James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA steun Graan SA se regstappe oor JSE se sojaboonprysbepaling

TLU SA steun Graan SA se regstappe teen die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) se besluit om terug te keer na ’n enkele verwysingspunt vir die berekening van liggingsdifferensiale op sojaboontermynkontrakte.

Graan SA het op 16 Oktober 2026 ’n aansoek om hersiening by die Gautengse Afdeling van die Hooggeregshof in Johannesburg ingedien. Die aansoek betwis die JSE se besluit van 20 Julie 2026. TLU SA is as respondent genoem weens sy steun vir die voortsetting van die veelvuldige verwysingspuntmodel.

Volgens TLU SA is hierdie nie bloot ’n tegniese handelsaangeleentheid nie. Liggingsdifferensiale beïnvloed die uiteindelike prys wat produsente vir hul graan ontvang en kan gevolglik hul winsgewendheid en die volhoubaarheid van hul boerderye raak.

“Die produsent dra die produksierisiko en moet weet dat prysbepalingsmeganismes billik, deursigtig en prakties toepaslik is. Besluite wat produsente se inkomste beïnvloed, kan nie sonder behoorlike oorweging van die werklikhede op grondvlak geneem word nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

TLU SA is veral bekommerd dat liggingsdifferensiale nie altyd die werklike logistieke omstandighede voldoende weerspieël nie. Waar produsente self graan na kopers se verwerkingsaanlegte vervoer, moet die grondslag vir enige vervoerverwante prysaanpassings duidelik en regverdig wees.

Die organisasie beklemtoon ook dat produsente en hul verteenwoordigende organisasies betekenisvol betrek moet word by besluite oor markmeganismes wat hul bemarkingsmoontlikhede en inkomste direk raak.

TLU SA doen ’n beroep op die JSE om sy besluitnemingsproses deursigtig te maak, die praktiese gevolge vir produsente behoorlik te oorweeg en met georganiseerde landbou oor oplossings te beraadslaag.

“’n Volhoubare graanbedryf vereis ’n markstelsel wat nie net tegnies funksioneer nie, maar ook die belange van produsente beskerm. Die mense wat die graan produseer en die risiko dra, moet ’n betekenisvolle stem hê in besluite wat hul ondernemings raak,” sluit Van Zyl af.

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA steun Graan SA se regstappe oor JSE se sojaboonprysbepaling