James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Ekonomiese druk plaas boerdery en werkskepping in gedrang

Suid-Afrika se ekonomiese trajek is op ‘n gevaarlike pad, en die gevolge daarvan word daagliks gevoel op plaasvlak en in stedelike gebiede. Dit is die waarskuwing van Bertus van der Westhuizen, streeksvoorsitter van TLU in die Vrystaat, wat namens die organisasie ernstige kommer uitspreek oor die toenemende ekonomiese druk wat nie net boere nie, maar ook gewone burgers en besighede begin knak.

“Uit die aard van my bedrywighede in die samelewing, kom ek daagliks met ‘n verskeidenheid van mense in aanraking,” sê Van der Westhuizen. “Oor die algemeen het almal dieselfde klagte: dit raak finansieel net al moeiliker. Hierdie is nie ‘n studie nie, maar ‘n waarneming, en dit voorspel niks goed vir ekonomiese groei en die skep van werk in die land nie.”

Werkloosheid is, ten spyte van regeringsbeloftes, besig om toe te neem. Die gevolg is nie net verlies aan inkomste nie, maar ook ‘n generasie sonder vaardighede en hoop. “As iemand nie werk nie, kan hy nie opgelei word nie, en dit gaan ‘n verlore geslag tot gevolg hê.”

Van der Westhuizen wys daarop dat regeringstappe soos die onlangse verhoging in brandstofheffing nie oplossings bied nie, maar eerder die probleem vererger. “Brandstofheffing sal verhoogde voedselpryse tot gevolg hê,” waarsku hy.

Hy beklemtoon verder die benarde finansiële posisie van boere. Met die ekonomie wat verswak en belasting wat styg, dreig die gevaar van onteiening van boere, nie deur wetgewing nie, maar deur ekonomiese verstikking. “Ons boere is besig om te verarm, en daar gaan ‘n punt bereik word waar SA Landbou in ‘n doodloopstraat beland.”

TLU Vrystaat roep op tot dringendheid in beleidsontwikkeling. Daar moet samewerking wees tussen kundiges in die regering en landbouorganisasies om ‘n pad vorentoe te beplan. “Ek glo nie ons is onnodig negatief nie, maar eerder realisties,” sê Van der Westhuizen. “Daar is nie meer baie tyd beskikbaar voordat hierdie trein ‘n ramp tot gevolg gaan hê nie.”

TLU SA sal aanhou druk plaas op beleidsmakers om opbouende ekonomiese oplossings te vind wat werkskepping, vaardigheidsontwikkeling, en volhoubare landbouaktiwiteit prioritiseer.

Kategorie:

Deel dit:

Ekonomiese druk plaas boerdery en werkskepping in gedrang