TLU SA dien op die BKS-bedryfskoördineringsraad met een duidelike doel: om die belange van produsente te beskerm en te verseker dat besluite oor BKS verantwoordelik en doeltreffend uitgevoer word. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, se deelname beteken nie instemming met elke benadering of besluit nie; dit beteken dat ons daar is waar die sektor se behoeftes in aanbevelings vervat kan word.
“Ons primêre verantwoordelikheid bly om boere te beskerm en om elke geleentheid te benut om praktiese oplossings aan te jaag,” sê Van Zyl.
Die BKS-bedryfskoördineringsraad is op 26 Januarie 2026 deur landbouminister John Steenhuisen saamgestel en bestaan uit nege rolspelers uit die bedryf. Dit is ’n struktuur wat werk binne ’n driehoek van die tegniese taakgroep (veeartse), bedryfskoördineringsraad (landbousektor-verteenwoordiging) en die departement, met ’n mandaat vir skakeling en insette. Reeds tydens die eerste vergadering het TLU SA voorgestel dat die raad wyer saamgestel moet word om die volledige kompleksiteit van die bedryf te weerspieël, insluitend sektore soos die wildbedryf, aangesien ’n krisis soos BKS nie tot ’n enkele deel van die bedryf beperk kan word nie.
Sedert die afskop van die bedryfskoördineringsraad se aktiwiteite het TLU SA beklemtoon dat die kern van die uitkoms moet wees: diere moet so gou moontlik ingeënt word. “Die koördineringskomitee se insette tot dusver het altyd op die uitkoms gefokus en is deurgaans gerig op die belange van die landbousektor,” sê Van Zyl.
Dit beteken dat die proses van invoer, verspreiding en toediening van entstowwe vaartbelyn en spoedeisend moet geskied, steeds binne die regulatoriese raamwerk om te verseker dat kwaliteit, veiligheid en biosekuriteit gehandhaaf word. Spoed sonder beheer is onverantwoordelik; beheer sonder spoed kan die krisis verleng en boere se produksie in gevaar stel.
TLU SA wys egter daarop dat die huidige regulatoriese raamwerk nie op spoed ingestel is nie en verskeie strukturele uitdagings bevat wat nie binne die beheer van die bedryfskoördineringsraad val nie. Die bestaande goedkeuringsprosesse, invoerpermitte en administratiewe vereistes is grootliks gesentraliseerd en onderworpe aan staatsbeheer, wat onnodige vertraging en rompslomp veroorsaak. Hierdie faktore belemmer vinnige uitvoering, ten spyte van die bereidwilligheid en kapasiteit wat in die bedryf bestaan.
TLU SA het konsekwent daarop gewys dat Suid-Afrika by die model wat in Brasilië toegepas is, kan leer. Daar het die staat gefokus op regulering en kwaliteitsbeheer, terwyl vervaardiging, verkryging en toediening van entstowwe so ver moontlik deur die privaat sektor hanteer is. Dit het kapasiteit ontsluit en uitvoering versnel. Dieselfde beginsel moet hier toegepas word: die staat moet toesig hou, maar ruimte skep vir die privaat sektor om verantwoordelik op te tree.
“Wanneer beheer belangriker word as uitvoering, betaal boere die prys,” sê Van Zyl. “Elke uur se vertraging raak voedselsekerheid, ekonomiese stabiliteit en die gesondheid van veekuddes. Ons is nie teen verantwoordelike toesig en beheer nie, maar ons keer ons teen ’n gesentraliseerde stelsel wat nie die kapasiteit het om dit effektief uit te voer nie, en teen die traagheid waarmee dit tans plaasvind.”
TLU SA se werklike fokus bly dus onveranderd: behoorlike verkryging, verspreiding en toediening van entstowwe onder streng biosekuriteit en naspeurbaarheid, met deursigtige verslagdoening en verantwoordelike toesig. Die doel is dat diere so gou as moontlik ingeënt word en dat die privaat sektor sy rol voluit kan speel.
Deelname aan die BKS-raad is ’n strategiese en praktiese besluit. Dit gee TLU SA die geleentheid om invloed uit te oefen, om probleme onmiddellik aan te spreek, en om te verseker dat besluite die dringendheid en verantwoordelikheid toon wat hierdie krisis vereis. Die sektor is gereed om sy deel te doen; wat nou nodig is, is spoed, kapasiteit en uitvoering wat verantwoordelik en doelgerig is.



