TLU SA Limpopo
ONS WATERBRONNE IN VERNIETIGING-SONE
Water is van kardinale belang vir landbou, aangesien dit die ruggraat is van gewasproduksie en veeteelt. Landbou is die hoeksteen van die ekonomie van die land terwyl betroubare watervoorsiening voedselsekerheid, werkskepping en ekonomiese stabiliteit verseker.
Tans is die grootste uitdagings, onder andere, watertekorte as gevolg van droogtes of swak bestuur, die oorbenutting van waterbronne wat lei tot uitputting van grondwater en reserwes en vuil water of besoedeling wat landbouproduktiwiteit bedreig. Besoedelde waterbronne is besig om toe te neem en word daar daagliks ervaar hoe die staat sy verantwoordelikheid nie nakom ten einde die waterbronne te beskerm vir die land en sy mense. Die Limpopo-rivier se besoedeling wat op 16 Julie 2025 opspraak gemaak het, is van die ernstigste voorvalle wat voorkom.
TLU SA Limpopo en sy lede besef dat die belangrikheid van water en die bestuur van die bronne, die voortbestaan van nasionale landbou bepaal. In die opsig was daar reeds verskeie gesprekke met die Departement Watersake en Sanitasie vir die doeltreffende bestuur van die waterbronne, hoewel dit duidelik was dat rekeninge en finansiële voordeel die belangrikste aspek was in die opsig van landbou.
TLU SA het ‘n dispuut verklaar met die Departement Watersake en Sanitasie aangesien dit duidelik was dat die Departement geensins die belang van die landbouers besef nie. Vanaf die Departement Watersake en Sanitasie is geen dispuut oplossingsmeganisme daargestel nie terwyl lede deurlopend geteister word met invorderaars en prokureurs. In 2023 het TLU SA Limpopo se Watersake-komiteebestuur hul gewend tot Sakeliga met samesprekings oor die hantering van die aangeleentheid. ‘n Fondsinsamelingsinisiatief is vanaf TLU SA Limpopo geloods en kan daar met dank aan lede wat hoofsaaklik vanuit Limpopo streek, voldoende fondse verkry was om ‘n regsaak te ondersteun in die verband. Boerderye wat hoofsaaklik lede is van TLU SA Limpopo, het as mede-applikante tot die saak toegetree en word hierdie lede bedank vir hulle bereidwilligheid ten gunste van ‘n saak vir alle boere in Suid-Afrika. Op 8 Julie 2025 is die hofstukke in die waterhofsaak uitgereik en is daarna beteken op die Departement Watersake en Sanitasie.
Water is die lewensbloed van landbou en doeltreffende bestuur daarvan is noodsaaklik vir voedselsekerheid en volhoubare ontwikkeling. TLU SA Limpopo se komitee wat hierdie saak hanteer sal deurgaans strewe om hierdie konsep as bestuursmeganisme aan die Departement van Watersake en Sanitasie voor te hou ten einde die resultaat van ‘n werkbare instrument te implementeer tot voordeel van die land, sy mense, diere en plante wie se voortbestaan afhanklik is van water.
TLU SA Oosstreek
Boere in die Oosstreek is volop besig in die lande en op die plaas, van mieliestroop tot veldbrandbeheer, kalkstrooi en regsake wat hul stem laat hoor.
In Machadodorp meld Johan Immelman dat boere steeds besig is om mielies te stroop. Voorbrande vorder goed, en boere is oor die algemeen positief oor die toestand van die gebied. Daar heers egter steeds uitdagings soos veediefstal en onwettige jag met honde. Die nagte is ysig koud, maar die verwagting vir die komende TLU SA-kongres hou die gemoedere hoog. Johan wys ook uit dat TRAC hierdie jaar die padreserwes weerskante van die N4 van Belfast tot by die Machadodorp-tolhek gebrand het, ’n groot verligting ná die uitdagings van verlede seisoen se wegholbrande.
In die Chrissiesmeer-omgewing is 99% van die stroopwerk afgehandel, hoewel nat kolle sekere dele van die lande onvoltooid laat. Skepelgewigte is goed, maar graad bly 'n uitdaging. Kalkstrooiers is flink aan die werk en veldbrande word goed hanteer, almal is baie beter voorbereid ná verlede seisoen se stormwinde. Veediefstal word doeltreffend beheer.
Vanuit die Standerton-omgewing word berig dat die stroopproses ná ’n laat wegspring goed aan die gang is. Opbrengste is bemoedigend, al gee gradering probleme. Veediefstal en brande is tot dusver onder beheer. ’n Saak van groter belang is egter die hofgeding tussen die Lekwa Munisipaliteit en die Standerton Landbouforum rakende munisipale belasting op landbougrond – ’n saak wat moontlik ’n nasionale impak kan hê.
In Stoffberg is daar steeds ’n paar boere besig met stroopwerk. Kalkstrooiers het ook begin stof maak en veldbrande is tans nog geen probleem nie. Onwettige hondejag is betreklik stil.
Vanuit Sheepmoore word berig dat daar steeds heelwat gestroop word, alhoewel sommige boere sukkel met graad 2-mielies. Gelukkig maak die tonne dit op. Voorbrande word goed gehanteer, en veediefstal is tans taamlik stil.
TLU SA Vrystaat
TLU SA Vrystaat se verbintenis tot ondersteuning aan ons lede spesifiek en landbouers en produsente in die algemeen, maak ons een van die belangrikste rolspelers op die terrein van kommersiële landbou. Landelike veiligheid, veediefstal en dieregesondheid was die afgelope maand se fokusareas. Die streekvoorsitter van TLU SA Vrystaat, Bertus van der Westhuizen, speel ‘n belangrike rol by bewusmaking van die voordele en nadele van tegnologiese ontwikkeling in landbou. Hommeltuigtegnologie open nuwe horisonne van gebruik in giftoediening, kontrole oor veetroppe in ekstensiewe veeboerdery en as hulpmiddel by landelike veiligheid. Die skerp toename in hommeltuigbedrywigheid in die noordelike en sentrale gebiede in die Vrystaat laat egter verskeie vrae oor moontlike misbruik van dié tegnologie in die hande van ongewensdes ontstaan.
Nie alleen is verskeie uitsendings oor die moontlike misbruik van hommeltuie in radioprogramme gedoen nie, maar ook deur die gedrukte media onder aandag van produsente gebring. In verskeie opsigte het TLU SA Vrystaat die leiding geneem in bewusmaking van die gevare wat ongekontroleerde gebruik van hommeltuie vir landelike veiligheid en misdaad soos veediefstal inhou. Produsente word aangemoedig om foto- en ander material en inligting wat meer lig op die gevare verbonde aan moontlike onregmatige gebruik van hommeltuie kan werp, met die kantoor van TLU SA en die streekbestuur van die Vrystaat te deel.
Vanweë TLU SA Vrystaat se noue samewerking met die RPO is belangrike insette oor bekamping van bek-en-klouseer in die Vrystaat gelewer. Produsente word deurentyd herinner aan hul regte en verpligtinge om biosekuriteit binne die plaashek te verseker: Beperk beweging van verkeer, diere en lewende hawe; lewendehawe en ander diere wat plase binnegaan, moet vir 28 dae in kwarentyn geplaas word; interaksie met ander diere en lewendehawe moet beperk word; verseker dat alle voertuie ontsmet is alvorens die plaas betree word; toegang tot plase behoort beperk te word omdat voertuie, lewendehawe, veevoere, mense en toerusting sade dra en peste en dieresiektes na plase bring.
TLU SA Vrystaat glo dat biosekuriteit by die plaashek begin en ‘n belangrike rol kan speel om die Vrystaat weer bek-en-klouseer vry te maak. |