James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA staan saam met Graan SA oor sojaboon-liggingsdifferensiaal

TLU SA ondersteun Graan SA se beswaar teen die Johannesburgse Effektebeurs se besluit om die veelvuldigeverwysingspuntmodel vir die berekening van sojaboon-liggingsdifferensiale te beëindig en weer na ’n enkelverwysingspuntmodel terug te keer.

Die veelvuldigeverwysingspuntmodel is oor twee bemarkingseisoene op die JSE se lewerbare sojaboontermynkontrak getoets. Die model is ontwikkel om die geografiese verspreiding van sojaboonproduksie en -verwerking beter in ag te neem en vraag en aanbod op ’n billiker wyse met mekaar te verbind.

Die JSE het op 20 Julie 2026 aangekondig dat die model nie behou sal word nie. Volgens die JSE was daar wel verbeterings in handelsvolumes, oop posisies en fisieke lewerings gedurende die toetsperiode, maar kon dié verbeterings nie direk aan die nuwe model toegeskryf word nie. Die JSE het ook kommer uitgespreek oor die beskikbaarheid van betroubare verwerkingsdata, die gebruik van historiese inligting en die vermoë van markdeelnemers om die berekeninge onafhanklik te verifieer.

Graan SA voer egter aan dat die besluit nie voldoende aan die hand van die vyf voorafbepaalde evalueringskriteria gemotiveer is nie. Die organisasie meen ook dat die beskikbare kwantitatiewe inligting en die aanbevelings van die tegniese komitee nie voldoende in die finale besluit weerspieël word nie.

“TLU SA het talle graanprodusente as lede. Hierdie saak raak die hele graanbedryf. Graan SA beskik oor die tegniese kundigheid en bedryfsverteenwoordiging om die proses namens produsente te voer, en TLU SA staan daarom sterk agter hulle,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

TLU SA erken dat liggingsverskille ’n rol in graanprysvorming speel. Die kernvraag is egter of die metodologie wat gebruik word die werklike verspreiding van produksie, verwerking en vraag akkuraat weerspieël en of die uitkoms vir alle produsente deursigtig en billik is.

TLU SA is veral bekommerd oor die omvang van die finansiële impak wat liggingsdifferensiale op produsente se winsgewendheid kan hê. Wanneer ‘n differensiaal byvoorbeeld R350 per ton beloop en ‘n produsent ‘n gemiddelde opbrengs van 3 ton sojabone per hektaar lewer, beteken dit ‘n vermindering van R1 050 per hektaar in bruto inkomste. By mielies, teen ‘n opbrengs van 8 ton per hektaar, beloop dieselfde differensiaal reeds R2 800 per hektaar. Vir produsente is dit nie ‘n geringe aanpassing nie, maar ‘n bedrag wat ‘n beduidende verskil aan die winsgrens maak. Daarom was baie graanprodusente hoopvol dat ‘n meer billike en markverwante model uiteindelik ook vir ander gewasse, soos mielies en koring, oorweeg sou word. Produsente verdien ‘n stelsel waarvan die berekening, toepassing en finansiële impak volledig deursigtig is, veral wanneer dit sulke groot bedrae van hul inkomste beïnvloed. 

Wanneer ‘n produsent duisende rand per hektaar minder ontvang as gevolg van ‘n berekeningsmodel, behoort hy ten minste presies te kan sien hoe daardie bedrag bereken is. Deursigtigheid is nie ‘n luukse nie, maar ‘n vereiste.

“’n Liggingsdifferensiaal is nie bloot die verhaal van werklike vervoer-, diesel- of spoorwegkoste nie. Dit is ’n berekende aanpassing wat verband hou met die ligging waar produk teen ’n termynkontrak gelewer kan word. Wanneer die verwysingspunt of berekeningsmetode nie werklike kommersiële graanbewegings behoorlik weerspieël nie, kan produsente in sekere gebiede benadeel word,” sê Van Zyl.

TLU SA is verder bekommerd wanneer plaaslike kopers ’n volle liggingsdifferensiaal van produsente aftrek, selfs waar die graan plaaslik gelewer en verwerk word. Hoewel die JSE aandui dat sy kontrakreëls nie die kontantmark reguleer nie, kan die Safex-prys en gepaardgaande differensiale steeds as verwysingspunt in kommersiële transaksies gebruik word. Die toepassing daarvan moet daarom deeglik ondersoek en duidelik aan produsente verduidelik word. Die JSE bevestig self dat sy formele bevoegdheid tot die beurs en genoteerde termynkontrakte beperk is.

Die verval van Suid-Afrika se spoorvervoerstelsel vererger die probleem deur produsente en kopers toenemend van duurder padvervoer afhanklik te maak. Dit beteken egter nie dat enige berekende liggingsdifferensiaal sonder deursigtige data en ’n behoorlike beoordeling aanvaar moet word nie.

Die JSE stel voor dat Randfontein vanaf die bemarkingseisoen wat op 1 Maart 2027 begin, deur Driefontein as die enkele sojaboonverwysingspunt vervang word. Belanghebbendes het tot 14 Augustus 2026 om kommentaar op dié voorstel te lewer.

“Voordat ’n nuwe enkelverwysingspunt ingestel word, moet die finansiële gevolge vir produsente in elke sojaboonproduserende streek volledig en deursigtig bepaal word. Produsente kan nie verwag word om ’n stelsel te aanvaar waarvan die berekenings, data en streekimpak nie behoorlik uiteengesit word nie,” sê Van Zyl.

TLU SA ondersteun Graan SA se eis vir ’n metodologie wat bewysgegrond, herhaalbaar, deursigtig en billik teenoor alle markdeelnemers is. TLU SA sal ook die verdere proses en enige beskikbare bedryfs-, prosedurele of regsopsies ondersteun wat daarop gemik is om produsentebelange te beskerm.

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA staan saam met Graan SA oor sojaboon-liggingsdifferensiaal