|
Nuus uit Hoofkantoor
NAMPO 2026 wys weer die waarde van persoonlike skakeling
NAMPO 2026 by NAMPO Park buite Bothaville is, ten spyte van verskeie uitdagings, nou agter die rug. Vanjaar se toestande was egter allesbehalwe normaal. Swaar reën het veroorsaak dat alle grondpaaie wat na NAMPO Park lei, ontoeganklik geraak het en verkeer noodgedwonge na die teerpaaie herlei moes word. Dit het tot groot verkeersopeenhopings en lang wagtye gelei.
Vir TLU SA, wat weer ons stalletjie in die NAMPO-saal gehad het, was die modder en water op sommige buitelug-staanplekke gelukkig nie ’n groot faktor nie. Wat egter duidelik na vore gekom het, was die waarde van persoonlike skakeling met boere, rolspelers en besoekers uit die breër landbougemeenskap.
Hierdie jaar se NAMPO was vir TLU SA sekerlik een van die beste sedert ons daar ’n stalletjie het. Die gesprekke met besoekers, organisasies en ander rolspelers was besonder dinamies en van ’n hoë gehalte. Dit was veral opvallend hoeveel mense moeite gedoen het om doelbewus by TLU SA se stalletjie aan te doen om hul waardering uit te spreek vir die organisasie se standpunte en openbare optrede.
Die terugvoer wat daagliks ontvang is, ook van mense wat nie noodwendig lede van TLU SA is nie, was besonder bemoedigend. Besoekers het groot waardering uitgespreek vir die wyse waarop TLU SA standpunt inneem oor sake wat landbou en die breër ekonomiese werklikheid raak. Daar was ook waardering vir die inhoud, diepte en konsekwentheid van TLU SA se boodskap.
NAMPO bly een van die belangrikste platforms waar produsente, organisasies en besighede direk met mekaar kan skakel. Vir TLU SA bevestig vanjaar se ervaring weer die belangrikheid daarvan om sigbaar, toeganklik en standvastig teenwoordig te wees binne die landbougemeenskap.
Dit is uiteindelik ook ’n pluimpie vir elke lid wat TLU SA se strukture benut en sodoende help om ’n sterk, geloofwaardige stem vir kommersiële landbou in Suid-Afrika te bou.
Interaksie met Presidensie
Na aanleiding van ’n skrywe wat TLU SA aan die Presidensie gestuur het oor die gevolge van die huidige beleidsomgewing wat uiters negatief inspeel op Suid-Afrika se inwoners, en veral op die ekonomie, het ons ’n uitnodiging ontvang om met hulle daaroor in gesprek te tree. Die gesprek het op 22 Mei by die Uniegebou plaasgevind.
Dit was ’n konstruktiewe en omvangryke gesprek waartydens TLU SA se ekonomiese standpunte sterk beklemtoon is as die basis waarop die ekonomie weer kan groei. Die problematiek rondom rasgebaseerde benaderings wat in ’n transformasie-agenda verpak word, die onsekerheid wat vir potensiële beleggers geskep word, asook die dilemma van ’n groot deel van die bevolking wat ’n opeis-kultuur handhaaf, is onder meer toegelig.
Verder is die problematiek rondom infrastruktuur, veral die hoë koste van elektrisiteit, uitgelig. Daar is ooreengekom dat verdere gesprekke moet plaasvind waar TLU SA ook die geleentheid sal hê om die grootste knelpunte vir boere verder toe te lig.
Wenner van TLU SA se NAMPO Sonneblomsade-raaikompetisie 2026
Tydens hierdie jaar se NAMPO Oesweek, wat vanaf 12 tot 15 Mei 2026 by NAMPO Park buite Bothaville aangebied is, het TLU SA oudergewoonte weer ’n stalletjie in die NAMPO-saal gehad.
Jonk en oud het kom inloer en bestaande sowel as voornemende lede het kom gesels oor landbou in Suid-Afrika en dit wat TLU SA doen om kommersiële boere veilig en volhoubaar op hul grond te help hou.
TLU SA het weer sy gewilde raaikompetisie aangebied, waar besoekers tydens NAMPO 2026 moes raai hoeveel pitte of sade in ’n houer was.
Volgens Shaun Heunis, Senior Assistent: Beleidsake by TLU SA, was daar goeie deelname deur besoekers aan die stalletjie en het daar veral groot opgewondenheid rondom die kompetisie geheers. “In 2025 moes besoekers raai hoeveel mieliepitte in ’n houer was, en aangesien die kompetisie so gewild was, het ons besluit om dit weer te doen, hierdie keer met sonneblomsade,” het Heunis gesê.
Raaiskote het gewissel tussen 2 750 en 120 000 000, maar dit was Lize Kruger, ’n tweedejaar-BSc-Voedselwetenskappe-student aan die Universiteit van Pretoria, wat die naaste aan die werklike getal van 23 126 gekom het met haar raaiskoot van 23 175.
Sy wen ’n TP-Link TAPO C400-sonkrag-aangedrewe sekuriteitskamerastel, met trots geborg deur Mayanga Connect.
TLU SA wil sy dank uitspreek teenoor elke lid en besoeker wat ingeskryf en kom kuier het tydens NAMPO 2026.
Ons hoop om julle weer volgende jaar te verwelkom.
 |