James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA betreur stigting van Rooivleisforum en waarsku teen versplintering

Die volhoubaarheid van Suid-Afrikaanse landbou berus onder meer op sterk kommoditeitsorganisasies waarin produsente self hul belange verteenwoordig, hul leiers verkies en saam besluite neem. TLU SA betreur daarom die stigting van ’n nuwe Rooivleisforum deur Vrystaat Landbou, wat produsente landwyd nooi om aan te sluit en vrae laat ontstaan oor die toekomstige rol en posisie van die bestaande Rooivleisprodusente-organisasie (RPO).

Vrystaat Landbou het onlangs die stigting van die Rooivleisforum aangekondig. Die forum wil uitdagings op grondvlak identifiseer, produsentebelange bevorder en samewerking binne die rooivleisbedryf versterk. Hoewel die inisiatief in die Vrystaat ontstaan het, is lidmaatskap oop vir primêre rooivleisprodusente van regoor Suid-Afrika.

Volgens TLU SA is dit juis die nasionale omvang van die inisiatief wat kommer wek. ’n Nuwe struktuur wat dieselfde produsente as ’n bestaande kommoditeitsorganisasie probeer betrek, kan onsekerheid skep en die gesamentlike verteenwoordiging van rooivleisprodusente verswak.

“TLU SA het ’n algemene raadsbesluit dat ons ons kommoditeitsorganisasies ondersteun. Dit is organisasies wat aan die boere behoort en waarin produsente self die praatwerk doen. Hulle kies hul leiers, en dié leiers neem besluite namens die organisasie. Dit is hoe produsente se belange deur gespesialiseerde strukture bevorder behoort te word,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

Van Zyl beklemtoon dat verskille oor besluite binne ’n kommoditeitsorganisasie nie noodwendig ’n rede is om ’n nuwe struktuur te stig nie. Produsente behoort eerder aktief aan bestaande prosesse deel te neem, hul leiers aanspreeklik te hou en hul stem te laat hoor.

“Wanneer ’n boer van sy bestaande organisasie wegstap omdat hy nie met sekere besluite saamstem nie, maar nie meer aktief deelneem om verandering te help bewerkstellig nie, is dit ’n hartseer verhaal. Die antwoord lê nie noodwendig in die stigting van nóg ’n organisasie nie, maar in betrokkenheid, verantwoordbaarheid en die versterking van die strukture wat reeds bestaan,” sê Van Zyl.

Prof. Andries Raath, streeksbestuurder van TLU SA se Vrystaatstreek, wys daarop dat die inisiatief produsente in alle provinsies raak en gevolglik onsekerheid oor bestaande verteenwoordigingsmeganismes kan skep.

“Kommoditeitsorganisasies is gespesialiseerde entiteite wat elk op hul eie terrein funksioneer. Hulle bestaan om produsente se belange binne ’n bepaalde bedryf te bevorder. Wanneer parallelle strukture ontstaan wat dieselfde produsente probeer betrek, ontstaan die vraag hoe hierdie strukture tot die bedryf se voordeel gaan saamwerk en of dit nie eerder bestaande verteenwoordiging gaan verswak nie,” sê Raath.

TLU SA is bekommerd dat die nuwe forum die posisie van die RPO kan verswak en verdere verdeeldheid binne die rooivleisbedryf kan veroorsaak. Die organisasie meen dat produsente se uitdagings eerder ’n gesamentlike benadering vereis, veral in ’n tyd waarin die bedryf sterk samewerking en doelgerigte optrede nodig het.

“Ons kan nie bekostig dat produsente se energie en aandag deur versplintering opgebruik word nie. Die landboubedryf het sterk, kundige en gevestigde organisasies nodig wat hul onderskeie verantwoordelikhede kan uitvoer en produsente se belange doeltreffend kan bevorder. Waar probleme bestaan, moet dit aangespreek word deur betrokkenheid en konstruktiewe gesprek,” sê Van Zyl.

TLU SA se beleidstandpunt is dat produsente aangemoedig moet word om aktief by hul kommoditeitsorganisasies betrokke te raak en hierdie organisasies te ondersteun. Dit beteken nie dat bestaande strukture bo kritiek verhewe is nie. Produsente moet juis hul organisasies aanspreeklik hou en deur deelname help verseker dat besluite hul behoeftes en belange weerspieël.

Die organisasie wil daarom met Vrystaat Landbou in gesprek tree om duidelikheid te kry oor die doelwitte van die Rooivleisforum, die beoogde verhouding daarvan met die RPO en ander bestaande strukture, asook die langtermynrigting wat met die inisiatief gevolg word. TLU SA wil ook sy standpunt oor die belang van samewerking en die versterking van bestaande kommoditeitsorganisasies aan Vrystaat Landbou oordra.

“Dit is belangrik dat daar gesprekke gevoer word voordat onsekerheid en verdeeldheid verder toeneem. Ons wil verstaan wat Vrystaat Landbou met hierdie inisiatief beoog en hoe dit die bestaande verteenwoordiging van rooivleisprodusente gaan raak. Die belange van die produsent en die rooivleisbedryf as geheel moet vooropstaan,” sê Raath.

“TLU SA staan vir die versterking van bestaande kommoditeitsorganisasies en vir ’n landboubedryf waarin produsente saamwerk om gemeenskaplike uitdagings aan te spreek. Ons moet in hierdie verwarrende tye leiding gee en koers hou. Ons kan ons nie verdere versplintering veroorloof nie. Ons moet bou aan samewerking wat die produsent, die rooivleisbedryf en Suid-Afrikaanse landbou as geheel bevoordeel,” sluit Van Zyl af.

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA betreur stigting van Rooivleisforum en waarsku teen versplintering