystaat het ook die bykomende geleentheid benut om die landbouskou op Kuruman by te woon en ‘n stalletjie namens TLU SA te beman. Ons streekbestuurder het saam met Louwtjie Kruger die geleentheid bygewoon en het TLU SA onder die Noord-Kaapse landbouers en produsente bemark. Beide geleenthede bevestig die belang van direkte kontak met lede wat in noue kontak met hul georganiseerde landbou-
instellings produseer en landbou tot voordeel van ons land en sy mense laat gedy.
TLU SA Oosstreek
In die noordelike Hoëveld is die sojabone gereed vir stroop, en op sommige plekke brul die stropers al. In Chrissiesmeer is die sojas ook reg, maar die nat toestande vertraag die proses – ‘n paar sonnige dae sal nodig wees voordat daar geoes kan word. Die laat reëns het die veld mooi laat herstel, maar dit is duidelik dat die seisoen begin draai. Boere is reeds besig met voorbereidings vir voorbrande, aangesien die veld besig is om af te gaan.
Machado, Dullstroom, Stoffberg en noord van Middelburg het swaar komandowurmdruk ervaar op aangeplante weidings, en sommige boere moes meer as een keer spuit. In Charl Cilliers, Val en Greylingstad is sommige gesaaides laat weens oorplanting, en die sojas toon nog nie hul volle potensiaal nie – verdere reën sal nodig wees vir ‘n suksesvolle oes.
Veediefstal bly ‘n groot bekommernis, en mieliediefstal is veral ‘n uitdaging vanweë die hoë pryse. Hoewel enkele sake reeds geopen is, is daar nog geen uitslae nie. Samewerking met Charl Cilliers en Belfast polisiestasies is ‘n knelpunt, maar daar word daaraan gewerk. Intussen toon Greylingstad se polisieverbeterings goeie vordering.
Op 8 April bied Machadodorp Boere-unie hul Kruispaaie-veiling aan – ‘n geleentheid om nie mis te loop nie. Boere word ook aangemoedig om betrokke te raak by die nuwe Waardasierolle wat tans deur verskeie munisipaliteite hanteer word, aangesien dit duidelik is dat daar ‘n poging is om inkomste ‘n hupstoot te gee.
Hou die land dop, wees waaksaam, en sterkte vir die weke wat voorlê!
TLU SA Sentraal
TLU SA Sentraal hou op 10 April sy konferensie, waar lede die geleentheid sal hê om relevante vrae en kwessies in die landboubedryf aan te spreek.
TLU SA Limpopo
Die RPO Limpopo Kongres sal op 10 April plaasvind, met 'n opwindende program met sprekers wat insigte sal deel oor die bedryf.
TLU SA Limpopo was ook in Maart by die jaarlikse Agri Expo, wat 'n uitstekende platform bied vir die vertoon van plaaslike landbouprodukte en innovasies.
TLU SA Wesstreek
Die Wesstreek het twee belangrike geleenthede op die horison. Eerstens sal daar 'n ledevergadering op 10 April in Vryburg wees, en alle lede in die area word aangemoedig om aan te sluit. Daarna, op 11 April, is die Wesstreekvergadering in Lichtenburg, waar daar 'n opdatering oor nasionale aangeleenthede gegee sal word.
TLU SA Noord-Kaap
Die Beesskou in Kuruman wat in Maart plaasgevind het, was ‘n reusesukses. Tydens die fees het landbouers en ander belangstellendes 'n kans gekry om nuutste innovasies in veeboerdery te sien en kennis met mekaar te deel. |