TLU SA Oosstreek
Die Oosstreek is oor die algemeen nat, maar die gemoedere bly positief.
Munisipale waardasierolle en eiendomswaardasies:
Belfast (Emakhazeni) en Ermelo-munisipaliteite is besig met waardasierolle, en dit blyk dat eiendomswaardasies baie hoër is as voorheen. Lede word aangemoedig om aktief deel te neem aan die proses, asook aan die begrotingsvergaderings waar tariewe bepaal word.
Veilings:
Machado Boere-unie het op Dinsdag 8 April hul eerste van twee veilings vir 2025 gehou by Kruispaaie in die Machadodorp-area. Daar is 105 beeste verkoop met ’n omset van sowat R964 400. Boere is oor die algemeen meer tevrede met pryse wat begin opwaarts beweeg. Alle eer aan ons Hemelse Vader. Die volgende veiling is geskeduleer vir Dinsdag 2 Desember 2025.
Weer en landbou-aktiwiteite:
Sojastropery het moeilik begin weens wisselvallige weer. Die veld begin nou draai en die nagte raak vinnig koeler. Dit dui ook op die aanvang van die brandseisoen.
Veediefstal en ander uitdagings:
- In Banke (noord van Middelburg) rapporteer boere nat strooptoestande. Diefstal van vee, graan en los goedere neem toe. Informele boere is veral kwesbaar. Daar is kommer oor SARS wat sommige boerderye se praktykbeskrywings eensydige verander (bv. van saaiery na varkboerdery), wat dan lei tot eise vir uitstaande bedrae.
- Stoffberg het drie gevalle van veediefstal gehad. Een boer het gelukkig 14 verse teruggekry wat op die Badplaasveiling opgespoor is. Drie verdagtes is in hegtenis geneem.
- In Greylingstad is lande baie nat en geen stroper kan tans werk nie. Die nat toestande veroorsaak erge stywesiekte onder vee. Veediefstal het onlangs toegeneem, maar danksy kameras, sekuriteitsmaatskappye en polisie-ingryping is vier verdagtes met 'n bakkie en geslagte beeste vasgetrek.
- Die Val-area is ook nat en ondervind skielik ’n oplewing in veediefstal, vermoedelik as gevolg van die naderende Paasnaweek. Boere meld ook probleme met SARS, soos in Banke, en buitensporige Eskom-rekeninge wat hul boerderye ernstig benadeel.
- In Sheepmoor is die toestand baie nat, maar veediefstal is tans onder beheer. Die paaie is egter, soos elders in die provinsie, in ’n haglike toestand.
- Lothair se kant is uiters nat, en boere sukkel om sojas te stroop. Die toestande lei ook tot ‘n toename in veesiektes. Veediefstal is buite beheer en die plaaslike polisie tree baie traag op.
TLU SA Sentraal

Die TLU SA Sentraal Streek het op 10 April sy jaarlikse konferensie net buite Pretoria aangebied. Boere en kenners het waardevolle gesprekke gevoer oor droogtebeplanning, indringerplante en veldbrandversekering. Die dag was ’n suksesvolle mengsel van insig, samewerking en gemeenskapsbou.
TLU SA Limpopo
RPO Limpopo se nuwe Dagbestuur (2025 - 2027) aangewys tydens die Kongres wat op 10 April in Polokwane plaasgevind het.

Vlnr:
Henk Malan - Vise-Voorsitter
Bekker Pelser - Dagbestuurslid
Edmund Fourie- Dagbestuurslid
Douw Pelser - Voorsitter
Wilma Prinsloo - Bestuurder
Peter Moroka - Dagbestuurslid
Lukas Eksteen - Dagbestuurslid
Addisionele bestuurslede per distrik sal deur die Dagbestuur aangewys word.
TLU SA Noord-Kaap

Namakwaland boere wys hul staal op Garies
Selfs al is hulle ver van alles en almal af, wys die TLU Garies-tak jaar op jaar hul veerkragtigheid en gees! Die tweede Boeredag wat deur die tak georganiseer is, was ’n trotse getuienis van wat moontlik is wanneer gemeenskappe saamstaan. Met net 24 lede het dié tak ’n dag gereël wat nie net goed bygewoon is nie, maar ook die aandag getrek het van groot name soos Datamars Livestock, Rovic en OVK – wat almal hul ondersteuning vir die dag uitgespreek het en selfs belangstel om in te koop by volgende jaar se Boeredag.
Drienie Visser, voorsitter, vertel: “Ons is erg opgewonde oor volgende jaar se dag – en beplan reeds daaraan! Ons wil ook hê dat almal bewus sal wees van wat in die Noord-Kaap, veral in die Namakwaland-streek, aan die gebeur is.”

TLU SA Noord-Kaap het aan die einde van Maart ‘n uiters suksesvolle Ekspoweek in Sutherland gehad. Van raskompetisies, veilings tot skaaphondvertoning van die wêreldbekende Henry van der Merwe. |