James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA vra vir mediumtermynbegroting wat wys wat met belastingbetalers se geld gebeur

Die vraag is nie bloot hoeveel geld die staat begroot nie, maar of daardie geld werklik ‘n verskil maak. Dit is die kernvraag wat TLU SA voor die Mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring (MTBPS) van 2026 aan die regering stel.

Die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, lê die verklaring op Woensdag 21 Oktober 2026 om 14:00 in Kaapstad ter tafel.

Die midtermynbegroting fokus hoofsaaklik op aanpassings en regstellings aan bestaande begrotings, eerder as groot nuwe toekennings. Dit bied egter ‘n belangrike geleentheid om bestaande bestedingsplanne te hersien en beskikbare fondse, waar nodig, te herposisioneer om beter uitkomste te bereik.

Volgens TLU SA behoort dié proses gepaard te gaan met ‘n kritiese beoordeling van hoe openbare fondse bestuur en aangewend word.

“Dit is nie genoeg om te sê dat R300 miljoen aan onderwys toegeken is nie. Die vraag is wat met daardie geld gebeur het. Is die beoogde uitkomste bereik? Is aankope deur billike en deursigtige tenderprosesse gedoen? Was daar voldoende beheermaatreëls om korrupsie, wanbesteding en die vermorsing van geld weens ‘n gebrek aan kundigheid te voorkom?” vra Bennie van Zyl, Hoofbestuurder van TLU SA.

Volgens TLU SA behoort verslagdoening oor staatsbesteding veel verder te strek as die bedrae wat departemente bestee. Die publiek moet kan sien watter projekte voltooi is, watter dienste gelewer is en of die beoogde voordele vir gemeenskappe gerealiseer het, sodat toekomstige begrotingsbesluite op prestasie eerder as besteding alleen gegrond kan word.

Dit vereis betroubare rekordhouding, deursigtige verkrygingsprosesse en voldoende kontrolemaatreëls binne departemente en ander staatsinstellings. Daar moet ook duidelike aanspreeklikheid wees wanneer geld nie volgens die doel waarvoor dit bewillig is, aangewend word nie.

“Ons moet ophou om die bedrag wat bestee is as die prestasie te beskou. Die werklike prestasie lê in die uitkoms. Indien geld vir infrastruktuur bewillig is, moet die infrastruktuur funksioneer. Indien geld vir onderwys toegeken is, moet dit tot beter onderwysvoorsiening bydra. Daar moet bewys wees dat die besteding sy doel gedien het,” sê Van Zyl.

TLU SA meen dat die MTBPS spesifiek gebruik moet word om te bepaal waar bestaande bestedingspatrone aangepas, herprioritiseer of versterk moet word om beter uitkomste met beskikbare fondse te bereik. Wanneer programme nie die gewenste resultate lewer nie, behoort die redes daarvoor ondersoek te word en moet beskikbare fondse, waar toepaslik, na meer doeltreffende en produktiewe aanwendings herlei word.

‘n Belangrike maatstaf vir enige aanpassing of herprioritisering van begrotings gedurende die MTBPS-proses behoort die impak daarvan op ekonomiese groei te wees. Suid-Afrika se vermoë om werk te skep, armoede te verminder en sy belastingbasis te verbreed, hang in ‘n groot mate af van ‘n ekonomie wat groei en ondernemings wat volhoubaar kan funksioneer.

Wanneer ekonomiese groei stagneer, word werkskepping beperk en neem armoede toe. Dit vererger maatskaplike probleme en kan bydra tot ‘n omgewing waarin misdaad verder toeneem.

“Ons moet vra of die staat se bestedingspatroon ekonomiese groei bevorder. Skep dit ‘n omgewing waarin ondernemings kan uitbrei, werk geskep word en meer mense ekonomies selfstandig kan word? Of word geld bestee sonder dat dit ‘n volhoubare opbrengs vir die land lewer?” vra Van Zyl.

Volgens TLU SA behoort die MTBPS ook te wys hoe bestaande infrastruktuurbegrotings en diensleweringsprogramme presteer het en waar aanpassings nodig is om ekonomiese ontwikkeling beter te ondersteun. Vir landbou sluit dit onder meer die instandhouding van paaie, waterinfrastruktuur en elektrisiteitsvoorsiening, asook landelike veiligheid, in. Wanneer hierdie basiese vereistes nie nagekom word nie, verhoog dit produksiekoste en beperk dit ondernemings se groei- en werkskeppingsvermoë.

Die organisasie wys ook op die infrastruktuurwerk wat in sekere munisipaliteite voor die komende verkiesing plaasvind. Waar herstelwerk ná jare se agterstande skielik momentum kry, ontstaan die vraag waarom dit nie vroeër en deurlopend gedoen kon word nie.

“Dit is positief wanneer infrastruktuur herstel word en gemeenskappe die resultate daarvan sien. Die belangrike vraag is of hierdie momentum ná die verkiesing sal voortduur. Infrastruktuuronderhoud behoort deel van normale munisipale bestuur te wees, nie iets wat net voor ‘n verkiesing sigbaar raak nie,” sê Van Zyl.

TLU SA meen dat volhoubare dienslewering nie net van begrotingstoekennings afhanklik is nie, maar ook van die kundigheid en bestuursvermoë om projekte behoorlik te beplan en uit te voer. Die blote beskikbaarheid van geld waarborg nie goeie resultate nie. Departemente en munisipaliteite moet oor die nodige vermoë beskik om fondse verantwoordelik aan te wend en die uitkomste daarvan te meet.

Die organisasie doen ‘n beroep op die regering om die MTBPS te benut as ‘n geleentheid om bestaande programme krities te herevalueer, fondse waar nodig te herprioritiseer en groter klem te plaas op deursigtige verslagdoening, meetbare uitkomste en ‘n bestedingspatroon wat volhoubare ekonomiese groei ondersteun.

“Die land se hulpbronne is beperk. Daarom moet elke bestedingsbesluit beoordeel word aan die hand van die waarde wat dit vir Suid-Afrika skep. Die belastingbetaler behoort nie net te weet hoeveel geld bestee is nie, maar ook wat daarmee bereik is. Ons moet seker maak dat beskikbare fondse reg bestuur en aangewend word, sodat dit werklik tot voordeel van die land se inwoners en die ekonomie strek,” sluit Van Zyl af.

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA vra vir mediumtermynbegroting wat wys wat met belastingbetalers se geld gebeur