TLU SA neem kennis van die Demokratiese Alliansie se voorgestelde Economic Inclusion for All Bill, wat beoog om die huidige Swart Ekonomiese Bemagtigingsbeleid (SEB) te vervang met ’n nuwe, behoeftes-gebaseerde stelsel van ekonomiese insluiting.

As organisasie wat nog altyd teen enige vorm van rasgebaseerde wetgewing gekant is, verwelkom TLU SA die hernude openbare gesprek oor werklike gelykheid en inklusiewe ekonomiese groei. Die afgelope twee dekades het duidelik gewys dat SEB in sy huidige vorm nie armoede verminder of volhoubare werksgeleenthede geskep het nie, maar eerder tot grootskaalse wanbesteding, korrupsie en politieke bevoordeling gelei het.

Volgens TLU SA behoort die Suid-Afrikaanse ekonomie op meriete, vaardigheid, en werklike bydrae tot ontwikkeling gebou te word, nie op kleur of politieke verbintenisse nie.

“TLU SA glo in gelyke geleenthede vir almal, maar ware gelykheid kan nooit deur diskriminerende wetgewing bereik word nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “’n Stelsel wat mense volgens hul ras beoordeel, maak die samelewing net verder verdeeld en ontmoedig werklike ekonomiese groei.”

Die enigste volhoubare manier om ongelykheid aan te spreek, is deur bevoegdheid, eerlike werk, produktiwiteit en toegang tot geleenthede vir almal te bevorder. 

TLU SA beklemtoon dat ’n gesonde ekonomiese bestel slegs kan funksioneer wanneer mense bereid is om ekonomiese verantwoordelikheid te aanvaar. “Ekonomiese verantwoordelikheid en verantwoordelikheidsplasing is die boustene van groei,” sê Bennie van Zyl. “Wanneer mense die ruimte kry om selfstandig te werk, te onderneem en te produseer, floreer die hele land.”

TLU SA pleit dat enige nuwe beleid of wetgewing daarop gefokus moet wees om armoede te verlig, entrepreneurskap aan te moedig, en klein besighede, insluitend boere in alle gemeenskappe, in staat te stel om eerlik en deursigtig aan die ekonomie deel te neem.

Die organisasie beklemtoon verder dat staatsverkryging en tendertoekennings slegs suksesvol kan wees as dit vry van korrupsie en politieke inmenging is, en as alle deelnemers op ’n gelyke grondslag beoordeel word.

“Suid-Afrika het beleid nodig wat die werkende mens bevoordeel, nie die gekonnekteerde elite nie,” sê Van Zyl. “Ons kan nie aanhou om dieselfde fout te herhaal en te verwag dat die uitkoms anders gaan wees nie. Eerlikheid, bekwaamheid en harde werk moet weer die maatstawwe wees.”

TLU SA roep daarom die regering op om van rasgebaseerde kriteria afstand te doen en eerder beleid te bevorder wat ekonomiese deelname, vaardigheidsontwikkeling en volhoubare groei vir almal aanmoedig.