Eiendombelasting is ‘n gegewe wat ons almal as grondeienaars raak. As jy eiendom besit, is dit van toepassing op so ‘n eienaar. Hierdie is een van die vereistes op ‘n grondeienaar wat in baie gevalle nie veel aandag verkry nie, maar tog so ‘n belangrike rol kan speel in die dag tot dag aktiwiteite van ‘n grondeienaar. Hiermee net ‘n paar punte om in gedagte te hou:
EK KRY NIE ‘N REKENING NIE – IS EK VERANTWOORDELIK VIR EIENDOMBELASTING?
AGTERGROND VAN ‘N REKENING
Elke eiendom binne ‘n munisipaliteit moet volgens die Munisipale Eiendombelasting wetgewing gewaardeer word en die waarde word in die waardasierol van die munisipaliteit opgeneem. Kennisgewings word beskikbaar gestel om grondeienaars in kennis te stel van die waardasie wat onderneem word. Slegs ‘n paar punte in die opsig:
- Die waardeerder hoef nie jou eiendom te besoek vir die waardasie nie. ‘n Lessenaarstudie is voldoende. Slegs van toepassing op plaaslike regering waardasierol.
- Die grondeienaar hoef nie “toestemming” te gee tot enige aspek van die waardasie nie. Dit is verpligtend vir die munisipaliteit in terme van die wetgewing.
- Die grondeienaar het slegs ‘n beperkte tydperk waarbinne daar beswaar aangeteken kan word indien die waardasie nie korrek gedoen is nie. Die beswaar kan deur enige grondeienaar gedoen word, die kostes is nie buitensporig nie indien daar kostes van toepassing is.
- Kontak jou TLU SA plaaslike regering verteenwoordiger indien daar meer inligting hieroor benodig word.
Die waardasie van ‘n eiendom is die basis waarop eiendombelasting bereken word. MAAK DUS SEKER DIE WAARDASIE IS KORREK OM ONNODIGE UITGAWES TE VERMY.
Die munisipaliteit se finansiële jaar is vanaf 1 Julie tot 30 Junie elke jaar. Dit is dan ook die datum waarop die waardasierol geimplimenteer word. Indien die grondeienaar versuim of nagelaat het om beswaar aan te teken op ‘n foutiewe vaslegging, kan daar NOOIT teruggegaan word nie. Die rol is aanvaar en geimplimenteer. GEBRUIK DUS DIE TYDPERK VIR BESWAAR TOT U VOORDEEL!
In terme van die Munisipale Eiendombelasting wetgewing moet die munisipaliteit vir elke grondeienaar wat verantwoordelik is vir eiendombelasting, ‘n rekening uitstuur. Indien jy as grondeienaar nie ‘n rekening ontvang nie, beteken dit nie dat jy nie verantwoordelik is vir eiendombelasting nie.
Die wetgewing bepaal dan verder dat indien jy as grondeienaar nie ‘n rekening ontvang nie, MOET JY NAVRAAG DOEN BY DIE MUNISIPALITEIT VIR JOU REKENING. Daar is dus ‘n verpligting op die munisipaliteit sowel as die grondeienaar wat albei aanspreeklikheid het vir die verkryging/voorsiening van die rekening wat betaalbaar is.
WAT GEBEUR AS EK NIE MY EIENDOMBELASTING REKENING BETAAL NIE?
Indien ‘n grondeienaar dienste ontvang, sal daar in die meeste gevalle ‘n maandelikse rekening vanaf die munisipaliteit wees vir dienste sowel as eiendombelasting. Indien die grondeienaar nie die rekening vereffen nie, het die munisipaliteit die reg om dienste op te skort ten opsigte van die ooreenkoms wat daar tussen die grondeienaar en die munisipaliteit bestaan oor die lewering van dienste.
Indien ‘n grondeienaar geen dienste ontvang nie, is dit dus slegs ‘n eiendombelasting rekening. Hierdie tipe eiendombelasting rekening ontvang in werklikheid die minste aandag by die munisipaliteit aangesien daar in meeste gevalle nie voldoende adresse of kontakinligting beskikbaar is nie en die munisipaliteit nie oor die kapasiteit beskik om rekeninge aan grondeienaars te voorsien nie.
Aangesien die grondeienaar ‘n gedeeltelike aanspreeklikheid het vir die betaling van eiendombelasting, sal die munisipaliteit geduldig wag vir sy inkomste aangesien die skuld oploop en dan is daar nog rente wat bygevoeg kan word. In terme van die munisipaliteit se debietinvorderingsbeleid kan verdere stappe oorweeg word om die grondeienaar verantwoordelik te hou vir die betaling van die rekening.
WAT IS DIE GEVOLGE INDIEN EK NIE EIENDOMBELASTING BETAAL NIE?
Hierdie is die belangrikste aspek vir enige grondeienaar. Indien eiendombelasting nie betaal word nie, kan die rekening vir maande of selfs jare oploop met rente wat onbekostigbaar word vir die grondeienaar.
Eiendombelasting is ‘n belasting in terme van die verjaringswetgewing wat eers na 30 jaar verval. In die geval waar grondeienaars nie ‘n rekening ontvang nie, moet daar nie goedsmoeds aanvaar word dat daar geen eiendombelasting toepaslik is nie. Daar moet navraag gedoen word voordat die munisipaliteit besluit om ‘n invorderaar aan te stel wat die grondeienaar uit die bloute kontak en dreig met dagvaardiging.
Geen grondeienaar wil in hierdie posisie beland nie.
WEES DUS BEWUS VAN JOU EIENDOM, DIE WAARDASIE VAN TOEPASSING EN DIE EIENDOMBELASTING FAKTUUR. MOET NIE ONVERHOEDS BETRAP WORD NIE.
Vir enige verdere inligting, kontak gerus u omgewing se TLU SA Plaaslike Regering verteenwoordiger wat u graag met raad en daad sal help.









