Wanneer Suid-Afrikaanse gesinne hierdie Kersfees om tafels aansit, sal daar min gedink word aan die lang pad wat die kos voor hulle moes aflê; of aan die boere, plaaswerkers en gesinne wat deur die jaar geplant, versorg, geoes en aangehou het om dit moontlik te maak.
TLU SA wil vanjaar daardie verhaal deel maak van ’n groter een: die verhaal van Kersfees en die geboorte van Christus.
Met Plaaskersfees 2026 wil TLU SA ’n besondere Kersfees-televisieprogram tot stand bring waarin Christus sentraal staan en die plaas, die boerderygesin en die landbougemeenskap die agtergrond vorm waarteen die Kersboodskap vertel word.
“Ons wil terugkeer na dit waaroor Kersfees werklik gaan. Terselfdertyd wil ons erkenning gee aan die mense wat elke dag met geloof, verantwoordelikheid en harde werk sorg dat daar kos op ons tafels is. Plaaskersfees bring hierdie twee wêrelde bymekaar,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.
Die program word beplan as ’n Kersfees-huldeblyk aan die mense van landbou, maar met ’n duidelike boodskap: Christus bly die middelpunt van Kersfees.
Tradisionele Kersmusiek, Skriflesing, gebed en ’n kort oordenking sal deel vorm van die program, saam met persoonlike Kersverhale van hoop en liefde. ’n Van Plaas tot Kerstafel-insetsel sal ook die verhaal vertel van die mense en landbou agter dit wat uiteindelik op die Kerstafel beland
TLU SA wil mense vanuit verskillende landboustreke betrek sodat die program nie bloot óór boere en landbougemeenskappe praat nie, maar hulle self die geleentheid gee om hul geloof, stories en Kersfeestradisies met Suid-Afrika te deel.
“Daar is ’n besondere verhouding tussen geloof en landbou. ’n Boer kan voorberei, plant en versorg, maar bly elke dag bewus daarvan dat daar dinge is wat buite sy beheer lê. Vir TLU SA is geloof, rentmeesterskap en verantwoordelikheid deel van ons grondslag. Daarom is hierdie projek vir ons veel meer as bloot ’n televisieproduksie,” sê Van Zyl.
Landbougemeenskap genooi om Plaaskersfees moontlik te maak
Om Plaaskersfees 2026 tot stand te bring, moet R150 000 vir die vervaardiging van die televisieprogram ingesamel word.
TLU SA wil dié bedrag juis met die ondersteuning van die landbougemeenskap en sy vennote bereik.
Enige individu of onderneming wat ’n kleiner, groter of alternatiewe bydrae wil maak, word genooi om met TLU SA in gesprek te tree.
“Dit gaan nie oor die grootte van een persoon se bydrae nie. Dit gaan daaroor dat ’n gemeenskap saamstaan om iets moontlik te maak wat ons geloof, ons mense en die verhaal van landbou op ’n besondere manier kan uitdra,” sê Van Zyl.
Alle bydraes tot die projek sal onder toesig en beheer van TLU SA en sy ouditeure geskied.
TLU SA nooi sy lede, boere, landbouondernemings en ander ondersteuners uit om deel te word van Plaaskersfees 2026; hetsy deur ’n finansiële bydrae, moontlike borgskap of deur die boodskap verder te versprei.
Vir meer inligting oor bydraes en borgskappe kan Bennie van Zyl gekontak word.
Bydraes kan in die volgende rekening betaal word:
TLU SA
ABSA
Rekeningnommer: 070 000 075
Takkode: 632005
Verwysing: TLU1 Voorletters + Van
Stuur asb. ‘n bewys van betaling, tesame met u volledige kontakbesonderhede, na
fin@tlu.co.za









