James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Begroting van min waarde sonder ingrypende strukturele veranderinge

TLU SA neem kennis van minister Enoch Godongwana se begrotingsrede wat op 21 Mei plaasgevind het, maar bly skepties oor die werklike waarde daarvan vir Suid-Afrika se toekoms, tensy die regering nie dringend en daadwerklik optree rondom sekere fundamentele aspekte nie.

“Elke regering dra twee primêre verantwoordelikhede: om die veiligheid van sy inwoners te waarborg, en om ’n beleidsomgewing te skep waarin entrepreneurs en beleggers nie net wil oorleef nie, maar floreer,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “In hierdie opsig skiet die huidige regering, soos weerspieël in die begroting, steeds tekort.”

Hoewel pogings teen korrupsie genoem is, met bedrae wat teruggevorder is, beskou TLU SA dit as onvoldoende indien daar nie gepaardgaande strafregtelike gevolge en werklike strukturele hervorming plaasvind nie. Kaderontplooiing, swak bestuur en wanfunksionerende staatsinstellings bly ’n ernstige belemmering vir effektiewe dienslewering en die uitvoering van enige begroting. Dit is nie voldoende om korrupsie net in die rede aan te roer nie, dit moet in praktyk uitgeroei word.

TLU SA het herhaaldelik ervaar dat tenders nie deur deursigtige en billike prosesse verloop nie. Staatskontrakte word dikwels toegeken aan partye wat nie noodwendig die mees geskikte of kostedoeltreffende diensverskaffers is nie. Tenderbedrog bly aan die orde van die dag, wat beteken dat belastingbetalers se geld nie doelmatig aangewend word nie en dat daar min of geen waarde vir geld gelewer word.

Verder is TLU SA uiters bekommerd oor die aankondiging van ’n brandstofheffing op beide petrol en diesel. Hierdie verhoging plaas ’n verdere las op ’n landbousektor wat reeds onder druk verkeer. Produsente stoei daagliks om boerdery winsgewend te hou, brandstof is ’n kerninsetkoste en hierdie heffing gaan direkte gevolge hê vir voedselproduksie, vervoer en uiteindelik vir voedselpryse. Sulke heffings wys nie ’n begrip van die realiteite waarmee landbou in Suid-Afrika gekonfronteer word nie.

Wat openbare veiligheid betref, is daar nie voldoende waarborge dat misdaad, wat gemeenskappe verlam en boere se lewens daagliks bedreig, daadwerklik en strategies aangespreek gaan word nie. Sonder wet en orde is geen ekonomie lewensvatbaar nie.

Aan die ander kant vereis ’n gesonde sake-omgewing nie net infrastruktuurbelegging nie, wat ons wel verwelkom, maar ook wetgewende sekerheid. Dit sluit eiendomsreg in, waaroor onsekerheid heers weens beleid soos die Onteiening sonder Vergoeding-voorstel, asook die toenemende erosie van besitreg via SEB-regulasies. Onduidelike, ongunstige arbeidswetgewing en ideologiese beleidsrigtings hou beleggers op afstand en ondermyn entrepreneurskap. Die huidige beleid om alles deur ’n ras- en bemagtigingslens te benader, eerder as ’n produktiwiteits- en groei-lens, hou geen volhoubare oplossing in nie.

Ons neem kennis van die bykomende begroting om oor die medium termyn  onderwysers aan te stel en in poste te hou, asook om vroeëkinderontwikkeling uit te brei. Hoewel dit in beginsel positief is, plaas hierdie toewysings geen waarborg op die gehalte van onderrig of op die ontwikkeling van ’n werkbare, vaardige arbeidsmag nie. Sonder onderwys wat werklik toerus vir deelname aan ’n moderne ekonomie, sal ons jeug vasval in armoede en werkloosheid, ongeag hoeveel geld bestee word.

Wat verder uitstaan, is die gebrek aan werklike ingryping om staatsbesteding te herstruktureer. TLU SA is bekommerd dat daar steeds nie genoeg politieke wil is om weg te breek van die ANC se ideologiese denkraamwerk nie, een wat die mark wantrou, produktiwiteit ondermyn en die ekonomie eerder verwurg as bevry.

Sonder volgehoue ekonomiese groei is daar geen manier om werkloosheid, armoede of ongelykheid te takel nie. Elke beleidsbesluit, wetgewing en besteding moet getoets word aan die kernvraag: sal dit ekonomiese groei aanwakker?

TLU SA doen ’n ernstige beroep op die regering om begrotings nie langer as oefeninge in politieke retoriek te gebruik nie. Die land benodig ’n terugkeer na ekonomiese realisme, met werklike ekonomiese hervorming, verantwoordelike bestuur, en ’n kernfokus op groei, produktiwiteit en gemeenskapsveiligheid.

Kategorie:

Deel dit:

Begroting van min waarde sonder ingrypende strukturele veranderinge