Gee ons nog genoeg aandag aan ons begronding?
Gee ons nog genoeg aandag daaraan om kennis te verkry oor ons begronding – dit wat werklik saak maak?
Die aardse veranderlikes wat ons almal raak, is dikwels verwarrend en maak dit moeilik om koers te hou. Wanneer iemand egter vas geanker is in 'n suiwer Skrifgebonde begronding, raak die aardse bedreigings inderdaad minder bepalend.
Wyle dr. Chris Jordaan, wat by TLU SA werksaam was, was 'n mede-outeur van 'n Manifes vir Christene. Dit is 'n waardevolle dokument wat gelowiges help om hulself toe te rus met groter kennis en konteks. Vanaf hierdie uitgawe gaan Pitkos elke maand 'n kort opsomming van die opeenvolgende hoofstukke publiseer.
Hoofstuk 1: Die wese van God
Die Manifes begin by die belangrikste vraag van almal: Wie is God?
Daar is net een ware God – die ewige, almagtige en onveranderlike God. Hy is nie deel van die skepping nie, maar die Skepper van alles wat bestaan. Hierdie een God openbaar Homself as die Vader, die Seun en die Heilige Gees – die Drie-enige God.
Hierdie waarheid vorm die grondslag van die Christelike wêreldbeskouing. Omdat God die Skepper is, behoort die mens en die samelewing nie self te bepaal wat uiteindelik waar, reg en goed is nie. Ons is skepsels en staan daarom onder die gesag van ons Skepper.
Die Drie-enige God leer ons ook iets belangriks oor die verhouding tussen eenheid en verskeidenheid. In God is daar volmaakte eenheid, maar ook onderskeidenheid. Daarom behoort 'n gesonde samelewing ruimte te hê vir verskeidenheid – vir individue, gesinne, kerke, gemeenskappe en ander instellings – sonder dat dit noodwendig tot verdeeldheid lei.
Elke mens het besondere waarde en waardigheid omdat hy deur God geskape is. Geen staat, regering, groep of ideologie kan daarom die hoogste gesag oor die mens opeis nie. Die mens se uiteindelike verantwoordelikheid is teenoor God.
Die kernboodskap van Hoofstuk 1 is eenvoudig, maar fundamenteel: Ons verstaan die mens, die samelewing en die wêreld eers reg wanneer ons by 'n regte verstaan van God begin.
Wanneer God uit die middelpunt verwyder word, neem iets anders sy plek in – die mens, die staat, 'n ideologie of die menslike rede. Die Christelike antwoord is dat God alleen die Skepper en uiteindelike Here van alles is.
"Die vrees van die Here is die begin van die wysheid."
Bek-en-klouseer
Daar word beslis vordering gemaak met die hantering van bek-en-klouseer (BKS). Die wedloop is egter nog lank nie gewen nie, en die werklikheid is dat die grootste uitdagings steeds voorlê.
Waar daar vir 'n tydperk beperkte kapasiteit was en krampagtig vasgehou is aan die uitvoering van handelinge wat nie die nodige resultate of vertroue ingeboesem het nie, is ons ten minste nou in die wegspringblokke en is die tafel gedek vir groter samewerking in die uitvoering van beheermaatreëls.
Die versugting wat die Industrie Koördineringskomitee (ICC) sedert Januarie uitgespreek het, naamlik dat die privaatsektor toegelaat moet word om sy eie belange te beskerm, het uiteindelik gestalte gekry toe dit, ingevolge 'n hofbevel wat deur drie litigante gedryf is, toegestaan is.
Dit is nou nodig dat ons hierdie geleentheid aangryp. Al wag daar nog baie hekkies op ons pad, moet ons die verantwoordelikheid aanvaar vir die rol wat ons moet speel en dit so goed moontlik vervul – dit is immers ons eie toekoms wat op die spel is.
Jaarlikse Jongboerkompetisie
Die twaalf finaliste is onlangs op hul plase besoek. Buiten die voorreg wat die beoordelaarspaneel het om deur ons mooi land te reis, is die grootste voorreg die geleentheid om met jong boere in gesprek te tree wat die toekoms van die Suid-Afrikaanse landbou help vorm.
Die uitdaging om 'n eerste, tweede en derde plek uit twaalf uitstaande finaliste aan te wys, is gewis geen maklike taak nie. Die paneel wil graag sy opregte waardering uitspreek teenoor elke jong boer wat besoek is. Die ingesteldheid en passie vir die landbousektor wat tydens die besoeke ervaar is, getuig van 'n toekomsgerigtheid wat groot hoop vir die bedryf inhou.
Die ideale uitslag sou wees om twaalf eerste plekke toe te ken, maar ongelukkig moes moeilike keuses gemaak word. Baie geluk aan die drie finaliste wat uiteindelik aangewys is. Die finale uitslae en plasing sal tydens TLU SA se Kongres op 2 September bekend gemaak word.
'n Woord van opregte dank gaan ook aan ons borge wat dit moontlik maak om hierdie kompetisie met waardevolle pryse aan te bied. Ons spreek graag ons waardering uit teenoor die Hatfield Motorgroep, Santam Agri en Inspexia vir hul ondersteuning. |