TLU SA verwelkom die aankondiging deur die Minister van Landbou, Willie Aucamp, dat kwalifiserende plaaslike en internasionale instansies onder bepaalde voorwaardes met die Landbounavorsingsraad (LNR) kan saamwerk om bek-en-klouseer-entstof op groter skaal te vervaardig.
Minister Aucamp het aangekondig dat die LNR en sy raad goedkeuring verleen het dat kwalifiserende private maatskappye, ingevolge voorwaardelike lisensiëringsooreenkomste, toegang tot die LNR se intellektuele eiendom rakende die BKS-entstof kan verkry. Die doel is om die LNR se huidige produksiebeperkings te help oorkom en groter hoeveelhede entstof beskikbaar te stel.
TLU SA beskou die besluit as ’n belangrike stap vorentoe in die bekamping van BKS en in die beskerming van Suid-Afrika se veebedryf.
“TLU SA is baie dankbaar vir die minister se aankondiging dat die entstof wat deur die LNR ontwikkel is, nou ook onder bepaalde voorwaardes deur geskikte private instansies vervaardig kan word. Dit bied die moontlikheid om addisionele produksiekapasiteit te ontsluit en die beskikbaarheid van entstof te verbeter,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.
Plaaslike of internasionale instansies sal met die LNR ’n toepaslike lisensiëringsooreenkoms moet sluit en steeds aan die voorgeskrewe wetenskaplike, regulatoriese, vervaardigings- en gehaltevereistes moet voldoen.
Die produksie van die entstof sal daarom steeds binne ’n streng beheerde omgewing plaasvind en deur toepaslik geakkrediteerde en gemagtigde instansies behartig moet word.
“Daar is beslis nog regulatoriese realiteite wat in ag geneem moet word. Die betrokkenheid van die privaatsektor beteken nie dat die bestaande vereistes en beheermaatreëls wegval nie. Die entstof moet ingevolge die LNR se lisensievoorwaardes en binne die toepaslike regulatoriese raamwerk vervaardig word,” sê Van Zyl.
Volgens TLU SA bevestig veeartse en akademici wat met BKS werk dat die LNR-entstof tans besonder geskik is vir die virusstamme wat in Suid-Afrika voorkom.
“Die inligting wat ons van veeartse en akademici ontvang, dui daarop dat hierdie tans waarskynlik die geskikste entstof is om die Suid-Afrikaanse stamme aan te spreek en die nodige immuniteit in kuddes te help opbou,” sê Van Zyl.
’n Verdere voordeel is dat die LNR-entstof na verwagting langer immuniteit kan bied as sommige van die entstowwe wat tans ingevoer word. Volgens TLU SA kan die LNR-entstof immuniteit van tot ’n jaar bied, terwyl sekere ingevoerde entstowwe immuniteit vir ongeveer drie tot ses maande bied.
“Langer immuniteit kan ’n groot voordeel vir die veebedryf wees. Dit kan produsente help om kuddes meer doeltreffend te beskerm en kan ook die praktiese en finansiële las van meer gereelde inenting verminder,” sê Van Zyl.
TLU SA meen dat groter deelname deur bevoegde vervaardigers moontlik ook tot meer mededinging, verbeterde beskikbaarheid en potensieel laer koste kan lei. Die uiteindelike prys van die entstof sal egter afhang van onder meer die lisensievoorwaardes, regulatoriese vereistes, vervaardigingskoste en die kommersiële haalbaarheid van produksie.
Die LNR sal terselfdertyd voortgaan om sy eie produksievermoë uit te brei. Enige inkomste wat uit lisensiëringsooreenkomste verkry word, sal volgens die minister geoormerk word om die LNR se interne BKS-entstofvervaardigingskapasiteit verder op te bou.
TLU SA verwelkom ook die besluit om verteenwoordigende virus-isolate wat tans in Suid-Afrika sirkuleer, aan die Pirbright Institute in die Verenigde Koninkryk voor te lê vir verdere entstofpassing. Die doel is om wetenskaplik te bepaal hoe geskik beskikbare plaaslike en ingevoerde entstowwe vir die huidige Suid-Afrikaanse BKS-stamme is.
“Dit is belangrik dat daar voortdurend getoets word of die entstof steeds die stamme wat in Suid-Afrika voorkom, voldoende aanspreek. Virusveranderinge en moontlike mutasies moet betyds geïdentifiseer word om te voorkom dat ’n entstof met verloop van tyd minder doeltreffend raak,” sê Van Zyl.
TLU SA meen die huidige benadering volg ’n meer verantwoordelike en doelgerigte pad om BKS beter te beheer.
“Ons het groot waardering vir die rigting wat nou ingeslaan word. Indien die lisensiërings- en regulatoriese prosesse verantwoordelik en sonder onnodige vertragings afgehandel word, kan hierdie ontwikkeling ’n baie belangrike bydrae lewer tot die beskerming van Suid-Afrika se veebedryf en die breër landbousektor,” sluit Van Zyl af.









