Die onlangse voorvalle in die Sannieshof- en Ventersdorp-omgewing herinner ons aan die ernstige impak wat geweldsmisdaad op landbougemeenskappe, hul gesinne en die breër platteland het. Die jongste voorval was besonder brutaal en beklemtoon opnuut die wreedheid waarmee misdaadslagoffers soms gekonfronteer word. TLU SA spreek sy opregte meegevoel en ondersteuning uit teenoor die slagoffers en hul families, en wens hulle sterkte toe gedurende hierdie moeilike tyd.
Bennie van Zyl, hoofbestuur van TLU SA sê die organisasie neem terselfdertyd met waardering kennis van die suksesvolle optrede wat op hierdie voorvalle gevolg het.
“Die arrestasie van verdagtes is ‘n belangrike ontwikkeling en getuig van die waarde van vinnige reaksie, doelgerigte ondersoekwerk en goeie samewerking tussen alle rolspelers.”
TLU SA wil hulle opregte dank en waardering uitspreek teenoor almal wat tot hierdie sukses bygedra het. Die samewerking tussen die SAPD, plaaslike veiligheidsstrukture, die landbougemeenskap, tegnologiese ondersteuningsnetwerke en ander betrokkenes toon duidelik wat bereik kan word wanneer gemeenskappe verenig optree teen misdaad.
Volgens TLU SA onderstreep die sukses van hierdie optrede die belang van gemeenskapsamehorigheid, plaaslike betrokkenheid en gedeelde verantwoordelikheid. Wanneer inwoners, veiligheidsnetwerke, burgerlike strukture en wetstoepassingsagentskappe as vennote saamwerk, word die kollektiewe vermoë om misdaad te voorkom, te bekamp en vinnig daarop te reageer aansienlik versterk. “Sterk gemeenskappe word nie slegs deur individue gebou nie, maar deur verhoudings van vertroue, samewerking en ‘n gedeelde verbintenis tot die veiligheid van almal,” sê Van Zyl.
Hierdie beginsel strook met die waardes en bepalings van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika. Artikel 12(1)(c) bepaal dat elke persoon die reg het om vry te wees van alle vorme van geweld vanuit openbare of private bronne. Artikel 205(3) plaas weer ‘n duidelike verantwoordelikheid op die Suid-Afrikaanse Polisiediens om misdaad te voorkom, te bekamp en te ondersoek, openbare orde te handhaaf en die inwoners van die Republiek en hul eiendom te beskerm.
Volgens Hugo Pretorius, nasionale voorsitter van TLU SA se veiligheidskomitee, berus die verantwoordelikheid vir veiligheid egter nie uitsluitlik by die staat nie. Artikel 3(2)(b) bepaal dat alle burgers onderworpe is aan die pligte en verantwoordelikhede van burgerskap, terwyl artikel 8(2) bevestig dat die Handves van Regte in bepaalde omstandighede ook op natuurlike en regspersone van toepassing is. Regte en verantwoordelikhede kan daarom nie van mekaar geskei word nie.
Misdaad floreer waar gemeenskappe wegkyk, waar gesteelde goedere gekoop word, waar korrupsie geduld word, of waar oortreders beskerm word. Daarteenoor word veiligheid versterk wanneer burgers misdaad aanmeld, met ondersoeke saamwerk, getuienis lewer en die oppergesag van die reg ondersteun. Dit verskoon nie die staat van sy grondwetlike verantwoordelikhede nie; dit voltooi die grondwetlike prentjie. Veiligheid vereis sowel ‘n professionele en aanspreeklike polisiediens as burgers wat hul verantwoordelikhede ernstig opneem. Gemeenskapswaaksaamheid is noodsaaklik, maar vigilantisme is nie verantwoordelike burgerskap nie. Volhoubare veiligheid word bereik wanneer die staat en burgers binne die raamwerk van die reg as vennote saamwerk.
Volgens Pretorius bied die gebeure in Sannieshof en Ventersdorp ‘n praktiese voorbeeld van hierdie beginsels in werking. “Dit wys wat moontlik is wanneer gemeenskappe georganiseerd is, wanneer tegnologie en inligting doeltreffend aangewend word, en wanneer die SAPD en plaaslike inwoners in ‘n gees van samewerking optree. Sulke suksesse versterk nie net veiligheid nie, maar ook die vertroue dat misdaad nie onbestrede gelaat hoef te word nie.”
TLU SA wil die SAPD en alle ander betrokkenes gelukwens met die arrestasies en die professionele wyse waarop daar opgetree is. Hulle vertrou dat die saak nou verder suksesvol ondersoek, vervolg en afgehandel sal word sodat geregtigheid kan geskied.
“Sannieshof en Ventersdorp is ‘n duidelike voorbeeld van wat moontlik is wanneer gemeenskappe saamstaan, verantwoordelikheid aanvaar en as vennote optree in die belang van veiligheid. TLU SA wil in die besonder vir kapt. Bonita Dry bedank en gelukwens met die wyse waarop sy die ondersoekspan ná die laaste voorval gelei het,” sluit Van Zyl af.








