TLU SA neem met diep kommer kennis van die jongste hofbesluite en hofaansoeke wat Eskom en die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) raak, waardeur verbruikers moontlik nóg R90 miljard uit die sak gejaag gaan word, bo en behalwe die reeds onbekostigbare tariefverhogings.
Suid-Afrikaners word toenemend as gyselaars gehou deur ’n monopolieverskaffer wat eens as wêreldklas gereken is, maar nou gebuk gaan onder swak bestuur, korrupsie, gebrek aan instandhouding en ’n salarismassa wat in geen verhouding tot dienslewering staan nie. Hierdie strukture is besig om die ekonomie in ’n wurggreep te hou, en die las daarvan rus swaar op landbou, nywerhede én huishoudings.
Daarby faal Nersa keer op keer in sy rol as onafhanklike regulator. Die foute in tarief- en inkomste-besluite wat nou tot hofskikkings lei, bewys dat hierdie instansie nie meer die verbruiker of die publiek se belang dien nie. In plaas daarvan dat Eskom en Nersa verantwoordelikheid aanvaar vir hul wanbestuur, word die rekening telkens na die verbruiker gestuur.
Die feit dat verbruikers nou gestraf word vir die verlaging in kragverbruik tydens ’n tydperk van beurtkrag, ekonomiese agteruitgang, en ’n oorlewensgedrewe skuif na sonkrag, is onregverdig en onlogies. Die moontlikheid van toekomstige heffings op selfs eie opwekkingsvermoë, soos sonpanele, is niks anders as ’n desperate poging om Eskom se monopolie teen enige koste te beskerm nie.
TLU SA sal saam met ander burgerlike organisasies, onafhanklike navorsers en kundiges oor die spektrum heen werk om ’n deurtastende ondersoek te loods na hierdie strategiese, maar mislukte struktuur – ’n stelsel wat onder ernstige wanbestuur gebuk gaan, besig is om ’n verleentheid te word, en nie net landbou nie, maar elke Suid-Afrikaner in die steek laat. Die monopolie moet gebreek word. Die tyd het aangebreek vir realistiese, markgedrewe oplossings wat koste-effektief, volhoubaar en regverdig is vir alle Suid-Afrikaners.
Die wanbestuur, korrupsie en politieke invloed wat tot hierdie punt gelei het, mag nie langer ongemerk bly nie.



