Plaas info@emails.tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
Mei 2026

Sinisme en negatiwiteit het ’n ander kant

Dit is maklik om vandag negatief te wees oor die werklikhede waarmee boere daagliks gekonfronteer word. Elke boer ervaar die omstandighede baie intens en daar is vandag, in ’n meerdere of mindere mate, min vertakkings in die landbou waarbinne daar nog ’n gemaksone bestaan.

In sekere dele van die land het uiterste weersomstandighede ’n ernstige ingreep gemaak op boere se vermoë om hul produkte te stroop of te oes, en selfs om dit by markte uit te kry. Die lys van uitdagings wat ’n boer moet aanspreek, is omvangryk en strek van veiligheid, insetkoste, markpryse en infrastruktuur tot bek-en-klouseer, ander siektes en ’n onsekere beleidsomgewing.

Die werklikheid is dat elke boer ’n besigheidsentiteit in eie reg is en uiteindelik deur die markkragbeginsel getoets word vir volhoubaarheid, met ander woorde of die eenheid winsgewend is. Indien daar nie meer oplossingsgerig gekyk word na hoe hierdie aspekte aangespreek en hanteer kan word nie, kan sinisme en negatiwiteit maklik die oorhand kry.

Die voorreg om te kan boer is egter alleen reeds voldoende rede waarom ons, ongeag die werklikhede, steeds positief na oplossings moet bly soek. Kontantvloei gaan in baie gevalle vir boere die groter uitdaging word. Elke plaas is in sy eie realiteite vasgevang en daarom is daar nie een stel antwoorde wat vir almal van toepassing kan wees nie.

Boere kan onder meer die volgende vir die komende seisoen oorweeg:

  • Om moontlik slegs die hoëpotensiaal-lande te plant, met baie akkurate berekeninge van kunsmistoediening wat op optimale opbrengs fokus, met ander woorde waar die winsgrens die beste gaan wees;
  • Om vroegtydig met finansiële instellings te praat oor kontantvloei en finansiering vir die tyd wat voorlê;
  • Om kostes deeglik te ontleed en na die beste vermoë te bestuur;
  • Om te ondersoek of ’n addisionele inkomstestroom geskep kan word, moontlik saam met ander boere, deur direkte markte vir groente, vleis en soortgelyke produkte binne gemeenskappe te vestig. Plaastoerisme is ook, afhangend van die omstandighede, iets wat ondersoek kan word. Kinders uit die stede kan byvoorbeeld vir ’n naweek plaas toe kom waar hulle prakties kan ervaar hoe ’n skaap geskeer word, hoe ’n vag op die sorteertafel geklas word, ensovoorts. Elke plaas het ’n produk of ervaring wat vir die jeug konteks oor landbou kan gee. Voëljag, visvang of fotografiegeleenthede kan alles ’n bydrae lewer om kontantvloei aan te vul;
  • Die moontlikheid om sekere aspekte van die boerdery kollektief saam met mede-boere aan te pak, kan ook kostes op ’n ander manier help verdiskonteer en behoort ondersoek te word.

Dit is ’n gegewe dat daar tans met baie skerp potlode vir die toekoms beplan moet word.

Boeregroete
Bennie van Zyl
Hoofbestuurder, TLU SA

Gesprekke met die kerke

Die gebruik om vanuit ons geloofsbegronding jaarliks met kerke van reformatoriese grondslag in gesprek te tree, is tans weer aan die gang. Tydens hierdie gesprekke word ’n oorsig gegee oor die huidige omstandighede in die landbou, waarna daar vanjaar spesifiek op vier belangrike versoeke aan die onderskeie denominasies gefokus word.

Die eerste versoek handel oor die toenemende aanslag op die kerk vanuit verskeie oorde. Dit wek groot kommer wanneer die staat homself die reg aanmatig om die kerk, waarvan Jesus Christus die Hoof is, te probeer reguleer en beheer. TLU SA se versoek is dat die kerk homself sterker oor hierdie aspek moet uitspreek. Die kerk behoort leiding te neem om die Skriftuurlike taak en koers van die kerk teenoor die staat duidelik te definieer, soos uiteengesit in die onderskeie belydenisskrifte. God Drie-enig was, is en sal steeds in beheer van die wêreld in sy volheid bly, ook oor die owerhede wat deur Hom daargestel is. Die kerk se vermanende stem behoort daarom sterker gehoor te word.

Tweedens bly die krag van gebed ons belangrikste wapen en groot dank word uitgespreek teenoor die kerk wat hierin ’n belangrike rol speel. Die versoek bly egter dat daar in alle opregtheid en afhanklikheid volhardend gebid sal word. Ons besef dat ons as instrumente in God se hande wel ’n verskil kan maak, maar dat dit uiteindelik God is wat oor alles beskik. Daarom behoort daar veral gebid te word vir wysheid om besluite met die regte motiewe en die regte einddoel te neem.

Derdens het gemeenskappe in die platteland ’n groot behoefte om te behoort en vervul die kerk in dié verband ’n baie belangrike rol as nodale punt binne die gemeenskap. Die uitreik na verskillende rolspelers bly van groot belang en die versoek is opnuut dat die kerk sy rol sal speel om die gemeenskap van gelowiges saam te bind. Die kerk se rol en taak moet sigbaar wees en gehoor word.

Laastens word daar kommer uitgespreek oor die toenemende aanslag op die individu en identiteit in al sy fasette. Die verankering van veral die jeug word ernstig aangetas en daarom word die kerk versoek om ouers voortdurend te herinner aan hul doopbelofte. Dit bly sekerlik een van die grootste en belangrikste take wat ’n ouer op aarde ontvang het.


Beplanning vir die toekoms

Dat ons vandag in ’n deurmekaar wêreld leef, is ’n gegewe. Internasionale gebeure speel hard in op die wêreld se ekonomieë en vir ons as landbouers het die dramatiese styging in insetkoste ’n reuse-impak op winsgewendheid. Dit is makliker gesê as gedaan, maar dit is juis in tye soos hierdie waar baie skerp beplanning oor uitgawes en insetkoste gedoen moet word.

Vir graanboere kan dit beteken dat daar deeglik besin moet word oor hoeveel in die volgende plantseisoen geplant behoort te word. Marginale lande mag moontlik oorstaanlande word. Grondontledings bly noodsaaklik om onnodige oorbemesting te voorkom, met die wet van dalende meeropbrengs in gedagte. Die fokus moet nie net wees om tonnemates na te jaag nie, maar eerder om te bepaal waar die beste winsmarges lê.

Die hantering van bek-en-klouseer bring met reg groot frustrasies na vore. Nadat die Industriekoördineringsraad (ICC) sedert Januarie gepoog het om die Ministeriële Taakspan (MTT), die ICC en die Departement in een vergadering byeen te bring, het dit uiteindelik op 6 Mei plaasgevind. Dit word tans beleef dat daar wel gewerk word aan ’n Seksie 9-dokument waarin onder meer bewegingsbeheer en kwarantyn met rasionele voorstelle vervat sal word.

Suid-Afrika het die afgelope tyd ook redelik gebuk gegaan onder uiterste weerpatrone. Hoewel dit in elke streek verskillend ervaar is, is dit ’n werklikheid dat groot ingrepe op boerderyprosesse plaasgevind het en steeds plaasvind. In baie gevalle is infrastruktuur ernstig beskadig en soos dinge tans staan, gaan dit vir heelwat boere bykans onmoontlik wees om hul produkte by markte uit te kry.

TLU SA het reeds met die nasionale regering hieroor in verbinding getree en wag tans op terugvoering.


Gesindheid bepaal die koers

Die afgelope tyd was die Phala Phala-gebeure weer sterk in die nuus. Die begrip integriteit kom dadelik na vore. In enige land waar integriteit by leiers ernstig opgeneem word, sou sodanige situasie nie steeds so lank onafgehandel gewees het nie. Dit sê baie van diegene in die Parlement wat van mening is dat sodanige ondersoeke bloot onder die tafel ingevee moet word.

Die waardes en etiek wat tans in Suid-Afrika ervaar word, laat veel te wense oor. Ons moet egter waak daarteen dat sulke optrede deel van ons eie mondering word. Dit mag nooit die norm word waaraan ons as organisasie gemeet word nie. Die kollektiewe optrede van ons lede en die wyse waarop standpunt ingeneem word, straal ons karakter na buite uit.

Mag ons in al ons besluite en kommunikasie die morele hoëgrond behou. Dit is maklik om teen iets te wees en af te breek sonder om iets konstruktief en positief as alternatief voor te stel. Die uitdaging vandag is om met die regte ingesteldheid vir iets te wees.

Deur ons strukture positief te benut, en gegewe die werklikhede wat ons tans beleef met ’n totaal ander ideologiese aanslag as wat ons weet welvaart kan skep, bly die uitdaging groot. Ons kan slegs in belang van elke boer ’n verskil maak indien ons met die regte ingesteldheid positief vir die toekoms werk.

Nuus uit Hoofkantoor

NAMPO 2026 wys weer die waarde van persoonlike skakeling

NAMPO 2026 by NAMPO Park buite Bothaville is, ten spyte van verskeie uitdagings, nou agter die rug. Vanjaar se toestande was egter allesbehalwe normaal. Swaar reën het veroorsaak dat alle grondpaaie wat na NAMPO Park lei, ontoeganklik geraak het en verkeer noodgedwonge na die teerpaaie herlei moes word. Dit het tot groot verkeersopeenhopings en lang wagtye gelei.

Vir TLU SA, wat weer ons stalletjie in die NAMPO-saal gehad het, was die modder en water op sommige buitelug-staanplekke gelukkig nie ’n groot faktor nie. Wat egter duidelik na vore gekom het, was die waarde van persoonlike skakeling met boere, rolspelers en besoekers uit die breër landbougemeenskap.

Hierdie jaar se NAMPO was vir TLU SA sekerlik een van die beste sedert ons daar ’n stalletjie het. Die gesprekke met besoekers, organisasies en ander rolspelers was besonder dinamies en van ’n hoë gehalte. Dit was veral opvallend hoeveel mense moeite gedoen het om doelbewus by TLU SA se stalletjie aan te doen om hul waardering uit te spreek vir die organisasie se standpunte en openbare optrede.

Die terugvoer wat daagliks ontvang is, ook van mense wat nie noodwendig lede van TLU SA is nie, was besonder bemoedigend. Besoekers het groot waardering uitgespreek vir die wyse waarop TLU SA standpunt inneem oor sake wat landbou en die breër ekonomiese werklikheid raak. Daar was ook waardering vir die inhoud, diepte en konsekwentheid van TLU SA se boodskap.

NAMPO bly een van die belangrikste platforms waar produsente, organisasies en besighede direk met mekaar kan skakel. Vir TLU SA bevestig vanjaar se ervaring weer die belangrikheid daarvan om sigbaar, toeganklik en standvastig teenwoordig te wees binne die landbougemeenskap.

Dit is uiteindelik ook ’n pluimpie vir elke lid wat TLU SA se strukture benut en sodoende help om ’n sterk, geloofwaardige stem vir kommersiële landbou in Suid-Afrika te bou.


Interaksie met Presidensie

Na aanleiding van ’n skrywe wat TLU SA aan die Presidensie gestuur het oor die gevolge van die huidige beleidsomgewing wat uiters negatief inspeel op Suid-Afrika se inwoners, en veral op die ekonomie, het ons ’n uitnodiging ontvang om met hulle daaroor in gesprek te tree. Die gesprek het op 22 Mei by die Uniegebou plaasgevind.

Dit was ’n konstruktiewe en omvangryke gesprek waartydens TLU SA se ekonomiese standpunte sterk beklemtoon is as die basis waarop die ekonomie weer kan groei. Die problematiek rondom rasgebaseerde benaderings wat in ’n transformasie-agenda verpak word, die onsekerheid wat vir potensiële beleggers geskep word, asook die dilemma van ’n groot deel van die bevolking wat ’n opeis-kultuur handhaaf, is onder meer toegelig.

Verder is die problematiek rondom infrastruktuur, veral die hoë koste van elektrisiteit, uitgelig. Daar is ooreengekom dat verdere gesprekke moet plaasvind waar TLU SA ook die geleentheid sal hê om die grootste knelpunte vir boere verder toe te lig.


Wenner van TLU SA se NAMPO Sonneblomsade-raaikompetisie 2026

Tydens hierdie jaar se NAMPO Oesweek, wat vanaf 12 tot 15 Mei 2026 by NAMPO Park buite Bothaville aangebied is, het TLU SA oudergewoonte weer ’n stalletjie in die NAMPO-saal gehad.

Jonk en oud het kom inloer en bestaande sowel as voornemende lede het kom gesels oor landbou in Suid-Afrika en dit wat TLU SA doen om kommersiële boere veilig en volhoubaar op hul grond te help hou.
TLU SA het weer sy gewilde raaikompetisie aangebied, waar besoekers tydens NAMPO 2026 moes raai hoeveel pitte of sade in ’n houer was.

Volgens Shaun Heunis, Senior Assistent: Beleidsake by TLU SA, was daar goeie deelname deur besoekers aan die stalletjie en het daar veral groot opgewondenheid rondom die kompetisie geheers. “In 2025 moes besoekers raai hoeveel mieliepitte in ’n houer was, en aangesien die kompetisie so gewild was, het ons besluit om dit weer te doen, hierdie keer met sonneblomsade,” het Heunis gesê.

Raaiskote het gewissel tussen 2 750 en 120 000 000, maar dit was Lize Kruger, ’n tweedejaar-BSc-Voedselwetenskappe-student aan die Universiteit van Pretoria, wat die naaste aan die werklike getal van 23 126 gekom het met haar raaiskoot van 23 175.

Sy wen ’n TP-Link TAPO C400-sonkrag-aangedrewe sekuriteitskamerastel, met trots geborg deur Mayanga Connect.

TLU SA wil sy dank uitspreek teenoor elke lid en besoeker wat ingeskryf en kom kuier het tydens NAMPO 2026.
Ons hoop om julle weer volgende jaar te verwelkom.

 

Wat is Firearms Guardian?

Firearms Guardian is baanbreker regs- en aanspreeklikheidsbeskerming-versekeringspakket vir wettige vuurwapeneienaars. Firearms Guardian is korttermynversekeringspolis wat aan vuurwapeneienaars gespesialiseerde dekking ten opsigte van regskostes en aanspreeklikheid bied wat uit die eienaarskap, gebruik en besit van hul vuurwapens mag voortspruit.

Lees meer hier.


Skildpaddop 2026

Skildpaddop 2026 is om die draai en inskrywings sluit oor slegs vyf weke. Jongmense wat belangstel om deel te wees van hierdie unieke ervaring word aangemoedig om betyds navraag te doen en in te skryf. Vir meer inligting stuur ’n e-pos na schildpaddop@gmail.com.


Hemelvaart en die petisie

Vir Christene is die tydperk rondom die kruisiging, opstanding en hemelvaart van Jesus Christus ’n besondere tyd, waarna ook die uitstorting van die Heilige Gees plaasvind. Dit is ’n tyd waarin die almag en grootheid van die Drie-enige God op ’n besondere wyse sigbaar word.

Vandag ontvang Hemelvaart egter nie meer die nodige erkenning op Suid-Afrika se kalender nie en gaan dit vir baie mense verby as bloot nog ’n gewone werksdag. Lig in Duisternis Uitgewers het daarom die inisiatief geneem om te vra dat Hemelvaart weer sy regmatige plek op die kalender moet terugkry.

TLU SA ondersteun hierdie aksie en lede wat dit wil ondersteun, word aangemoedig om die petisie te onderteken.


Goliat van Gat 2027

Die gewilde Goliat van Gat-pampoenkompetisie groei steeds en pampoenpitte vir die 2027-seisoen is nou beskikbaar. Belangstellendes kan kies tussen Dill Atlantic-, Skorsie- en wenpampoenpitte van die indrukwekkende 653 kg-pampoen.

Die kompetisie vind plaas op 13 Maart 2027 by Lavender Kontrei Mark en word aangebied deur Cullinan Boere-unie TLU SA. Vir navrae of bestellings kan belangstellendes Culliboer kontak by 082 552 9428 of per e-pos by culliboer@gmail.com.


Geleentheid vir TLU SA-lede om teen verlaagde tariewe in Agri News te adverteer

TLU SA-lede kry nou die geleentheid om teen verlaagde tariewe in die gewilde landboupublikasie, Agri News, te adverteer. Hierdie geleentheid kan veral waardevol wees vir lede wat landboutoerusting vervaardig, produkte versprei of dienste aan die landboubedryf lewer.

Agri News is ’n maandelikse druk- en digitale publikasie met ’n verspreiding van 10 000 eksemplare per maand en bereik produsente en rolspelers regoor Suid-Afrika. Die publikasie fokus op positiewe stories, innovasie en ontwikkeling binne die landboubedryf.

Die publikasie word versprei in verskeie gebiede, insluitend Pretoria, Potchefstroom, Bothaville, Ermelo, Groblersdal, Rustenburg, Nelspruit, Hoedspruit en talle ander.

Beskikbare advertensieformate sluit onder andere volblad-, halfblad- en kwartblad-advertensies in.
Lede wat belangstel om van hierdie geleentheid gebruik te maak, kan navraag doen by Agri News (info@agrinews.co.za) vir meer besonderhede.


Watergebruikers moet voor 24 Julie registreer

Die Departement van Water en Sanitasie het aangekondig dat ’n vergunningstydperk van 90 dae toegestaan word vir waterverbruikers om as sodanig te registreer of hul besonderhede op datum te bring.

Die tydperk verstryk op 24 Julie. Versuim om hieraan te voldoen, kan gebruikers blootstel aan vervolging en moontlike strawwe.

Volgens die Departement sal die proses ook help om waterinfrastruktuur en watergebruik meer doeltreffend te bestuur en te administreer.

Hierdie registrasieproses is gratis. Klik hier vir meer inligting.

 

Jongboer van die Jaar | Laaste kans vir jongboere om in te skryf

TLU SA rig ernstige beroep aan president en minister oor beleidsrigting

TLU SA steun regsfirmas se hofaksie teen SEB-sektorkodes

Van krisis na keerpunt: Hoe nou met diergesondheid?

Jongboerkonferensie 2026