Plaas info@emails.tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
Julie 2025
 

Ek was die afgelope week weereens baie bevoorreg om deel te wees van die plaasbesoeke tydens die TLU SA Jongboer van die Jaar-evaluering. Dis altyd ’n inspirasie om te sien watter verskil ons jong boere binne net ’n jaar op hul plase en in hul gemeenskappe maak.

Ons kyk na ’n wye verskeidenheid aspekte, van toekomsvisie, produk- en arbeidsbestuur, tot risikobestuur, instandhouding, netheid, en hoe funksioneel en doeltreffend die boerdery bedryf word. Gemeenskapsbetrokkenheid speel ook ’n groot rol, nie net binne georganiseerde landbou nie, maar ook in ’n wyer sosiale konteks.

Ons evalueer hoe tegnologie en meganisasie ingespan word, op ’n manier wat winsgewendheid bevorder en vernuwing weerspieël. En natuurlik kyk ons ook na die harde realiteite van landbou, veiligheid, bemarking en volhoubare bestuur, om te bepaal of ’n kandidaat regtig waardig is om een van die finaliste te wees.

Elke jaar is dit ’n voorreg om die passie en entoesiasme van hierdie jong boere te beleef. Ten spyte van druk en uitdagings, sien ons hoe hulle steeds maniere vind om ’n verskil te maak, op hul plase, in hul gemeenskappe, en in die groter landbou-omgewing.

Ons jongboere is werklik die toekoms. Sonder kos op die tafel val alles in duie, en ons is opreg dankbaar om te sien hoe hierdie jong leiers reeds besig is om daardie toekoms te vorm.

Boeregroete
Bennie van Zyl
Hoofbestuurder, TLU SA

 

ROCKET CONNECT

TLU SA bied van die beste voordele aan sy lede, praktiese ondersteuning wat werklik ’n verskil maak. Een van hierdie voordele is ’n nuwe vennootskap met ROCKET

Ons is bly om aan te kondig dat TLU SA nou saam met ROCKET werk om lede toegang te gee tot ’n omvattende noodhulpdiens, spesifiek ingestel op die unieke uitdagings van landelike gebiede.

ROCKET CONNECT is ’n 24-uur nooddiens met toegang tot mediese advies, ambulansvervoer en, indien nodig, vinnige lugvervoer per helikopter. Hierdie diens is ontwikkel met landelike gemeenskappe in gedagte, waar hospitale ver is en tyd in noodgevalle van kritieke belang kan wees.

Deur ROCKET CONNECT het jy altyd toegang tot ’n nasionale noodsentrum wat beman word deur gekwalifiseerde mediese personeel. Hulle bied telefoniese ondersteuning, aktiveer ambulansdienste, en kan selfs lughulp reël wanneer dit nodig is. ’n Maklike mobiele toep help om vinnig jou ligging vas te stel en die naaste hulpbronne te ontbied.

Lede wat inteken, kry toegang tot:

  1. 24/7 noodondersteuning
  2. Ambulansvervoer
  3. Helikopterhulp waar toepaslik *subject to ROCKET’s flight criteria and T&Cs

Die diens kos R75 per maand, ’n bekostigbare premie vir die sekuriteit en gemoedsrus wat dit bied.

By TLU SA glo ons in gesamentlike ondersteuning en volhoubare oplossings vir boere. Hierdie diens vorm deel van ons breër verbintenis om lede se veiligheid te bevorder en realistiese oplossings te bied vir probleme wat dikwels op die plaasoppervlak geïgnoreer word.

Lede wat belangstel om aan te sluit, kan die TLU SA-kantoor kontak by 012 804 8031 of besoek ons webblad.


Evaluering vir TLU SA Jongboer van die Jaar-finaliste voltooi

Die tweede rondte van die TLU SA Jongboer van die Jaar 2025-kompetisie is suksesvol afgehandel met plaasbesoeke aan al die finaliste.

Die nasionale paneel van beoordelaars het elke jongboer op sy eie plaas besoek en geëvalueer op bestuursvernuf, tegniese kundigheid, finansiële bestuur en betrokkenheid by die gemeenskap. Die paneel is tans besig om die finale punte saam te stel en te bespreek.

Die top drie finaliste sal binnekort aangekondig word, en die wenner word tydens TLU SA se Kongres op 10 September 2025 bekend gemaak.

 
 

TLU SA Limpopo

ONS WATERBRONNE IN VERNIETIGING-SONE

Water is van kardinale belang vir landbou, aangesien dit die ruggraat is van gewasproduksie en veeteelt.  Landbou is die hoeksteen van die ekonomie van die land terwyl betroubare watervoorsiening voedselsekerheid, werkskepping en ekonomiese stabiliteit verseker. 

Tans is die grootste uitdagings, onder andere, watertekorte as gevolg van droogtes of swak bestuur, die oorbenutting van waterbronne wat lei tot uitputting van grondwater en reserwes en vuil water of besoedeling wat landbouproduktiwiteit bedreig. Besoedelde waterbronne is besig om toe te neem en word daar daagliks ervaar hoe die staat sy verantwoordelikheid nie nakom ten einde die waterbronne te beskerm vir die land en sy mense.  Die Limpopo-rivier se besoedeling wat op 16 Julie 2025 opspraak gemaak het, is van die ernstigste voorvalle wat voorkom.

TLU SA Limpopo en sy lede besef dat die belangrikheid van water en die bestuur van die bronne, die voortbestaan van nasionale landbou bepaal.  In die opsig was daar reeds verskeie gesprekke met die Departement Watersake en Sanitasie vir die doeltreffende bestuur van die waterbronne, hoewel dit duidelik was dat rekeninge en finansiële voordeel die belangrikste aspek was in die opsig van landbou.

TLU SA het ‘n dispuut verklaar met die Departement Watersake en Sanitasie aangesien dit duidelik was dat die Departement geensins die belang van die landbouers besef nie. Vanaf die Departement Watersake en Sanitasie is geen dispuut oplossingsmeganisme daargestel nie terwyl lede deurlopend geteister word met invorderaars en prokureurs.  In 2023 het TLU SA Limpopo se Watersake-komiteebestuur hul gewend tot Sakeliga met samesprekings oor die hantering van die aangeleentheid. ‘n Fondsinsamelingsinisiatief is vanaf TLU SA Limpopo geloods en kan daar met dank aan lede wat hoofsaaklik vanuit Limpopo streek, voldoende fondse verkry was om ‘n regsaak te ondersteun in die verband. Boerderye wat hoofsaaklik lede is van TLU SA Limpopo, het as mede-applikante tot die saak toegetree en word hierdie lede bedank vir hulle bereidwilligheid ten gunste van ‘n saak vir alle boere in Suid-Afrika. Op 8 Julie 2025 is die hofstukke in die waterhofsaak uitgereik en is daarna beteken op die Departement Watersake en Sanitasie.

Water is die lewensbloed van landbou en doeltreffende bestuur daarvan is noodsaaklik vir voedselsekerheid en volhoubare ontwikkeling. TLU SA Limpopo se komitee wat hierdie saak hanteer sal deurgaans strewe om hierdie konsep as bestuursmeganisme aan die Departement van Watersake en Sanitasie voor te hou ten einde die resultaat van ‘n werkbare instrument te implementeer tot voordeel van die land, sy mense, diere en plante wie se voortbestaan afhanklik is van water.

TLU SA Oosstreek

Boere in die Oosstreek is volop besig in die lande en op die plaas, van mieliestroop tot veldbrandbeheer, kalkstrooi en regsake wat hul stem laat hoor.

In Machadodorp meld Johan Immelman dat boere steeds besig is om mielies te stroop. Voorbrande vorder goed, en boere is oor die algemeen positief oor die toestand van die gebied. Daar heers egter steeds uitdagings soos veediefstal en onwettige jag met honde. Die nagte is ysig koud, maar die verwagting vir die komende TLU SA-kongres hou die gemoedere hoog. Johan wys ook uit dat TRAC hierdie jaar die padreserwes weerskante van die N4 van Belfast tot by die Machadodorp-tolhek gebrand het, ’n groot verligting ná die uitdagings van verlede seisoen se wegholbrande.

In die Chrissiesmeer-omgewing is 99% van die stroopwerk afgehandel, hoewel nat kolle sekere dele van die lande onvoltooid laat. Skepelgewigte is goed, maar graad bly 'n uitdaging. Kalkstrooiers is flink aan die werk en veldbrande word goed hanteer, almal is baie beter voorbereid ná verlede seisoen se stormwinde. Veediefstal word doeltreffend beheer.

Vanuit die Standerton-omgewing word berig dat die stroopproses ná ’n laat wegspring goed aan die gang is. Opbrengste is bemoedigend, al gee gradering probleme. Veediefstal en brande is tot dusver onder beheer. ’n Saak van groter belang is egter die hofgeding tussen die Lekwa Munisipaliteit en die Standerton Landbouforum rakende munisipale belasting op landbougrond – ’n saak wat moontlik ’n nasionale impak kan hê.

In Stoffberg is daar steeds ’n paar boere besig met stroopwerk. Kalkstrooiers het ook begin stof maak en veldbrande is tans nog geen probleem nie. Onwettige hondejag is betreklik stil.

Vanuit Sheepmoore word berig dat daar steeds heelwat gestroop word, alhoewel sommige boere sukkel met graad 2-mielies. Gelukkig maak die tonne dit op. Voorbrande word goed gehanteer, en veediefstal is tans taamlik stil.

TLU SA Vrystaat

TLU SA Vrystaat se verbintenis tot ondersteuning aan ons lede spesifiek en landbouers en produsente in die algemeen, maak ons een van die belangrikste rolspelers op die terrein van kommersiële landbou. Landelike veiligheid, veediefstal en dieregesondheid was die afgelope maand se fokusareas. Die streekvoorsitter van TLU SA Vrystaat, Bertus van der Westhuizen, speel ‘n belangrike rol by bewusmaking van die voordele en nadele van tegnologiese ontwikkeling in landbou. Hommeltuigtegnologie open nuwe horisonne van gebruik in giftoediening, kontrole oor veetroppe in ekstensiewe veeboerdery en as hulpmiddel by landelike veiligheid. Die skerp toename in hommeltuigbedrywigheid in die noordelike en sentrale gebiede in die Vrystaat laat egter verskeie vrae oor moontlike misbruik van dié tegnologie in die hande van ongewensdes ontstaan.

Nie alleen is verskeie uitsendings oor die moontlike misbruik van hommeltuie in radioprogramme gedoen nie, maar ook deur die gedrukte media onder aandag van produsente gebring. In verskeie opsigte het TLU SA Vrystaat die leiding geneem in bewusmaking van die gevare wat ongekontroleerde gebruik van hommeltuie vir landelike veiligheid en misdaad soos veediefstal inhou. Produsente word aangemoedig om foto- en ander material en inligting wat meer lig op die gevare verbonde aan moontlike onregmatige gebruik van hommeltuie kan werp, met die kantoor van TLU SA en die streekbestuur van die Vrystaat te deel.

Vanweë TLU SA Vrystaat se noue samewerking met die RPO is belangrike insette oor bekamping van bek-en-klouseer in die Vrystaat gelewer. Produsente word deurentyd herinner aan hul regte en verpligtinge om biosekuriteit binne die plaashek te verseker: Beperk beweging van verkeer, diere en lewende hawe; lewendehawe en ander diere wat plase binnegaan, moet vir 28 dae in kwarentyn geplaas word; interaksie met ander diere en lewendehawe moet beperk word; verseker dat alle voertuie ontsmet is alvorens die plaas betree word; toegang tot plase behoort beperk te word omdat voertuie, lewendehawe, veevoere, mense en toerusting sade dra en peste en dieresiektes na plase bring.

TLU SA Vrystaat glo dat biosekuriteit by die plaashek begin en ‘n belangrike rol kan speel om die Vrystaat weer bek-en-klouseer vry te maak.

 

PLAASLIKE REGERING BESTUUR IN DIE VERGROOTGLAS

Die Witskrif oor Plaaslike regering in SA is ‘n raamwerk vir doeltreffende bestuur en dienslewering.  Dit beklemtoon beginsels soos samewerkende regering, volhoubare dienslewering en gemeenskapsbetrokkenheid met die hoofdoel om regeringstrukture te versterk vir die lewering van basiese dienste soos water, elektrisiteit, sanitasie en behuising waar daar tans ‘n groot agterstand en tekortkoming beleef word. 

Die witskrif het ‘n duidelike visie vir plaaslike regering gestel binne die Grondwet se raamwerk.  Verdere klem is duidelik gelê vir die gemeenskapsdeelname wat belangrik is deur openbare konsultasie oor verordeninge en begrotings wat deursigtigheid en verantwoording aanmoedig.

Die implementering bly steeds ‘n groot struikelblok.  Munisipaliteite sukkel oor die algemeen met entoereikende infrastruktuur, finansiele wanbestuur en ‘n gebrek aan kapasiteit wat dienslewering belemmer.  Hierdie tekortkominge het weereens uit verskeie verslae vanaf die Ouditeur Generaal voorgekom.  Korrupsie en swak bestuur in plaaslike regerings is kwessies wat die witskrif se doelwitte kan ondermyn.  Daar bestaan ‘n gebrek aan voldoende opleiding en vaardigheid by munisipale amptenare wat effektiwiteit belemmer.  Kommentaar op sosiale media dui daarop dat die hersiening van die witskrif daargestel is om uitdagings aan te spreek hoewel die raamwerk nie ten volle aangepas is vir hedendaagse behoeftes nie.

Die onlangse oproep vir hersiening van die Witskrif oor Plaaslike Regering in Julie 2025 toon dat die regering die behoefte erken om kwessies soos swak dienslewering, finansiele volhoubaarheid en bestuur te verbeter.  Die sukses hang egter af van hoe effektief nuwe voorstelle geimplementeer word.

Die Witskrif oor Plaaslike Regering het ‘n stewige grondslag gelê vir plaaslike bestuur in SA, maar die sukses daarvan word beperk deur praktiese uitdagings soos korrupsie, kapasiteitstekorte en swak implementering.  Dit sal egter sterk politieke wil en gemeenskapsbetrokkenheid vereis om die visie van ‘n effektiewe, inklusiewe plaaslike regering te verwesenlik.


TLU SA se Elektroniese Biblioteek is nou aktief!

TLU SA het pas ‘n eksklusiewe ledeportaal op ons webblad geloods – ‘n elektroniese biblioteek propvol saakmakende, praktiese en strategiese inligting vir jou as lid. Hier gaan jy beleide, riglyne, dokumente, en selfs toegang tot ons mediabiblioteek kry – alles op een plek.

Só kry jy toegang:
Jy moet ‘n geregistreerde lid van TLU SA wees. Meld aan met die e-posadres waarop jy ons kommunikasie ontvang. Skep dan ‘n wagwoord – en siedaar – jy het toegang tot ‘n wêreld van kennis en hulpmiddels wat net vir ons lede beskikbaar is.

Ons brei die biblioteek voortdurend uit soos nuwe inligting beskikbaar raak, so loer gereeld in en bly op hoogte sodat jy ingeligte besluite vir jou plaas en toekoms kan neem.

Besoek nou: www.tlu.co.za

 
 

Opgradering van Vaalputs Kernafval stoor-fasiliteit

TLU SA Noord Kaap namens georganiseerde landbou spreek ernstige kommer uit

Genoeg is genoeg, ons sal nie toegee aan rasgedrewe wetgewing nie

Eskom en Nersa se gemors: ’n onregverdige las

 

  • 2 Augustus | Vleisfees Randfontein
  • 7 Augustus | Klipkraal Demodag
  • 7-9 Augustus | Kragdag Landbou
  • 22-23 Augustus | Vivo Boerebemarkingsdag
  • Kragdag-stalletjies beskikbaar: KragDag vind op 7 - 9 Augustus plaas.

 

Kongres 2025