Die realiteit wat ons as land in die gesig staar, is eenvoudig: Die ANC-regering het ‘n land sonder behoorlike fondamente agtergelaat, een wat al hoe meer wankel onder die gewig van korrupsie, wanbestuur en uitspattige uitgawes. Minister van finansies, Enoch Godongwana, kan nóg ’n begroting voorlê, nóg beloftes maak oor ekonomiese herstel en groei, maar dit bly net teorie op papier.
’n Basiese beginsel van enige besigheid – en inderdaad ’n land se finansiële beleid – is om binne jou vermoë te spandeer. Wanneer die regering aanhou om sy lopende uitgawes met geleende geld te probeer finansier, skep dit ’n gevaarlike skuldspiraal wat nie volhoubaar is nie. Dis eenvoudig: Jy kan nie aanhou bestee wat jy nie het nie. En tog, met elke begrotingsrede sien ons min daadwerklike pogings om hierdie basiese waarheid te erken.
Veiligheid is die basis van enige funksionerende ekonomie. Hoe verwag die regering werklike ekonomiese groei wanneer die land nie eens sy mense se veiligheid kan verseker nie? Met bykans 80 moorde per dag, en ’n polisiediens wat deur korrupsie, wanbestuur en kaderontplooiing ondermyn word, is dit duidelik dat veiligheid nie ’n prioriteit is nie. Geen begroting wat hierdie krisis ignoreer, kan werklik suksesvol wees nie.
Die regering se fokus op buitelandse missies en vredesbewaring, terwyl die basiese veiligheid van sy eie burgers verwaarloos word, is uiters kommerwekkend. Al word daar miljarde rande bewillig vir die weermag en korrektiewe dienste, bly die kernprobleem onaangespreek: ’n Onbevoegde en swak opgeleide polisiediens wat eenvoudig nie oor die nodige middele of opleiding beskik om misdaad effektief te bekamp nie.
Die regstelsel, wat deur politieke inmenging en ondoeltreffende strukture verswak is, vererger die probleem verder. Misdadigers word dikwels nie suksesvol vervolg nie, wat tot ’n kultuur van straffeloosheid lei. Solank as wat kaderontplooiing voorrang geniet bo meriete en bekwaamheid, sal enige poging om die veiligheid in die land te verbeter, bloot ’n oppervlakkige oplossing wees wat nie die werklike probleem aanspreek nie.
Daarbenewens bly die beleidsomgewing en die toepassing daarvan gebrekkig. As die regering werklik wil sien dat entrepreneurs floreer, moet die regulatoriese omgewing besigheidsvriendelik wees. Maar wat sien ons? Beleide wat entrepreneurs ontmoedig, arbeidswetgewing wat ekonomiese groei versmoor, en ‘n voortdurende poging om belasting te verhoog asof dit ’n volhoubare oplossing is.
Infrastruktuur – die ruggraat van enige ekonomie – is aan die verbrokkel. Die regering se begroting spog met meer as R1 triljoen wat oor die volgende drie jaar aan infrastruktuur bestee sal word, insluitend R402 miljard vir vervoer en logistiek, R219.2 miljard vir energie-infrastruktuur en R156.3 miljard vir water en sanitasie. Hoewel dit indrukwekkend klink, bly die realiteit dat vorige soortgelyke beloftes dikwels in die bodemlose put van korrupsie en wanbestuur verdwyn het. Kaderontplooiing en ‘n gebrek aan kundigheid in sleutelposte beteken dat hierdie projekte selde werklik tot sukses kom.
Neem byvoorbeeld die R100 miljard wat SANRAL oor die mediumtermyn aan die padnetwerk wil bestee – daar is geen waarborg dat hierdie fondse werklik die verval van paaie sal stop nie. Dieselfde geld vir PRASA, wat R19.2 miljard gaan ontvang om seinstelsels te verbeter en treindienste te herstel. Tog weet ons dat PRASA se bestuur al jare lank sukkel met korrupsie en wanbestuur, en sonder daadwerklike verbetering in bestuur en aanspreeklikheid sal hierdie fondse weer eens gemors word.
As die begroting vir infrastruktuur reg aangewend word, kan dit groot waarde toevoeg vir die landboubedryf en vir TLU SA. In die huidige situasie, waar infrastruktuur dikwels aan die verbrokkel is, kan ’n doeltreffende en deeglik beplande investering in infrastruktuur die landboubedryf direk bevoordeel. Dink net aan verbeterings in vervoer en logistiek wat die bemarking van landbouprodukte sou kan fasiliteer, of die investering in water en sanitasie wat van kardinale belang is vir volhoubare landboupraktyke. As hierdie fondse reg bestuur word, kan dit ’n werklike katalisator wees vir groei en stabiliteit in die landboubedryf, wat nie net die ekonomie versterk nie, maar ook werkgeleenthede en vooruitgang vir gemeenskappe bring. Dit is ’n unieke kans om Suid-Afrika se landboubedryf te bevorder en die land se ekonomie in die regte rigting te beweeg.
Onderwys, nog ’n kritiese aspek, is in duie gestort. Wanneer Suid-Afrika steeds die swakste presteer in wiskunde en wetenskap ter wêreld, is dit belaglik om te dink ons kinders kry die opleiding wat hulle nodig het om in die toekoms ’n sukses te wees. Die regering erken self dat die leerder-onderwyser-verhouding steeds te hoog is en dat daar ’n groot tekort aan onderwysers is. Hoewel die begroting R19.1 miljard oor die mediumtermyn toevoeg om ongeveer 11 000 onderwysers in klaskamers te hou, is dit bloot ’n pleister oor ’n veel groter wond. Dit maak min verskil as die onderwysstelsel self gebrekkig bly en daar nie voldoende aandag gegee word aan onderrigkwaliteit nie. Die staat moet wegbeweeg van oppervlakkige beleid soos die verlaagde slaagsyfers en fokus op werklike onderwyskwaliteit.
Die regering se beweerde oplossings – die herverdeling van hulpbronne, belastingverhogings en oorregulering – is nie die antwoorde wat hierdie land se ekonomie sal red nie. TLU SA is duidelik: Die regering moet drastiese kostebesnoeiings implementeer, korrupsie daadwerklik uitroei, infrastruktuur herbou en ‘n werklike omgewing vir ekonomiese groei skep. Sonder hierdie stappe sal geen begroting enige werklike impak hê nie. Die minister van finansies kan soveel beloftes maak as wat hy wil. Maar totdat hierdie kernaspekte aangespreek word, bly ons ekonomie op ’n afdraende pad. Suid-Afrika benodig daadwerklike verandering – nie nóg ‘n begroting vol drome en teorieë nie.
Die gevolge van die ANC se beleid, soos oor die afgelope jare geimplementeer, het vir ons land en vir die minister van finansies te duur geword. Hy het nie meer beweegruimte nie – en dit is daardie beleidsrigting wat Suid-Afrika van sy toekoms ontneem het.



