James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Wanneer ’n boer vermoor word …

Wanneer ’n boer vermoor word, word daar dikwels net na nog ’n moord in Suid-Afrika se misdaadstatistiek gekyk. Elke mens het die reg op lewe en veiligheid, ongeag waar hulle woon, watter beroep hulle beoefen of tot watter gemeenskap hulle behoort.

Maar wanneer ’n boer vermoor word, verloor Suid-Afrika meer as net ’n lewe.

Dit is juis waarom die gesprek oor plaasmoorde nie behoort te verval in ’n politieke argument oor wie se lewe meer werd is nie. Dit gaan nie daaroor om een groep se lyding teenoor dié van ’n ander te stel nie. Dit gaan daaroor dat daar ingrypender gevolge is wanneer ’n persoon wat ’n noodsaaklike ekonomiese en voedselproduserende rol vervul, deur geweld uit die samelewing verwyder word.

Suid-Afrika se moordsyfer bly ’n ernstige nasionale probleem. Die SAPD se eie statistieke toon dat duisende mense steeds elke kwartaal vermoor word.

Die Grondwet is egter baie duidelik: Elke persoon het die reg op lewe en die reg op vryheid en veiligheid, insluitend die reg om vry te wees van alle vorme van geweld. Die Grondwet bepaal ook dat alle regeringsfere die welstand van die mense moet beveilig en effektiewe, verantwoordbare regering moet voorsien.

Teen hierdie agtergrond behoort SuidAfrikaners nie gewoond te raak aan moord nie.

Daar word tans internasionaal baie aandag gegee aan plaasmoorde in Suid-Afrika. Lex Libertas het onlangs die Witkruisprojek in Washington, DC aangebied, waar 3 000 wit kruise ter nagedagtenis aan slagoffers van plaasmoorde opgerig is. Die doel was juis om die menslike koste van plaasmoorde aan ’n internasionale gehoor bekend te stel.

Daar is verskillende standpunte oor die veldtog en oor die breër politieke interpretasie daarvan. Dit is deel van ’n legitieme openbare debat. Maar waarom sou Suid-Afrikaners kwaad wees omdat die wêreld kennis neem van plaasmoorde?

Die gepaste reaksie behoort eerder te wees: Dankie dat julle aandag vestig op die probleem. Nou moet ons seker maak dat die volle waarheid oor alle geweld en alle slagoffers vertel word.

Daar is geen rede om enige moord te verdoesel, te relativeer of minder belangrik te maak nie.

Terselfdertyd kan ’n mens nie ignoreer dat talle plaasaanvalle en -moorde gekenmerk word deur ’n besondere vlak van geweld en wreedheid nie. Daar is ook groot kommer oor politieke dreunsang en uitsprake wat deur sommige mense as aanmoediging tot geweld geïnterpreteer word. Juis daarom moet enige oproep tot geweld, ongeag wie dit rig of teen wie dit gemik is, onvoorwaardelik verwerp word.

Wat verloor ons wanneer ’n boer verloor word? Hier lê die groter vraag.

Suid-Afrika se bevolking beslaan volgens die jongste Stats SA-raming ongeveer 63,5 miljoen mense. Indien ’n mens die dikwels gebruikte ordegrootte van ongeveer 32 000 kommersiële boerderyeenhede as illustrasie gebruik, beteken dit dat elke boerdery-eenheid gemiddeld verantwoordelik is vir voedselvoorsiening wat uiteindelik duisende mense se tafels raak.

Die syfer moet nie letterlik geïnterpreteer word asof elke individuele boer direk vir presies 2 000 mense voedsel produseer nie. Dit illustreer eerder die strategiese omvang van die landbouprodusent se rol. Verlies van ’n boer is ook verlies aan jare se ervaring, kennis, grondkennis, bestuursvermoë en gevestigde produksiesisteme. Landbou is nie ’n bedryf waarin ’n mens vandag instap en môre dieselfde vlak van kundigheid en produksie bereik nie. Kennis word oor dekades opgebou en dikwels van een geslag na die volgende oorgedra.

Wanneer ’n plaas gevolglik ná ’n moord nie meer volhoubaar voortgaan nie, kan die gevolge veel verder as die plaashek strek.

Werksgeleenthede kan verlore gaan. Diensverskaffers verloor inkomste. Plaaslike winkels en ondernemings verloor kliënte. Vervoerders, meganisasiewerkswinkels, veeartse, insetverskaffers en talle ander ondernemings word geraak.

Die plaaslike ekonomie verloor ’n produksiepunt en die staat verloor belastinginkomste. Die lyn van boer na bord kry seer.

En natuurlik verloor ’n gesin ’n eggenoot, pa, ma of kind.

Met Suid-Afrika se amptelike werkloosheidskoers wat in die tweede kwartaal van 2026 op 33,6% gestaan het, kan die land dit eenvoudig nie bekostig dat produktiewe ondernemings deur geweld tot stilstand kom nie.

Die vraag behoort daarom nie te wees: Waarom praat julle so baie oor plaasmoorde? nie.

Die vraag behoort te wees: Waarom gebeur enige moord in Suid-Afrika, en wat doen ons om dit te bekamp?

Wanneer ’n boer vermoor word, verloor ons ’n mens. Terselfdertyd ook ’n produsent, werkgewer, entrepreneur, mentor, belastingbetaler, gemeenskapslid en draer van opgeboude landboukennis.

Daarom is plaasveiligheid nie net ’n landbou-aangeleentheid nie. Dit is ’n nasionale veiligheids-, ekonomiese en voedselvoorsieningskwessie.

Die Grondwet belowe dat Suid-Afrika ’n land sal wees waarin elke burger deur die reg beskerm word. Dit is nie ’n guns wat die staat aan sy burgers bewys nie. Dit is ’n grondwetlike verantwoordelikheid.

Wanneer die president van die land in die internasionale arena, na aanleiding van ’n vraag, verklaar dat daar nie plaasmoorde in Suid-Afrika is nie, terwyl hy terselfdertyd tereg die land toespreek oor geslagsgeweld en moorde op vroue, ontstaan daar ’n ongemaklike teenstrydigheid. Daar is geen probleem daarmee dat die president standpunt teen geslagsgeweld inneemnie – inteendeel, dit is noodsaaklik. Maarwanneer die geheelbeeld van die moorde wat daagliks in Suid-Afrika plaasvind in ag geneem word, kan ’n mens nie anders as om te vra waarom die regering met so ’n selektiewe benadering na ’n nasionale veiligheidskrisis kyk nie. ’n Regering se eerste verantwoordelikheid behoort te wees om die lewe en veiligheid van álle burgers te beskerm. Wanneer dit nie gebeur nie, begin die vraag ontstaan of ons nie met ’n regering te doen het wat toenemend afwesig is waar dit juis die nodigste is nie. Wanneer daardie verantwoordelikheid nie nagekom word nie, betaal uiteindelik die hele Suid-Afrika die prys.

Hierdie artikel het in Pretoria FM se Nuusweek op 2 Oktober 2026 verskyn.

Kategorie:

Deel dit:

Wanneer ’n boer vermoor word …