James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Mediumtermynbegroting bevestig TLU SA se kommer: Staatsbesteding moet resultate lewer, nie bloot beloftes nie

Die 2026-Mediumtermynbegroting bevestig ’n kommer wat TLU SA reeds herhaaldelik uitgespreek het: Die regering bestee steeds enorme bedrae belastingbetalersgeld sonder om deurgaans die beoogde resultate te bereik.

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het vandag erken dat, ondanks die R887 miljard wat tussen 2017/18 en 2023/24 deur middel van voorwaardelike infrastruktuurtoelaes oorgedra is, projekte dikwels vertraag is, onvoltooid gelaat is of nie die beoogde voordele gelewer het nie. Hierdie erkenning laat ernstige vrae ontstaan oor die doeltreffendheid van staatsbesteding en die aanspreeklikheid van diegene wat verantwoordelik is vir die bestuur van openbare fondse. “Ons vra al jare lank wat werklik van belastingbetalers se geld word. Die minister erken nou self dat enorme bedrae aan infrastruktuur bestee is sonder dat die beoogde resultate bereik is. Die vraag is waarom dit toegelaat is om voort te duur en watter gevolge dit vir die verantwoordelike persone gaan inhou,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

Hoewel die minister verbeterings in fiskale stabiliteit aangekondig het, waaronder ’n geprojekteerde begrotingstekort van 3,9% van die bruto binnelandse produk (BBP) vir 2026/27, bly die ekonomiese vooruitsigte kommerwekkend. Die regering het sy ekonomiese groeivooruitskatting vir 2026 afwaarts aangepas van 1,6% tot 1,2%. Volgens TLU SA is hierdie groeikoers eenvoudig onvoldoende om Suid-Afrika se werkloosheid, armoede en toenemende afhanklikheid van staatsfinansies aan te spreek. Volhoubare ekonomiese groei vereis ’n omgewing waarin ondernemings met vertroue kan belê, uitbrei en werksgeleenthede skep. Dit sluit beleidssekerheid, die beskerming van private eiendomsreg, funksionerende infrastruktuur en ’n veilige omgewing in. “Die regering kan nie voortdurend ekonomiese groei as ’n prioriteit voorhou terwyl die noodsaaklike voorwaardes vir groei steeds ontbreek nie. Entrepreneurs en boere skep ekonomiese waarde wanneer hulle winsgewend en met vertroue kan sake doen. Daardie vertroue word nie bloot deur begrotingsaankondigings geskep nie,” sê Van Zyl.

TLU SA verwelkom die minister se aankondiging van tydelike verligting op brandstofheffings, veral die verlaging van R3 per liter op diesel vanaf 4 November tot 1 Desember, waarna ’n kleiner verlaging tot 5 Januarie 2027 sal geld. Dit sal in ’n mate verligting bied aan landbouprodusente wat reeds onder aansienlike stygings in produksie- en vervoerkoste gebuk gaan. Die organisasie waarsku egter dat tydelike verligting nie kan vergoed vir jare se agteruitgang van infrastruktuur, ondoeltreffende logistieke stelsels en stygende bedryfskoste nie. Kommersiële boere is grootliks prysnemers en kan nie bloot elke bykomende koste aan verbruikers deurgee nie.

TLU SA neem ook kennis van die bykomende R1,5 miljard wat oor drie jaar vir landbouvoorligtingsbeamptes bewillig is. Die organisasie meen die waarde van hierdie besteding moet gemeet word aan die werklike ondersteuning wat produsente ontvang. Die begrotingsrede maak egter nie melding van spesifieke nuwe toekennings vir kritieke uitdagings soos die bekamping van bek-en-klouseer of landelike veiligheid nie.

Net so moet die bykomende R810 miljoen wat vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se voertuigvloot aangekondig is, beoordeel word aan die hand van werklike verbeterings in operasionele polisiëring, insluitend die beskerming van boerderygemeenskappe.

Wat veral kommer wek, is die aankondiging van ’n bykomende R21,8 miljard vir plaaslike regering om die stygende koste van basiese dienste te dek. Die minister het self erken dat talle munisipaliteite buitensporige bedryfskoste het, met die gevolg dat onvoldoende fondse vir infrastruktuurontwikkeling en -instandhouding beskikbaar is. “Meer geld gaan nie ’n bestuursprobleem oplos nie. As munisipaliteite nie paaie kan onderhou, betroubare water- en elektrisiteitsvoorsiening kan verseker of hul bestaande hulpbronne behoorlik kan bestuur nie, gaan bykomende befondsing min beteken tensy die onderliggende probleme reggestel word. Boere en ander ondernemings betaal reeds die prys vir hierdie mislukkings,” sê Van Zyl.

TLU SA neem kennis van die voorgestelde hervormings aan wetgewing oor openbare en munisipale finansiële bestuur, asook die identifisering van ’n verdere R38,1 miljard se moontlike besparings deur doeltreffender besteding en die bekamping van bedrog en vermorsing. Hierdie stappe is noodsaaklik, maar die sukses daarvan sal uiteindelik afhang van daadwerklike uitvoering en die aanspreeklikheid van diegene wat hulle aan finansiële wangedrag skuldig maak. Die organisasie doen ’n beroep op die regering om deursigtige en meetbare verslagdoening oor staatsbefondsde projekte te verseker. Dit moet onder meer aandui of projekte voltooi is, of verkrygingsprosesse wettig en mededingend was en of die beoogde ekonomiese en maatskaplike voordele wel bereik is. Waar besteding nie die verlangde resultate opgelewer het nie, moet die redes ondersoek en regstellende stappe gedoen word. “Die minister het erken dat die regering nie bloot meer geld moet bestee nie, maar dit beter moet aanwend. Ons stem saam. Die erkenning van die probleem is egter slegs die begin. Belastingbetalers het bewyse nodig dat hul geld verantwoordelik bestuur word, dat kundige mense die besluite neem en dat diegene wat openbare fondse verkwis, tot verantwoording geroep word.”

Van Zyl beklemtoon ten slotte dat Suid-Afrika dit nie langer kan bekostig om die regering se prestasie bloot aan die omvang van begrotingstoekennings te meet nie. “Elke rand wat bestee word, moet bydra tot ’n funksionerende land en ’n groeiende ekonomie. Landbou het betroubare infrastruktuur, veiligheid en ’n ekonomiese omgewing nodig waarin produsente winsgewend kan bly. Die sukses van hierdie begroting sal uiteindelik nie bepaal word deur wat vandag aangekondig is nie, maar deur wat werklik op grondvlak verander.”

Kategorie:

Deel dit:

Mediumtermynbegroting bevestig TLU SA se kommer: Staatsbesteding moet resultate lewer, nie bloot beloftes nie