Die volksmoord-debat is veel meer as bloot semantiek
Die hernude debat oor volksmoord in Suid-Afrika, ná Donald Trump se onlangse verwysing daarna tydens sy ontmoeting met president Ramaphosa, is weer opnuut in die kollig. Soos gewoonlik is die debat verdeel, aan die een kant dié wat beweer daar is geen volksmoord nie, en aan die ander kant dié wat wys op die onafwendbare feit dat al die tekens reeds daar is.
Dis soos om iemand te sien wat die Comrades begin hardloop. Jy sien die nommer op sy hemp, hy is op die roete, en hy beweeg vorentoe. Wanneer iemand jou vra of hy die Comrades hardloop, is die regte antwoord: “Ja, hy hardloop dit.” Of hy die eindstreep gaan haal, weet jy nie, maar dat hy in die wedloop is, is onmiskenbaar.
Net so is die volksmoordkwessie nie iets wat eers begin wanneer die massas dood neerval nie. Volgens dr. Gregory Stanton van Genocide Watch is Suid-Afrika reeds by fase 8 van 10 op die volksmoordskaal. Dit sluit onder meer in: klassifisering, simbolisering, voorbereiding, vervolging en die skep van ‘n vervolgingsklimaat. In hierdie klimaat word aanvalle op identiteit, taal, kultuur, eiendomsreg en bestaansreg verdra, en soms aktief bevorder.
Volksmoord is nie net die fisiese uitwissing van mense nie, dit is ook die skepping van ’n vyandige klimaat teen ’n spesifieke groep, die aktiewe afbreek van identiteit en die ontkenning van hul bestaansreg. En in plaas daarvan om hierdie tendense te neutraliseer, help die regering dit aan deur rasgedrewe wetgewing, diskriminerende beleid, en ’n algemene houding van ontkenning.
Om vandag onverskillig te sê “daar is nie volksmoord nie”, is gevaarlik naïef. Dit is soos om die rooi ligte op ’n instrumentpaneel te ignoreer omdat die enjin nog nie ontplof het nie. Die proses is aan die gang. En dit is onaanvaarbaar.
’n Regering wat verantwoordelik is, sou lankal opgetree het toe die eerste rooi lig begin flikker het. In plaas daarvan word daar ontken, verkleineer en selfs gelaster teen dié wat dit durf aanspreek.
Ons sê: wees eerlik oor die werklikheid. Noem dit wat dit is. Want om vandag stil te bly, is om môre deel van die skuld te dra.
Plaasmoord: Moenie met statistiek en woorde speel nie
Na die onlangse ontmoeting tussen president Cyril Ramaphosa en VSA-president Donald Trump, is die debat rondom plaasmoorde weer opnuut in die kollig. Weereens sien ons hoe daar met statistiek en woorde probeer speel word om die realiteit op die grond af te water. Maar vir TLU SA was die werklikheid nog altyd duidelik, en ons hou daarvan rekord.
Sedert 1990 hou TLU SA noukeurig statistieke oor plaasaanvalle en plaasmoorde by. Dit word konsekwent, konserwatief en verantwoordelik gedoen, ons skryf niks neer wat nie werklik gebeur het nie. Dit is juis hierdie beginselvaste werk wat maak dat ons deur verskeie internasionale organisasies genader is om ná die jongste nuusgebeure die feite rondom plaasmoorde in Suid-Afrika te bevestig.
Dis onaanvaarbaar dat ons polisieminister voorgee dat daar glo meer swart boere vermoor word, sonder enige duidelike of verifieerbare data. TLU SA se statistiek sluit álle slagoffers in, boere, plaaswerkers, vroue, kinders en gesinne, ongeag ras. En ja, die meerderheid slagoffers is steeds blanke Suid-Afrikaners. Dis nie ’n politieke standpunt nie, dis ’n feit.
Ons wil dit duidelik stel: enige plaasaanval is een te veel. Plaasmoord gaan nie net oor die individue wat aangeval word nie, dit raak hele gesinne, gemeenskappe en die landbou-ekonomie. Gaan staan voor die gedenkmuur in Bothaville en probeer vir daardie families sê daar is nie ’n probleem nie.
Die kern van die saak is eenvoudig: ’n verantwoordelike regering sal nie hierdie soort aanvalle verdoesel of verdra nie. Hulle sal daadwerklik optree, nie eers wanneer dit te laat is nie, maar by die eerste tekens. TLU SA sal aanhou om die feite te versamel en te kommunikeer, nie vir politieke gewin nie, maar vir die waarheid en vir die veiligheid van elke boer, elke gesin, elke werker op die grond.
Nampo 2025 | Fokus op wat werklik saak maak
Van 13 tot 16 Mei het duisende boere, landboubesighede en belanghebbendes weer saamgetrek by Bothaville vir Nampo, ’n hoogtepunt op die landboukalender en ’n belangrike geleentheid waar tegnologie, kennis en samewerking in die kollig is. Maar ten spyte van die waarde wat Nampo vir die sektor inhou, was dit hartseer om te sien hoe die teenwoordigheid van die president en sy adjunk die mediablootstelling oorheers het, tot so ’n mate dat die fokus verskuif het van dit wat regtig saak maak.
Weereens het Suid-Afrika beleef hoe dieselfde leiers verskillende boodskappe oordra, afhangend van die gehoor. Op Nampo word boere geprys as onmisbare rolspelers vir die land se toekoms, maar in ander forums word hulle as gronddiewe en kolonialiste uitgekryt wat “na Europa moet terugkeer”.
Ons moet waak dat sulke politieke agendas nie die waarde van Nampo laat vervaag nie. Die ware betekenis van Nampo lê daarin dat produsente hul boerderybedrywighede kan meet teen die nuutste tegnologie, kundigheid en metodes. Dit is ’n ruimte vir groei, inspirasie en aanpassing, ’n kans om te evalueer of jy werklik optimaal produseer.
Verskeie ander boeredae en skoue lê nog vir ons voor. Dit is óns geleenthede. Benut dit positief, en hou die fokus op dit wat regtig saak maak. |